Hamas het Yahya Sinwar aangewys as die nuwe leier van sy politieke vleuel, in die plek van Ismail Haniyeh, wat verlede week in Teheran vermoor is. Die aanstelling is Dinsdag in ‘n kort verklaring deur die Palestynse militante groep aangekondig.
Sinwar dien sedert 2017 as die groep se leier binne Gaza. Israel glo dat hy die argitek is van die inval op 7 Oktober 2023 in suidelike Israel, waarin Hamas sowat 1 200 mense doodgemaak en 250 gyselaars geneem het. Die aanval het die huidige oorlog in Gasa ontketen, waar tot dusver byna 40 000 Palestyne dood is, volgens die Hamas-beheerde ministerie van gesondheid.
Israeliese amptenare glo dat Sinwar in Hamas se netwerk van tonnels onder Gasa weggekruip het sedert die slagting wat hy na bewering 10 maande gelede georkestreer het.
Onmiddellik na die Hamas-verklaring het Israel Katz, minister van buitelandse sake, gevra dat Sinwar vermoor word.
“Die aanstelling van aarts-terroris Yahya Sinwar as die nuwe leier van Hamas, wat Ismail Haniyeh vervang, is nog ‘n dwingende rede om hom vinnig uit te skakel en hierdie gemene organisasie van die aarde af te vee,” het Katz Dinsdag op X (voorheen Twitter) geskryf.
Die aankondiging kom op ‘n tyd van verhoogde spanning, aangesien Iran en sy bondgenote met weerwraak dreig vir die moord op Haniyeh, wat hulle op Israel blameer. Die Joodse staat het nie die betrokkenheid bevestig of ontken nie.
Die eskalasie het die VSA aangespoor om ekstra magte te ontplooi om Israel te verdedig, in geval van ‘n aanval.
Vroeër vanjaar het Iran ‘n grootskaalse missiel- en hommeltuig-spervuur teen Israel geloods, as weerwraak vir die bombardement op ‘n Iranse konsulaat in Sirië. Die bombardement is afgeweer met aansienlike hulp van die VSA, die Verenigde Koninkryk en ander geallieerde magte in die streek.