Sonnette Lombaard
“Beginnings are scary, endings are usually sad, but it’s the middle that counts the most. Try to remember that when you find yourself at a new beginning. Just give hope a chance to float up. And it will.”
Dié inleiding oor hoop se hoofrol in ons lewens kom uit die bekoorlike fliek Hope Floats (1998). Dit bly my steeds by. In dieselfde jaar het ek nog ‘n roerrolprent gesien wat kleef en wat eweneens die boodskap van hoop treffend-tydloos uitdra.
“This is a simple story; but, not an easy one to tell. Like a fable, there is sorrow and, like a fable, it is full of wonder and happiness.” Só skop die verteller die grensloosgewilde. Italiaanse fliek Life is Beautiful af, waarin hoop ook die hoofboodskap is. Dié veelbekroonde wegholtreffer se eenvoudige draaiboek wat tydens die Tweede Wêreldoorlog (WOII) se grusame Holocaust of volksmoord ontvou, het fliekgangers oorrompel.
‘n Sagsinnige Joods-Italiaanse kelner en ‘n skooljuffrou trou en kry ‘n seun te midde van die oorlogswolke. Die gesin skeur wanneer die pa en seun na ‘n Nazi-konsentrasiekamp geneem word. Vasbeslote om sy seun te beskerm teen die gruwels van hul omgewing, oortuig hy hom hulle tyd in die gewelddadige kamp is bloot ‘n speletjie. Eindelik gaan die fliek nie oor oorlog nie, maar oor die menslike gees. En oor die krag van hoop en die red van dit wat goed is uit die wrakstukke van die lewe.
Hoop is inderdaad die een ding wat die mensdom regop kry én hou. Want ons kán nie die uitdagende Aardse tog daarsonder aandurf nie. Dis veral in die swaarder, dieper en donker draaie van menswees wanneer hoop helder in visier kom.
En wie beter as die Duitse Jood Viktor Frankl om ons denke hieroor te verhelder met sy ware verhaal as Holocaust-oorlewende. Sy steeds gewilde trefferboek Man’s Search for Meaning, wat al meermale in Afrikaans vertaal is, ‘n tydlose les oor hoop
Frankl se boek het in1946 verskyn – skaars ‘n jaar ná WOII se einde. Dis gegrond op Frankl, ‘n sielkundige, se eie ervarings as ‘n gevangene in die Nazi-konsentrasiekampe. Daartydens is sy oortuigings versterk, naamlik dat elke mens se lewe sinvol kan wees deur een van drie maniere: die voltooiing van take, omgee vir ‘n ander persoon, of om betekenis te vind deur lyding met waardigheid te deurstaan.
Hy het dié basis van sy eksistensiële benadering tot sielkunde reeds voor WOII geformuleer. Sy ervarings in die konsentrasiekampe het bevestig dis slegs deur ‘n soeke na sin en doel in die lewe dat ons swaarkry en lyding kan verduur.
Een van Frankl, wat in in 1997 op 92 jaar in sy geboortestad Wenen in Oostenryk dood is, se trefaanhalings uit sy boek staaf die lewensreis is taai maar dat daai één oomblik op die spits ál die valleie daaronder oorspoel. Om dus te piek in ons lewens is nooit sonder swaar nie. maar kry ons dit reg tot daarbo, sal daai moment die tawwe reis tot daar oorskadu.
Sonder hoop bly die pieke egter ‘n onbegonne droom – Frankl getuig hoe hoop vir die toekoms die enkele belangrikste faktor was in die oorlewing van hom en sy medegevangenes in die oorlogkampe. “Die gevangene wat geloof in die toekoms – sy toekoms – verloor het, was gedoem. Hy verloor sy geestelike houvas, gaan agteruit en verval geestelik en fisies.”
Frankl, wat ook Suid-Afrika besoek het, het miljoene mense gehelp om hoop na waarde te skat nadat hy uit die kampe vrygelaat is. Hy was oortuig ons word gedryf deur ons siening van ons eie toekoms. Hoe meer positief ons daaroor dink en doen, hoe meer krag en doel sal die hede hê.
Frankl het reeds voor die oorlog die krag van hoop verstaan, maar sy hoop is getoets en gelouter in die vuur. Hy wou leef om sy familie weer te sien, en sy boek te skryf. Dít het hom sterker gemaak en in staat gestel om intense lyding te verduur.
Hoop bestaan vanaf die beskawing se begin. Van die vroegste tye het filosowe hoop bepeins. Die antieke Grieke het die woord elpis gebruik, soos in die poësie van Hesiodos. Dié Griekse epiese digter het in 700 vC, oor Pandora (die een van die berugte boks) geskryf, dat “net hoop binne haar onbreekbare huis oor was”.
Vierhonderd jaar later, was die genie Aristoteles meer analities. Hy stel dit dat “die lafaard … ‘n moedverlore persoon is; wat alles vrees. Die dapper mens, aan die ander kant het ‘n hoopvolle gesindheid.”
Nietzsche, ‘n klassikus en professor in antieke Grieks, se siening was meer somber. In sy boek Menslik, Al Te Menslik, skryf hy: “Zeus het bedoel dat die mens, ondanks die euwels wat hom druk, moet aanhou lewe en nie opgee nie – hulle moes hulself dus aanhou ellendig maak. Hiervoor het hy hoop aan die mens gegee wat in werklikheid die grootste euwel is want dit verleng die mens se beproewing”.
Hy was later meer digterlik en verklaar hoop as “die reënboog oor die waterval van die lewe, honderd keer opgeslurp deur die spuitwater”.
Onder die hoopvoller optimiste, was die Deen Søren Kierkegaard. “Om te hoop, is om op te tree asof jy die moontlikheid van iets goed afwag,” skryf hy in Die Werke van Liefde. Daarteenoor is vrees “om op te tree asof jy die moontlikheid van kwaad afwag.” As ‘n Christen was hy hoopvol deur ook die Bybel te lees, soos Paulus se woorde in die Brief aan die Romeine, dat “ons deur hoop gered word” (8:24).
Hoop is ook die kernkomponent in Filippense 3:13: “Eén ding doen ek: ek vergeet wat agter is en strek my uit na wat voor is.”
Hoewel die Marxistiese filosowe dalk nie hoop gehad op die hemel nie, het baie van hulle steeds ‘n utopiese droom van ‘n beter wêreld gekoester. Die Duitse filosoof Ernst Bloch het in die 1950s in Die Beginsels van Hoop verklaar dis eenvoudig: “Wat regtig saak maak, is om te leer hoe om te hoop”.
Die Amerikaner dr. Charles Snyder is ‘n hedendaagse kenner en navorser oor hoop. Hy meen mense met hoë hoop is buigsaam en vind veelvuldige maniere om hul doelwitte te bereik en is oop vir nuwe benaderings. Daarteenoor hou diegene met lae hoop by een benadering. By vasval, gebruik hulle ontwykende en losstaande denke pleks van probleemgerigtes. Dit hou hulle passief en hulle leer nie uit vorige ervarings nie.
Snyder glo hoop het drie komponente: doelgerigte gedagtes; strategieë om doelwitte te bereik; en om gemotiveerd moeite te doen om dit te verwesenlik.
Uit bg. blyk dit dat ons ophou om in onsself te belê en onsself te verbeter wanneer ons hoop verloor. Hoop is die geloof dat ons die toekoms beter kan maak as die hede. Anders leef ons as ‘n slagoffer van ons verlede agter toe, gestroop van lewenskrag vir die hede.
Met hoop is daar altyd ‘n uitweg en oplossing om ‘n verskil te maak. Broodnodig vir Suid-Afrikaners om te besef daar is geen hopelose situasies nie, net mense met geen hoop nie.
Ons het juis ‘n lieflike landskap kuslangs as herinnering van die uitkringende krag van hoop. Die groot Portugese ontdekkingsreisiger Bartholomew Diaz het in 1488 langs die weskus van Afrika afgeseil en die vasteland se suidpunt bereik. Hy het dit die Kaap die Goeie Hoop genoem omdat dit die hoop gebaar het van ‘n begeerde seeroete na en handelsbetrekkinge met die Verre-Ooste.
Die res is geskiedenis want 536 jaar later is ons steeds hier onder Afrika se moerson. Agtertoe kan ons nie en vrees sal ons kelder. Ons moet saam vorentoe trek, omgord met hoop. Ons moet dit net ‘n kans gee – dis goeie guns oor ons lewens en gly altyd saam!