Marius Broodryk
MPUMALANGA – Twee taxibestuurders, ‘n bakkiebestuurder plus agt-en-dertig (38) ongedokumenteerde Mosambiekse passasiers tussen die ouderdomme van 17 en 40, sal na verwagting vandag voor die Barberton-landdroshof verskyn. Hulle is Vrydag by Kaapmuiden gearresteer.
Die arrestasie volg nadat inligting van misdaadintelligensie ontvang is oor die twee taxi’s wat ongedokumenteerde mense van Mosambiek na Johannesburg vervoer het. Kaapmuiden SAPD, Plaaslike Kriminele Rekord Sentrum en Grenspolisie, het die inligting opgevolg.
Die taxi’s is opgemerk, gestop en deursoek by N4 langs Kaapmuiden Mpumalanga. Tydens die soektog is altesaam 16 vroue met 10 kleuters, asook vier tienermeisies en 15 mans wat gereis het sonder behoorlike dokumentasie gevind.
Die verdagtes is onderskeidelik aangekla en aangehou op aantygings van ontvoering, hulpverlening, bystand en oortreding van die Immigrasiewet. Die Nelspruit-gebaseerde Valke se ondersoek na ernstige georganiseerde misdaad is ingelig, na die misdaadtoneel ontplooi en die saakdossier is aan hulle oorhandig vir verdere ondersoek.