Skip to main content

Sonnette Lombaard

Moet die mensdom in ‘n vinnig-veranderde wêreld steeds klou aan die huwelik en sprokiesideaal van gering en gelukkig vir altyd en ewig? Is dié “alles”-pakket, eksklusief gekoppel aan romantiese liefde, nog haalbaar in die moderne eeu of is ander soort bandskappe, soos vriendskap ewe waardevol en kan ons verder, meer vredevol en sinvol enduit neem?

‘n Spitsvondige potgooi van die Suid-Afrikaanse komediant en Amerikaanse TV-aanbieder Trevor Noah oor dié hedendaagse vraagstuk hou my aan die dink. Daarin bekyk hy saam met ‘n kenner en twee van sy vriende die tendens van veranderde bandskappe teen die derde millennia.

Die bekkige Noah (40), grapkas, skrywer, vervaardiger en politieke kommentator, was van 2015-2022 gasheer van The Daily Show, ‘n ikoniese Amerikaanse laataand-geselsprogram, en satiriese nuusprogram op Comedy Central. Hy is daarvoor met twee Primetime Emmy-toekennings bekroon en in 2018 het die gesaghebbende tydskrif Time hom as een van die honderd invloedrykste mense ter wêreld aangewys.

Getiteld A Friendship Revolution, praat Noah en sy gaste oor die universele onderwerp van mensverbindings in die 21ste eeu. Sy spesiale gas is Rhiana Cohen, skrywer van die topverkoperboek, The Other Significant Others: Reimagining Life with Friendship at the Center.

Self ‘n ondersteuner van romantiese liefde én vriendskappe in ewe maat, is albei waardevol vir my. Altwee is ten diepste vreugdevolle bandskappe wat omgee en ondersteuning bied en my as mens help slyp en verbeter deur die lewe se lig en donkertes.

In haar boek belig bekroonde joernalis Cohen dié relevante bandskaprewolusie wat as deel van die breër kulturele omdolwing teen die 21ste eeu afgelaai is. Oftewel die vraag of romantiese liefde se waarde oorskat of verwagtinge daaroor uitgedien is en dit dalk beter is om die fokus na vriendskap te verskuif.

Volgens Cohen onderskat ons vriendskap se waarde. Praat ons bv. oor vriendskap of ‘n platoniese verhouding, is die betrokkenes “net vriende”. Daarteenoor is mense in ‘n romantiese verhouding, “meer as vriende”. Dít weerspieël en versterk die algemene siening dat vriendskap ‘n “mindere verhouding” is. Vriende moet in jou lewe inpas – jou loopbaan of romantiese verhouding word nie rondom hulle ingerig nie.

Dit was nie altyd so nie – vriendskap was vroeër openlik gevier! In antieke Rome is ‘n vriend beskryf in terme wat teen nou vir ‘n lewensmaat gebruik word, soos “helfte van my siel”. Eeue gelede is manlike vriende wêreldwyd in rituele in broers verander. Dikwels het dit in ‘n kerk geskied waar mans hul hande op Bybels moes plaas. Daarna is van hulle verwag om mekaar vir die res van hul lewens te ondersteun. Sommige van hierdie geswore broers is selfs saam begrawe.

In die 17de tot 19de eeue in die VSA en dele van Europa, het romantiese vriendskappe gedy. Ook onder vriende van dieselfde geslag – hulle het vurige briewe vir mekaar geskryf, haarlokke uitgeruil en mekaar op portrette omarm.

Die geskiedenis wys dus wanneer ons nie onnodige perke stel nie, kan vriendskap diep en sentraal tot ons lewens bydra, meen Cohen.

Voorts kan huwelike alleen nie eensaamheid laat verdwyn nie. Dít, saam met die vrees vir “alleen sterf”, bly ‘n vername rede waarom mense trou. Tog sukkel die moderne mens om huwelike te laat werk – egskeidingsyfers neem grens- en geloofloos skrikwekkend toe.

Boonop kan ‘n mens ook eensaam binne ‘n huwelik voel. Navorsing wys getroude mense is meer gelukkig wanneer hulle, benewens hul lewensmaat, ander vorme van noue sosiale ondersteuning het, bevestig Cohen.

Die verwagting van net een verhouding soos die huwelik as ons totale verdediging teen eensaamheid, is veel gevra, sê sy.

Selfs vir diegene wat wel trou, duur dit waarskynlik nie vir ‘n hele volwasse lewe nie. Mense trou ook vandag al later, en baie skei en/of trou weer. Terselfdertyd trou minder mense of wag langer voordat hulle dit doen.

In kort, ons lewens het hoofstukke, en om elkeen na behore te kan leef en beleef, vereis vir meeste van ons meer as een diep verhouding.

Een van die struikelblokke is hoe mense ‘n vennootskap definieer, aldus Cohen. Dis inderwaarheid toewyding, en nie seks nie, wat die hoofkarteerder is.

In die huidige eeu laat ander heersende realiteite soos stygende lewenskoste ook meer vriende hul goedjies bymekaar gooi om die las van eietydse aanslae op die lang duur te deel. Hulle raak dan dikwels mekaar se hoofbron van ondersteuning tydens bv. hospitalisasies en tragedies.

Dié soort bandskap tussen vriende wys seks en vonke is nie nodig om as lewensmaats te leef en oorleef nie. Voorts is dit ironies dat getroudes nie beloof om romantiese passie vir die res van hul lewens te ervaar nie, maar om daar te wees vir beter, vir slegter, vir ryker, vir armer, in siekte en in gesondheid. Toewyding is dus wat saak maak.

Hierin kán vriende wel ons betekenisvolle ander een wees. Dit moet net so erken word, glo Cohen. Want hoewel diep, toegewyde vriendskappe ‘n nuwe lewe het, laat ons kultuur- en politieke wette nie ruimte vir die moontlikheid dat sulke bandskappe ‘n persoon se lewe kan anker nie.

Vriende van dieselfde geslag wat platonies saam woon, kan ook spot verduur en emosioneel ly met skinder oor hul seksuele oriëntasie. Werkgewers laat ook nie siekverlof toe wanneer ‘n werknemer in so platoniese, maar langsdurende verhouding se maat siek is nie. Ditto met afsterwe of hospitale met besoekregte wanneer sulke mense opgeneem word.

Eers wanneer samelewingstrukture sal erken dat vriendskappe die potensiaal het om net so betekenisvol te wees as ‘n romantiese – of bloedverhouding, sal vriendskappe geregtig wees op die erkenning, waardigheid en ondersteuning wat dit verdien.

Daar ís meer as een manier om ‘n vervullende lewe te lei, benadruk Cohen. Al word ons lank vertel lewenslange verbinding of die tradisionele huwelik is die enigste gepaste of wettige opsie.

Cohen, wat self gelukkig getroud is, meen hoewel ‘n romantiese vennootskap betekenisvol kan wees, wys haar navorsing die meeste mense se lewens draai ewe gelukkig rondom ‘n vriend of vriende. “Een helfte van ‘n romantiese paartjie wees, is net een moontlike vorm van vervulling.”

Eintlik bevestig dit dat “net een manier van verbinding nie genoeg kan wees vir ál die verrassings wat die lewe na ons toe mag gooi nie”.

Die millenniumlandskap is eiesoortig taai en eis hedendaagse oplossings vir voortbestaan. Daarbinne verander romantiese verbindinge al geruime tyd. Die huwelik as een moontlikheid sukkel om die toets van tyd te deurstaan.

Lewensomstandighede, die opbreek van die kernfamilie, die koms van die transera en aseksule mense wat nie ‘n konvensionele vennootskap soos die huwelik verkies nie, wys eietydse bandskappe vir vorentoe is broodnodig.

Die afstof van die juweel wat vriendskap(pe) vir ons lewenslank, ook breër, kan inhou is deel hiervan. Ons moet verbeeldingryk dink oor ander en/of nuwe verbindingspaaie, pasgemaak vir moderne oorlewing.

Cohen daag jou om vriendskap ‘n gelyke kans op langsdurende geluk te gee en te kyk wat gebeur!

Leave a Reply

error: Content is protected !!