Sonnette Lombaard
Wanneer ons blonde ster-langasematleet Gerda Steyn Sondagoggend in Parys aantree vir die Olimpiese marathon vir vroue sal ‘n hele vasteland styf duim vashou.
Kan sy soos haar landgenoot, ons swemheldin Tatjana Smith ‘n medalje wen, sal dit gepas vanuit die Franse hoofstad ons Vrouemaandvieringe hier ongekend opkikker.
Die hele Suid-Afrika sal Sondag kyk of die 34-jarige Steyn haar droomjaar met ‘n Olimpiese medalje kan vasstrik. Boonop sal só prestasie teen die wêreld se beste langasem-vroue, Afrika en ander opkomende lande se briljante, soms verrassende vertonings by die Spele in Parys perfek afrond. Die Waarheid berig Maandag hieroor.
Steyn oefen reeds die laaste ruk in die Franse Alpe om slaggereed te wees vir die prestige marathon oor 42,2km by die 33ste Olimpiese Spele wat deur duisende toeskouers en miljoene televisiekykers gevolg gaan word. Sy het 15de daarin geëindig by die laaste Spele in Tokio in 2021, maar het sedertdien spogvertonings oraloor gelewer.
“Ek is regtig opgewonde,” het Steyn vandeesweek uit Frankryk op sosiale media aan haar ondersteuners gekommunikeer. Ons padwedloopkoningin het vanjaar die ultramarathon-rekords tuis laat spat. Sommige kenners meen egter sy moes nie voor die Olimpiese Spele die Twee Oseane-wedloop (56km) in April en toe nog die Comrades Marathon (86km) in Junie gehardloop het nie – sy het in albei rekords gebreek.
Steyn wys egter daarop dat dit juis haar plan was omdat sy 2024 rondom dit beplan het.
“Ek het drie hoofdoelwitte vanjaar: die Twee Oseane, Comrades en die Olimpiese Spele,” het sy verduidelik. Sy kon ná die eerste wedloop in die Kaap volledig herstel vir die Comrades in KwaZulu-Natal. Binne sewe weke kon sy dus die twee moordende wedlope tuis wen, en dit boonop in rekordtye.
“Daar was nie veel tyd vir vieringe ná die Comrades nie, want ek wou regtig vir myself die beste kans gee vir ‘n vinnige herstel vir die Spele. Die werk is dus nog nie klaar nie en die volgende wegspringlyn is juis nie ‘n vulletjie nie,” het sy verwysend na Sondag se marathon gesê.
Ons vinnigste vrou oor die standaardmarathon (2:24:03) het haarself die afgelope ses weke in die Franse Alpe afgesonder en geestelik geslyp vir die groot dag. Vanjaar se Olimpiese marathon in die Europese hoogsomer sal na verwagting in warm toestande oor die heuwelagtige roete geskied. Die wegsping is Sondag 08:00 in Parys.
Dis gepas dat vrouesport eindelik – 100 jaar nádat Parys die eerste keer gasheer vir die Spele in 1924 was – die kollig by die sportskouspel steel.
Vroue se skitterpretasies vanjaar in Parys is die soet sege ná ‘n lange stryd om erkenning, ook in sport. Die geskiedenis is deurspek van dapper vroue wat groot opofferinge moes maak om hul regmatige plek in sport in te neem.
Nie eens die Spele se omstrede woke-opening of die debakel rondom manlike transatlete wat onregverdig toegelaat word om teen vroue mee te ding, kan evas se kollig in Parys steel nie.
Vroulikheid seëvier in Parys met een ná die ander vrou wat trots wys waarom dit lekker is om ook te presteer wyl jy jou vroulike staal wys. Soos ons eie Tatjana wat soos in Tokio, weer huis toe kom met twee medaljes in die swembad. Op die podium was sy stralend, pure pragvrou, ook agterna toe sy daar grasieus haar uittrede aangekondig het.
In gimnastiek het die gewilde Yank Simone Biles gewys waarom sy as die beste gimnas nog beskou word. Haar 11 Olimpiese medaljes en 30 Wêreldkampioenskap-medaljes maak haar die suksesvolste gimnas in die geskiedenis. Pres. Joe Biden het reeds in 2022 die Presidensiële Medalje van Vryheid aan Biles toegeken.
Biles (27) was ná haar sukses by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro in 2016 die gunsteling om dit te herhaal in Tokio, maar moes van die afdelings uitsit oor die “twisties“, ‘n tydelike verlies van lugbewustheid tydens draai-elemente.
In Parys was sy weer in topvorm en het o.a. goud gewen in die individuele afdeling en saam met haar spanmaats in die spankompetisie. Sy is die eerste gimnas wat goue medaljes kon wen in nie opeenvolgende Speles nie – haar Parys-prestasie word beskou as een van die grootste comebacks nog.
Soos Smith, is Biles ook verlede jaar getroud: Tatjana met Joel Smith en Simone met die Amerikaanse voetbalheld Jonathan Owens. Biles sluit nie die moontlikheid uit om by die volgende Olimpiese Spele in haar tuisland in Los Angeles in 2028 weer daar te wees nie.
Op die atletiekbaan in Parys het vroue ook gewys hoe ver het evas teen die 21ste eeu op die baan en veld gekom met een ná die ander spogprestasie.
Dis veral in die paalspring, een van die mooiste sportitems met mans wat lank alleen koning gekraai het, waarin vroue ook ná dese ‘n fraaie krag is. Mans se paalspring is deel van die Olimpiese Spele sedert 1896, en vroue kon eers in 2000 die eerste keer aan Olimpiese paalspring deelneem.
Amper ‘n kwarteeu later in Parys, het die vroulike paalspringers se skittersages geensins teruggestaan vir hul manlike eweknieë nie. Nie eens die goue medalje-wenner Armand Duplantis van Swede se splinternuwe wêreldrekord van 6,25m kon die vroulike paalspringers se gees demp nie.
Die kameras het bly kliek wyl met die aantree van een ná die ander lenige paalspring-skoonheid wat miljoene verdien met hul prestasies én voorkoms. Dit was ‘n taai medaljestryd enduit. Australië se Nina Kennedy (4.90m) en Katie Moon van die VSA, wat in Tokio kampioen was, het onderskeidelik goud en silwer gewen en Alysha Newman van Kanada die bronsmedalje.
‘n Brasiliaanse tiener Rayssa Leal was nog ‘n lensgunsteling digby die Eiffeltoring. Toe dié straatskaatsplanker silwer in Tokio gewen het, was sy op 13 een van die jongste Olimpiese medaljewenners nog. Al drie vroulike straatskaatsplankryers op die podium daar was tieners, en dit was weer so in Parys.
Leal kon vandeesweek slegs brons wen, maar is nogtans haar land se jongste dubbele Olimpiese medaljewenner en skaatsplankry se eerste. Die 14-jarige Aussie Arisa Trew het gewen, wat haar ook Australië se jongste wenner van Olimpiese goud maak.