Skip to main content

Sonnette Lombaard

Dit begin by die naam – jy weet nie of jy byvoorbaat moet skrik vir die “spook se asem” wat jy in jou mond gaan vrylaat nie. Boonop gaan dit ook net jou tong terg want voor jy weet verdwyn die soet lekkerte en bly niks oor in jou mond nie. Pure magic mos, of hoe?

En soos dit die magie betaam, is die ontploffing van die suikersoetlekkerte se gewildheid regoor Moeder Aarde sedert die laat 19de eeu ironies te danke aan ‘n tandarts!

In ons mooi Moedertaal word spookasem ook suikerwol of garingsuiker genoem. Die samestelling van spook en asem as woord, moes die lekkerny se ligte, donserige tekstuur beskryf.

Maar moenie die verleidelike soetigheid onderskat nie – dit word selfs vir die navorsing in die mediese wetenskap ingespan! En by oplese, blyk dit die oorsprong van spookasem strek terug tot in adellike paleise in Europa in die 18de eeu.

Vaardige lekkergoedmakers het toe gespinde suiker lekkernye met die hand geskep. Tydens dié arbeidsintensiewe proses is suiker verhit tot gesmelt en dan met ‘n vurk of ander gereedskap in fyn drade gespin. Die resultaat? ‘n Delikate, webagtige lekkerny net so pragtig as wat dit lekker was.

Weens die tydrowende en ingewikkelde aard daarvan, was gespinde suiker hoofsaaklik gereserveer vir die elite, en het dus die tafels van koninklike feeste versier. Later is spookasem ook wyer gemaak deur suiker te smelt en dit deur ‘n fyn sif te gooi.

Vandag word die gespinde suikermengsel wat soos katoen lyk, met klein hoeveelhede geurmiddels of voedselkleursel in ‘n masjien gemeng. Deesdae kry jy juis spookasem in elke denkbare geur en kleur: van warm sjokolade en koekiedeeg tot Turkish Delight en liquorice (drop).

Die eens stapel op kerkbasaars, karnavalle, kermises, feeste en al wat ‘n mark is, beleef tans regoor die planeet, ook hier by ons, ‘n herlewing in gewildheid. Want oud en jonk weerstaan die soeterny moeilik – deesdae word dit selfs ewe vernuftig vir ekstra donsvonk bo-op mengeldrankies of saam met roomys vir nagereg voorgesit!

Die geheim van dié magie-mengsel bly suiker wat in die vorm van ‘n massa ragfyndun draadjies tot ‘n wasige wolk omtower word. Dit word gedoen deur die suiker tot 10 grade C bo kookpunt te verhit. Dan word dit met vinnige bewegings met ‘n vurk of spookasemmasjien uitgeswaai en getrek tot dun draatjies. Dit word onmiddellik hard en om ‘n stokkie gedraai of in ‘n houer of sakkie gesit en siedaar … reg vir verorbering!

Nouja, tandartse mag dalk saamstem dat te veel van hierdie soeterny nie bevorderlik vir goeie mondgesondheid is nie, maar die massa-ontploffing daarvan het sy oorsprong in eie geledere.

Die spookasemmasjien wat die soetrewolusie wyd ontketen het, was ‘n gesamentlike projek van die Yanks dr. William James Morrison en lekkergoedmaker John C. Wharton. Hulle het in 1887 die lekkergoedmasjien aan die publiek bekendgestel by die Louisiana Purchase Exposition – destyds die wêreld se grootste kermis.

Die masjien verhit die suiker tot vloeibaar en spin dit dan sentrifugaal deur klein gaatjies. In die proses koel die suiker vinnig af en stol in fyn stringe. Die katoenagtige konsistensie wat verkry word, het die produksie van spookasem vinniger en doeltreffender gemaak.

Die duo het met die masjien fairy floss aan die wêreld bekendgestel. Dit was onmiddellik ‘n treffer. Die naam is later met cotton candy in die VSA vervang.

Spookasem was gou ‘n stapelbederf by pretparke, kermisse en feeste, en kinders en volwassenes het geswig voor die speelse, veelkleurige voorkoms, wat sinoniem geword het met prettige, sorgvrye tye, ook vir verliefdes. Vir ‘n tikkie nostalgie en vreugde het dit ook inslag gevind by ander vieringsgeleenthede, insluitend troues en verjaardae.

Vandag gebruik geleentheidsbeplanners spookasem in nageregtafels, vir geskenkies, en selfs interaktiewe ervarings soos DIY spookasemstasies.

Veerlig of nie, ‘n mens moet nie spookasem lig skat nie. Van ‘n eens eksklusiewe luukse voorreg verdien dit ‘n plek as ‘n grensloos-geliefde en toeganklike bederf, geliefd by miljoene. Dit bekoor tydloos en sit steeds glimlagte op gesigte van veral lekkerbekke en verskaf vreugde aan verskillende vieringe wêreldwyd.

Die blywende aantrekkingskrag van spookasem bevestig eweneens die soeterny se status as pure nostalgie op ‘n stokkie. Die ligte, donsige smelt-in-die-mond bederf reis en vier saam met ons lewensmylpale. Lank lewe spookasem!

Nog interesante feite oor spookasem is:

  • Die hoogste spookasem nog toring 5,45 meter hoog. Dis in 2013 tydens ‘n lewendige TV-uitsending in Duitsland gespin.
  • ‘n Spookasemdraad is dunner as menslike hare. Gemiddeld is die deursnee van menshare 0.1 millimeter dik. ‘n Enkele draad spookasem is dunner as 0.1 millimeter (50 mikron). Dis soos twee-duisendstes van ‘n duim.
  • Spookasem word vir wetenskaplike navorsing gebruik. Oftewel navorsing oor ons kapillêre stelsel. Leon Bellan, ‘n meganiese ingenieur by Vanderbilt Universiteit, het bevind spookasemdrade is relatief dieselfde grootte as ons rooibloedselle. Hy hoop om kunsmatige bloedvate met spookasemvesels te skep vir ‘n kapillêre netwerk, soos in ons liggame.
  • Spookasem word cotton candy of candy floss in Singapoer en die VSA genoem, maar het elders verskillende name. In Finland en Australië heet dit fairy floss. Die Franse vertaling van spookasem beteken “pa se baard” en die Grieke s’n “ouma se hare”.

Leave a Reply

error: Content is protected !!