George April
’n Volwasse man het Saterdag in Malmesbury onder ‘n Spar-winkelgroep se trok se wiele beland nadat hy blykbaar sy balans verloor het.
Die video van die voorval wat op sosiale media versprei word, het verskeie menings van lesers ontlok.
Abigail Koopman van Kaapstad het geskryf: “Dis absoluut skokkend en hartseer.”
Vigie Gounden van Tongaat in KwaZulu-Natal skryf: “Die oortreder moet gevang word en daarvolgens hanteer word.” Sy het bygevoeg: “Dit is so hartverskeurend om te aanskou.”
Op die video kan duidelik gesien word hoe die trok wegtrek en die man onder die wiele van die trok beland. Dit is egter nie baie duidelik of hy gestoot was nie. Die trok het dadelik gestop toe die agterwiele reeds oor die man se liggaam was. Volgens ‘n betroubare bron in Malmesbury, het die oorledene in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Tania Helfrich, Weskus-distrik se polisie-woordvoerder, sê die Malmesbury polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.
Die voorval het Saterdag, 20 Julie omstreeks 12:00 in Voortrekkerweg voor die Engen Garage plaasgevind. Blykbaar het ‘n jong seun ‘n argument met die oorledene, Gert Fikster (58) gehad. Die seun het die oorledene glo geklap of gestamp, wat toe blykbaar veroorsaak het dat hy sy balans verloor en onder die vragmotor se wiele beland het.
Niemand is tot dusver in hegtenis geneem of aangekla nie, het Helfrich geskrywe.