Japie se geskenk deur Jason Mada
Mara is moeg vandag. Tot in haar skoene.
Sy trek die grys houtvoordeur stadig oop en dra haar koppie bitter, swart tee voorstoepie toe. Baba, haar optelkat, lê soos oudergewoonte op die ou wiegstoel se donsveer-kussinkie.
Die bont dier spin behaaglik toe sy Mara se hand onder haar maag voel.
“Tja, Baba. Jy is ook al wat ek het in hierdie wêreld wat my nie wil melk vir iets nie,” praat Mara sag met die kat wat stil in die lug hang terwyl haar mens-ma gaan sit. Mara tuur in die verte, haar hand wat die teebeker vashou bewerig. Die ander een rus saggies op die kat wat nou op haar skoot lê.
“Na al hierdie jare!” prewel sy. “Hoekom nou skielik terugkeer na Krommedam? Al is dit vir ‘n begrafnis…”
“Hei, Mara!” roep Liefie, haar buurvrou, oor die lae muurtjie. “Het jy gehoor?” Liefie klink soos ‘n man van jare se strawwe rook.
Nou kyk, Mara kan nou maak of sy nié gehoor het nie, maar die woede wat aan’t kook is onder haar boesem is stadig besig om in ‘n druk-koker-situasie te verander. Sy draai haar kop stadig na Liefie. “Ek het.” Dan kyk sy weer voor haar.
“En?” Liefie se stem klink nou amper soos dié van ‘n vrou, ‘n hele paar oktawe hoër as ‘n paar sekondes terug. “Wat gaan jy doen?”
“Net wat ek dertig jare gelede gedoen het, Liefie. Net mooi niks.” Die roosknop waarna Mara staar raak effens uit fokus en sy sluk onmiddelik die bewoë gevoel weg, nes sy al vir dertig jare doen wanneer se emosioneel wil raak oor wat gebeur het.
Liefie swaai haar dik bene een vir een oor die lae muur tussen die twee huisies en waggel na Mara se stoepie. “Ag, ou Baba bly maar ‘n mooi kat,” paai sy vir Mara.
“Tja,” sug Mara en sluk haar lou tee stadig weg terwyl Liefie geduldig wag dat sy klaar maak.
Liefie vat die leë beker uit Mara se hand en sit dit op die stoep se muurtjie neer. Sy sak kreunend op die boonste van drie trappe neer en waai ‘n lastige vlieg weg. “Is dit al so lank?” blaas sy. “Dertig jare?”
“Kan jy glo?”
Baba tik-tik met haar een swart poot teen Mara toe sy ophou om te vryf.
“Jy kan nie net niks doen nie!” Liefie se neusvleuels tril van misnoeë. “Ek sou iets doen!”
“Nou sê vir my wat moet ek doen, Liefie? Môre die begrafnis bywoon? Vir Ella ‘n skouer wees om op te leun en vir haar vertel hoe jammer ek is oor die afsterwe van mý man?” Mara se hart ruk toe sy die laaste woord sê. Japie!
Vir baie jare onderdruk Mara daardie dag se gebeure, en selfs hier waar sy vandag sit sal sy moet jok as sy sê dat sy elke liewe ding wat daai Vrydag gebeur het, kan onthou. Soms, net soms, het sy gewens dat dit ‘n nagmerrie was, maar dit was nie. Die een ding wat haar lewensgetrou tot vandag toe bygebly het, is die pynlike omklemming wat oor haar hart kom lê het as sy dit sou waag om elke nou en dan aan Japie te dink.
“Nee, jinne, ek weet nie,” sug Liefie. “Dis ‘n moeilike saak.” Sy onthou weer daardie dag toe sy die gedoente tot binne in haar pienk huisie kon hoor, en al wou sy nie inmeng nie, het nuuskierigheid haar gedwing om buite toe te loop. Buitendien, as Mara dalk sou hulp nodig hê, sou Liefie tien teen een kon help.
Japie het kop onderstebo voor hierdie einste stoeptrappies waar sy nou sit, gestaan, sy hoed in sy hande.
Ella het smalend by die klein hekkie gestaan, en wanneer Japie nie Mara se vrae kon antwoord nie, het sy soos ‘n viswyf antwoorde van ‘n veilige afstand af op die sypaadjie geskreeu. Dan het sy ook ‘n paar kere vermakerig haar hand oor haar duidelike ronde maag gevryf wetend dat Mara nooit kon kinders verwek nie.
“Ek sweer, Mara, ek kan niks onthou nie. Ella sê dat ek dronk was, en dat ons… En nou is sy…” Japie se oë was vol trane en sy skouers het gehang. “Dit is my plig…”
Mara wou hom bespring en sy wange klap totdat dit vlam gevat het, en dan wou sy sy bokkie-oë uit sy oogkaste grou en op die grond vermorsel met haar Bata tekkies. Dieselfde oë wat altyd vol liefde na haar gestaar het. Sy wou gil en ook sy hart agter sy ribbes uitruk en pynig soos wat hy op daardie oomblik met hare gedoen het. Maar sy het nie. Haar lyf was koud, haar gedagtes verward, en haar woorde gedemp.
Haar vrae aan die man wat vir vyftien jare haar alles was, was kil, saaklik. Dit was asof ‘n wese haar bewende lyf oorgeneem het, en sy wou soveel moontlik antwoorde hê voordat sy vir Japie die hek wys. Daar was nie ‘n ander opsie as om hom te laat gaan nie. “Dan groet ek maar, Japie,” was Mara se laaste hees woorde voordat sy omgedraai het en die deur saggies in sy gesig toegemaak het. Haar keel was styf getrek van hartseer, en sy sou nie vir Japie kon skreeu nie, al wou sy.
Liefie het oopmond gestaan en kyk hoe Ella die hekkie oopstoot, haar arm deur Japie s’n haak, en hom teen sy sin by die erf uit help. Japie het met elke tweede tree omgekyk. As Mara net een maal die deur oopgemaak het sou hy losgeruk het, en teruggehardloop het na die vrou wat hy met alles in hom lief het.
Liefie weet dit, want sy het nog nooit twee mense teë gekom wat so vol deernis na mekaar gekyk het nie. Hulle liefde was tasbaar, en sy was jaloers dat sy nog nooit so iets ondervind het nie.
Liefie onthou dat Mara vir drie weke nêrens te siene was nie. Nie eers om dorp toe te gaan vir kruideniersware nie. Mara het ook nooit weer na ‘n man gekyk nie. Daar was baie belangstelling, want Mara was mooi, maar sy wou niks weet nie.
En nou sit hulle hier op die stoepie, na dertig jare, sonder antwoorde.
“Ek sal begrafnis toe gaan en vir jou kom vertel as jy wil,” offer Liefie.
“Jy kan gaan as jy wil, maar ek wil nie weet wat daar gebeur het nie. Japie is lankal dood vir my, al word hy eers môre ter ruste gelê.” Wat ‘n leuen!
Die volgende dag na die begrafnis vind Liefie weer vir Mara op die stoep. Sy hou ‘n geel koevert na Mara toe uit. “Dé. ‘n Jongetjie het rondgevra wie jou ken, en toe vra hy ek moet dit vir jou gee.”
Mara vat die koevert maar maak dit nie oop nie.
Liefie sug en loop terug na haar huis toe.
Later die middag loer sy deur ‘n venster en sien dat Mara besig was om iets te lees.
‘My liefste Mara
Daar was nie ‘n oomblik in enige dag sedert ek by die huis weg is wat jy nie in my gedagtes was nie. Ek wou al so baie net daar ‘n draai maak en vir jou dinge vertel, maar dan doem daardie dag van ons afskeid weer by my op. Jou oë was stukkend. En ek kon niks doen om dit weer te laat blink nie.
Ella was nooit swanger met my kind nie. ‘n Dokter het bevestig dat ek die een was met die fertilisasie-probleem. Ek kon nie kinders maak nie! Dit was Blink Hans s’n. Ek het gewonder hoekom ons net altyd die een kind gehad het, en vroeër vanjaar het ek gehoor hoe sy vir haar suster vertel dat sy nog altyd geweet het dat Ruben nie my kind was nie. En dat ons nooit destyds… Ek kan dit nie eers skryf nie. Sy het die hele storie oopgemaak, kwansuis omdat ek ‘n goeie werk gehad het, en Blink Hans was ‘n werklose suiplap.
Die nuus uit haar mond het my gebreek. Ek het siek geword. Kanker is genadeloos. Die herhinner my daagliks aan die pyn wat ek jou veroorsaak het. Om te vergoed vir jou lyding het ek jare gelede ‘n polis uitgeneem wat na my dood aan jou sal uitbetaal. Dit is ‘n skamele troos, maar as dit jou nou sal help, sal dit my in die hiernamaals beter laat voel. Ek sluit in die brief die nommer van die firma in waar die polis is, en hulle sal jou help om dit uitbetaal te kry. Ella het my met niks gelos nie, en nou los ek haar met niks. Sy weet nie van die polis nie.
My Maratjie, die vrou wat ek met my hele wese liefhet. Ja, tot nou toe. Die selfkastyding oor wat ek jou aangedoen het, was nooit erg genoeg om my te laat voel of ek my skuld aan jou betaal het nie. Ek is en sal altyd lief wees vir jou.
Japie.’
Mara voel hoe twee trane stadig oor haar wange rol en Baba kyk deur die slaap boontoe toe die soutdruppels op haar bont pels land. Die hartseer inleiding draai die soutkrane oop en Mara se skouers ruk wyl jare se emosie uitlating kry.
Liefie sug en draai weg van die venster af. “As Mara en Japie maar net geweet het dat Ruben nie Japie se kind was nie. Almal kon dit tog sien,” prewel sy voordat ‘n hoesbui haar oorval.
Baie later, toe Mara se gesnik stil raak, voel sy vir die eerste keer in jare rustig. “Ek vergewe jou Japie. Jy kon tog nie weet wat Ella se plan was nie. Ek is en was nog altyd lief vir jou…”
Baba spring van haar skoot af en staar na die onderste stoeptrappie. Japie se naskeermiddel vul haar neusgate, en Mara glimlag. “Dankie, Japie. Nou het ons albei vrede.”