Skip to main content

Deesdae se te veel liggewig kekkelbekke oor die lug laat jou erg verlang na die eertydse radio-omroepers. Gerekende burgers van die samelewing wie se gesoute kennis, taal-, praat- en menssin luisteraars op die punte van hul stoele kon hou. Begaafde medemense met onpretensieuse gravitas. Soos die bekende radio-omroeper in Afrikaans, Niekie van den Berg. Wyd en syd geliefd (of nie) is nogtans minder bekend oor dié welsprekende mens en bebaarde man met die mooi stem weg van die mikrofoon. Wie deesdae die ore van Die Waarheid Radio se luisteraars laat spits. Nadat hy eens lank die volk smiddae saamgesnoer het voor die radio met sy skerpsinnige propgram Sê Wie of opgewonde meegesleur het met sy rugbytoets-uitsendings die Aardbol oor. Nederige mynerskind van die Wes-Rand, het Niekie se mentor-pa vroeg sy kinders gewys en geleer oor die waarde van breinkrag en ‘n deurdagte algemene kennis. Voeg daarby oud-onnie Niekie se taalvaardigheid en buitengewone praattalent en dié kombo gawes sou hom eindelik op verre paaie neem, ook tot in die parlement. Deesdae begeer hy net een ding: eenvoudige vrede, het hy aan Sonnette Lombaard vertel wyl hy besig is met instandhoudingswerk by sy huis in Johannesburg.

Beskryf jouself in een sin.

Ek kán uitsaai.

Waar en hoe het jy grootgeword en wie en wat het jou menswees geslyp?

In Randfontein grootgeword. Ons het in ‘n mynhuis vir al die jare gebly, want my pa het op die myn gewerk. Vir die Randfontein Estates myngroep. Hy het net standerd 6 voltooi en was die jongste van tien kinders. Daar was nie geld nie. Ondanks die gebrek daaraan, was hy ‘n intelligente mens met boonop ‘n reuse algemene kennis. Hy het altyd nie-fiksie boeke gelees. En hy het my altyd vertel wat hy gelees het. Hy kon Wêreldoorlog II vir jou verduidelik. Ons was ‘n gesin van vier. Soms het ons maar op die broodlyn geleef. My pa het net gesê sy kinders mag nooit in ‘n myn gaan werk het nie. Ek het met ‘n onderwysbeurs gaan swot vir die BA graad met Afrikaans en Nederlands, Spraakleer en Vertolkingskunde as hoofvakke. Verder het ek vakke soos Staatsleer en Internasionale Politiek geneem. Dit het my vistas verbreed.

Vanwaar jou wye algemene kennis? Wanneer en waar het die radiogogga gebyt?

Ek het al in matriek besluit ek wil gaan uitsaai. Ek het geweet ek het die stem en ook dat ‘n stewige algemene kennis ‘n voorvereiste was. Ek het dus vir jare doelgerig daaraan gewerk om my algemene kennis verder te verbreed. Ek het inligting versamel deur notas te maak en het my ingestel om meer te weet as die gemiddelde mens. Toe ek ná twee jaar in die onderwys genooi word om die omroeperstoets by die SAUK te doen, het ek dit aangegryp. En ek het dié toets wat donners moeilik was, met vlieënde vaandels geslaag. Só het n besondere lewe begin.

Hoe voel jy oor sosiale media en die kuberruim wat tradisionele kommunikasiemediums omdolwe? En is KI ‘n hulpmiddel of gevaar?

Sosiale media is nie net boos nie, maar ook ‘n wonderlike medium wat ons lewens verryk. Ongelukkig het dit ook ’n skerp kant en twak-komponent. Dis veral die skerp kant wat mense so ruim inspan wat meer skade aanrig as goed. Soms is dit dus meer euwel as goed. My kennis oor KI is beperk maar dis reeds duidelik dit kan wel ook probleme veroorsaak.

Wat beteken Afrikanerwees en Moedertaal vir jou?

Ek beskryf myself as ‘n Afrikaner. My pa het nie ‘n plaas gehad nie, so ek is nie ‘n Boer of Boerseun nie. Uit my geskiedenis is ek eerder trots Afrikaans en ‘n Afrikaner. Ek werk daagliks daaraan om my Moedertaal suiwer te gebruik. Ek hou nie van swak taal en spelfoute nie – ‘n mens sien en hoor deesdae hopeloos te veel liederlike taalvergrype. Moedertaal is iets wat jy koester en waaraan jy werk, elke dag van jou lewe.

Hoe beleef jy moderne manwees in ‘n ontwikkelende transera?

Ek het tradisoneel grootgeword waar ‘n man ‘n man is en ‘n vrou ‘n vrou. Tog is elke mens geregtig op sy of haar keuse om te kies en te sê hoe en waarmee hy/sy wil identifiseer.

Wat was die hoogtepunt in jou lang loopbaan en wie of wat kan jy nie vergeet nie?

Te veel om net een of twee te wil uitsonder. Maar ek is dankbaar vir al die wonderlike rugbytoetse wat ek van oral binne en buite ons landgrense kon uitsaai. Vanaf legendariese rugbymekkas, soos Stade de France in Parys, Gas Murrayfield in Skotland en Eden Park in Kiwikontrei. Al die interessante mense wat ek ontmoet het en waarmee ek kon praat, veral diegene met wie daar interessante interaksies was, onthou ek. Dis lekker om te weet ek het vreugde in baie mense se lewens gebring – Sê Wie op RSG is landwyd geluister deur oud en jonk. Van die minstes tot die slimstes het saamgepraat. Mense het dit geniet en dit het my bly motiveer om nog meer interessante onderwerpe uit te dink.

In ‘n voorkomsbehepte samelewing skyn jy ‘gesigloos’ agter die mikrofoon. Is jy weg daarvan ook ‘n geselser? Wat is die publiek se grootste miskonsepsie oor jou?

Soos jou uitsaailoop groei, word jou gesig wel later ook bekend. Weg van my werk, is ek nie ‘n bedrewe geselser nie. Ek maak nie sommer praatjies met ieder en elk nie. Interessante mense geval my wel, anders bly ek stil. Mense en geselskappe met interessante perspektiewe en waar my en ander menings geduld word, is wat ek verkies. Dis moeilik om in die openbaar te leef. Dis wys om gou te wis sommige mense gaan van jou hou en ander nie. Dit was altyd vir my belangrik om juis diegene wat nié van my hou nie, se menings oor die lug te huldig. Ek het vrede gemaak met haters en praters wat altyd daar sal wees, ek verknies my nie daaroor nie.

Jy het ookal as ‘n DA-lid ‘n draai in die politiek gemaak?

Die werking van die parlement is ‘n ingewikkelde ding, ditto die spanning binne politieke partye. En dit geld oraloor. Om dit sagkens te stel, jy moet fyntrap, want jy weet nooit wie jy kan vertrou nie. Ek is wel bly ek het dit gedoen. In kort, die parlement en om deel daarvan te wees, is ‘n rowwe ervaring. Rugstekery is aan die orde van die dag, juis ook vanuit jou eie geledere. Winston Churchill het destyds tereg gesê jou grootste vyande is jou partygenote wie agter jou sit en nie diegene oorkant in die opposisiebanke nie.

Wat maak Niekie van den Berg sielsgelukkig?

Een enkele woord: VREDE. Vrede in die huis en by die werk, soos in wanneer mense met mekaar oor die weg kom en mekaar kan uitstaan, en saam probleme wil uitstryk.

* Luisteraars kan weeksdae daagliks van 10:00 – 12:00 na Niekie luister in sy program Nog Niekie op Die Waarheid Radio.

 

 

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!