Varkboer se Moses – Deur Sonja Brown
Toe die eerste klomp varke daai dag afgelaai is toe weet ek hier kom moeilikgeit. Nie een van ons Draghoender-geslag het iets geweet van varkboerdery nie, maar ek kon dit nie vir die boer gesê het nie. My job was op die line.
Van ‘n skaap of ‘n bees of ‘n hoenner kon jy my niks leer nie. “Moenie worry nie, Sakkie, ons het mos ‘n manual,” het my vrou Sylvia gesê. Famous laas words… Die blienkieng boek is mos toe nou in Ingels. Ek konnit nie kleinkry nie want die skrywer is ‘n Dokter van Niekerk. En allie boere hier rond is Afferkaans. Vir wat nou die rooi taal?
Dit was ôk nie een size varke wat vandag afgelaai is nie. Daar was speenvarke, middelslag bere en sôe, twaalf dragtige volwasse sôe en ‘n ma van ‘n beer. En so verwag die boer van die intrapslag van my om die diere te sort in die drie lang varkhokke wat ons het. Ek sê toe vir die drywer ek moet nou gaan pie, hy moet solank die hokke uitcheck en vir die anner sê wat gaan waar. Na ek so dertig getel het (op my ouderdom gaan dit maar hakkel-hakkel in die toilet), en by die tyd lat ek terug gekom het, is daar toe ‘n bietjie van alles in die hokke afgelaai. Ek kan vooruit dink, hê?
Wat ek toe uit die manual kon agterkom is lat een beer per sestien sôe nodig is. Lucky bôgger! Saans as die anner familie Sewende Laan gekyk het, het ek met ‘n geleende Reader’s Digest Tweetalige Woordeboek gesit.
My bek het oopgehang toe ek by die stuk kom van ‘heat detection’. Ek dog dis iets met die ligte en heaters te doen vir die winter. Toe nou nie. As ek dit reg verstaan, dan moet ek elke dag verby die klomp sôe loop met die een beer. Nee donner man, daai beer byt my in een hap morsdood!
Gelukkig was daar ‘n stuk oor artiefiesjil ienseminasjin. Al wat ons nodig gehad het was ‘n fridge. Ek kon toe nog nie verstaan hoe ‘n yskas die sôe sou bevrug nie, maar toe ek verder lees sien ek dat die ‘sea-men’ daarin gebêre kon word. Hoekom sou matrose in ‘n yskas wou bly? En wat het hulle met varke se bevrugting uit te waai? Sies!
Volgens die manual het ek eers verstaan mens sou kon sien of die sôe reg was om te vat as mens neus tot neus met hulle staan. Die dokter innie dorp was nie impressed toe ek sewe en twintig steke in my gesig moes kry en ek sê hom hoe ek die skeure opgedoen het nie. Hy het iets van ‘beestie-ality’ gepraat. Dalk is dit ‘n siekte wat varke se bytplekke jou gee, of dalk beteken dit die steke moet dadelik in, want die dokter het nie eers my gesig doodgespuit nie. Die steke sommer so lewendig ingesit. Ek wou dood. Die vuur-gevoel in my gesig was intensief. Ek kon voel hoe die sweet my aftap!
As dit nie vir my neef Dawid van Cradock was nie, sou ek nou nog nie van vark-bevrugting geweet het nie. Well, ek weet nog nie hoe dit werk nie, want hy kom so asof gestuur hiernatoe, en dan as hy klaar ‘n bottel heuningbier gesuip het, kan hy vir jou met die sôe toor, hoor. Jy moet dit sien… Hy spring agter die sôe in hulle staalhokke en gaan staan so wydsbeen oor hulle rûgge, druk hulle in die sye met sy kniekoppe, en dan lug hulle outomaties die sterte op. Dawid sal dan sê ‘sy’s reg’, of ‘sy’s noggie reg nie’ as die sterte plat bly. Ek het ok al so gesuip en dit ge-try uit-figure, maar vir my lyk alle sôe van agter af soos ‘n normale varkmeisie.
Soos die tyd aanstap is van die sôe toe gedek en toe ons ons oë uitvee begin die goed kleintjies kry. Gelukkig het ek vir Sylvia byderhand. En gelukkig het ek toe ‘n nommer van die dorp se veearts gekry. Dié vertel my toe ek daar langs vark se kind staan lat varke wragtig ongeveer dertien kleintjies op ‘n slag kry. Ek hoor toe ook lat wanneer die vark klaar gekraam het daar ‘n stuk nageboorte moet uitkom anners kan die vark vrek. Sit ons toe daar en wag vir die stuk onbekende wat nou moet tevoorskyn kom, en toe daar na vier ure nog nie ‘n teken van enige nageboorte is nie, klim ek weer op die foon. Ek bel twee keer voordat die dokter antwoord.
Sylvia moes my stut toe ek wou uitpaas. Ma-…Ma-… Nooit nie! Ek was bly toe ons nie liekwid paraffien gehad het nie, maar toe sê die dokter lat baba olie ook sal werk. So kom dit toe nou lat ek hier agter vark se kind kniel, arm tot by die kieliebak geskrop, en tot by die elmboog ge-ghries met Johnson en Johnson.
‘Jy sal voel as daar varkies is wat ‘n obstruksie veroorsaak. As daar een is moet die varkie versigtig aan die pootjies uitgetrek word. As daar geen obstruksie is nie, sal jy die nageboorte duidelik voel. Soos ‘n groot stuk sagte lewer.’ Dis wat die veearts gesê het.
Weet jy hoe dit voel as ‘n adamsappel swaar sluk? Sylvia het haar neus so opgetrek toe ek genoeg guts gehad het om my hand so te begin indruk lat al haar slegte tanne duidelik sigbaar was. My oë was bot toe en ek het gebid lat my arm by die regte gat ingedruk word. Ek onthou net hoe warm dit daar binne was. Geen obstruksie nie. Die luck was aan ons kant. Met dié lat my arm so deur die vark se goeters ingesluk was het dit veroorsaak dat sy weer druk, en kort voor lank was die helse stuk nageboorte by my bewende kniekoppe. Ek sê nou nog as ‘n ou so van naby af kennis gemaak het met ‘n vroumens, het ‘n mens shares in haar. My baas sê ek praat… Jip, daai woord.
So word tagtig varke toe binne drie maande, drie weke en drie dae ‘n hele drie dae honnerd ag en vyftig. En intussen leer ek kliphard van droë sôe, sogende sôe, suiglinge, ‘weaners’, wat toe nie daai worse is wat mens op ‘n hot dog bun sit nie, maar eintlik speenvarke is, en van groeiers. Ek leer ook wie wat moet weeg, wie wat moet vreet, en wie wat moet gespuit word. Ek leer sommer dieselle tyd wat ‘n hammermeul is want die varke se kos moet gemaak word uit mielies, tef en lusern. Dan raak hulle verstop as die hammermeul se sif te grof is, en sodoende moet hulle gaaie gekrap word. En so gaan dit aan.
Hê jy geweet lat vark-sôe ook mummies kan kraam? Die boek sê so. Wonner hoe kry die mammas die bandages oor die kleintjies voor geboorte?
Dié varkies word meer ge-spoil as regte babas. Hulle moet glad geweeg worre ôk. Moet sewe punt vyf kilogram op vier weke weeg, ensovoorts. Hulle moet in warm beddens slaap. Dertig grade vir varkies tot en met vier weke! Soms word daar ‘n lammetjie gebore. Nee man, nie skaap se kjind nie. ‘n Lam varkie. Die agterbene willie werk nie. Dan sleep hulle hulle se self so op die sterre rond om by die tiete uit te kom. Gewoonlik na so drie dae kan hulle self loop, maar meeste van die tyd skop die ma hulle uit. Sylvia laaik ma speel vir die lammetjies op haar ouderdom. ‘n Spesiale mix word gemaak van beesmelk, room, eiergeel en glucose wat die handvarkies dan uit ‘n tietiebottel suip. So met die tietiebottels moet ‘n ou ook dan nou klomp band-aids koop want die bôggertjies word met tanne gebore. Dié knip ek op drie dae af met ‘n side-cutter, maar intussen skenk jy anoniem bloed.
Ek het al ge-try oefen om die een kant van my gesig so effens te laat hang solat dit lyk of ek ‘n stroke gehad het, dan ek ek disability pension trek en aftree, maar dit voel te aardig as ek my bek so trek, en Sylvia sê ek maak die kleinkinners bang, so nou stiek ek dit maar uit en doen my ding vir volk en vaderland, voorlat die boer eerder die matrose en die fridge as plaasvervangers aanskaf.
Wat my siek maak is lat mens nou net die lot deur een siklus het van Dawid se knië drukkery tot die bloei- en speenstadium, dan begin die wrede siklus weer van voor af. Intussen bid ek kliphard lat die beer steriel raak, of lat ek somewhere die lotto slat voorlat ek myself soos ‘n vark gedra en soos ‘n sleg hond wegloop. Want dit kom, mense. Dit kom…