George April
Ray van Rooy, Bergrivier Munisipaliteit se Uitvoerende Burgemeester asook personeellede uit dié kantoor beplan tans ’n 8-dag staptog. Die “Bergrivier Stap en Trap” inisiatief skop af op 2 Augustus in Piketberg, en sal op 9 Augustus in Porterville afsluit.
Volgens Matthew Sheldon, die media-woordvoerder, is dié inisiatief om inwoners binne die streek aan te moedig om gemeenskappe met spesiale behoeftes te ondersteun. “Ook om bewusmaking te kweek van alle sosiale euwels wat gemeenskappe siek maak.
“Ons wil gemeenskappe bewus maak van dwelm- en alkoholmisbruik, seksuele uitbuiting, tienerswangerskappe, geslagsgebaseerde geweld en diefstal. ‘n Ander euwel is die oprigting van dwelmhuise op munisipale eiendom.
“Terwyl ons onsself geestelik en fisies voorberei vir die groot taak wat voorlê, herinner ons mekaar gereeld hoekom ons hierdie inisiatief aanpak. Vanjaar wil ons graag ’n groot positiewe verskil maak in die lewens van mense met spesiale behoeftes,” is Van Rooy se boodskap.
Deelnemers sal deur elke dorp binne die Bergrivier munisipale streek – wat meer as 300km sal wees – stap en trap.
Wanneer die deelnemers ’n dorp bereik, sal hulle deur daardie betrokke wyksraadslid en gemeenskapslede verwelkom word, aldus Sheldon.
Van Rooy sal fondse insamel vir die Burgemeester se Hulpfonds om ’n verskil te maak in die lewens van mense met spesiale behoeftes.
Skenking sal ook gebruik word om die kerndienste van plaaslike NGO’s binne die Bergrivier Munisipale gebied te ondersteun, het die woordvoerder beklemtoon.
Diegene wat meer inligting oor die inisiatief wil bekom, word aangemoedig om die “Bergrivier Stap en Trap Inisiatief” op die internet te besoek.