DALENDE RENTEKOSTE SAL HUISEIENAARS HELP OM DIE UITDAGING VAN GROEIENDE ADMINISTRATIEWE KOSTE HOK TE SLAAN
Die verslapping van die inflasionêre omgewing – plaaslik en wêreldwyd – het die vooruitsig laat ontstaan dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank rentekoerse in die derde kwartaal van die jaar kan verlaag, met Standard Bank wat twee renteverlagings teen die einde van die jaar voorspel. Terwyl die verlaging in tariewe, vir die eerste keer sedert die uitbreek van die pandemie, maandelikse verbandverpligtinge sal verminder, sal hoër administratiewe en huisdienskoste kliënte onder druk hou.
Die opwaartse rentekoerssiklus het in November 2021 begin, grootliks gedryf deur die COVID-pandemie, plaaslike energiekwessies en wisselvallige voedsel- en oliepryse. Verbruikers met ‘n R1 000 000 verband op hul huise, sou deesdae opgelet het dat hul rentekoersterugbetalings met byna R4 000 per maand verhoog het. Dit is ‘n groei van meer as 40% in paaiemente sedert November 2021.
“Ten spyte van koerse wat voorspel word om laer te wees, kan voordele vir kliënte ‘n bietjie langer neem om deur te filtreer. Sedert November 2021 het die prys van elektrisiteit met gemiddeld byna 30% gestyg, oftewel 23% bo inflasie. Dit het meer druk op huishoudings gebring wat sukkel om huishoudelike finansies te balanseer,” het Thabani Ndwandwe, risikohoof van Standard Bank SA, wat die grootste huisleningsboek in die land het, gesê.
Die prima uitleenkoers het sedert November 2021 met 475 basispunte gestyg namate die ekonomie van die pandemie begin herstel het.
Standard Bank voorspel dat die sentrale bank sy maatstafrentekoerse twee keer teen die einde van die jaar sal verlaag met die eerste verlaging van 25 basispunte wat in September verwag word. Die bank verwag ‘n verdere twee verlagings in die eerste helfte van 2025 aangesien inflasie, wat ‘n hoogtepunt van 7,8% in Julie 2022 bereik het, in Mei tot 5,2% afgekoel het. Die Reserwebank het ‘n teikeninflasiereeks van tussen 3% tot 6%.
Die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee, wat elke twee maande oor rentekoerse besluit, het op 18 Julie vergader en besluit om die repokoers vir die sewende agtereenvolgende keer bestendig te hou.
Vir ‘n verband ter waarde van R1 miljoen kan huiseienaars verwag om R208 per maand te spaar, of R2 500 per jaar op hul terugbetalings ná ‘n koersverlaging van 25 basispunte. As die rentekoersverlagings wat in die eerste helfte van 2025 verwag word, met nog 50 basispunte verminder, kan huiseienaars oor ‘n jaar R625 minder per maand vir ‘n eiendom van R1 miljoen betaal. Daar is R1,2 triljoen verbandlenings in Suid-Afrika en ‘n 50-basispuntverlaging sal meer as R4 miljard vrystel wat tans vir paaiemente per jaar gaan. Dit is ‘n voordeel van R4 miljard vir verbruikers.
Die verligting sal baie help om die slag te versag wat veroorsaak word deur die toename in maandelikse eiendomsdienskoste. In stede soos Johannesburg het elektrisiteitstariewe op 1 Julie met 12,7% gestyg terwyl eiendomstariewe met 3,8% gestyg het. Tariewe vir vullisverwydering, water en sanitasie het ook gestyg teen ‘n pas wat inflasie oortref het.
Bo en behalwe hierdie verhogings, sal Stad Johannesburg se voorafbetaalde elektrisiteitskliënte elke maand ‘n bykomende R200.00 vaste heffing kry.
Selfs voor hierdie verhogings het Suid-Afrika se eiendomsektor gebuk gegaan onder die verhoogde lewenskoste. Ooba Home Loans se jongste oobarometer het getoon dat die aantal nuwe huisleningsaansoeke in die eerste kwartaal van 2024 9% laer was as in die eerste kwartaal van 2023, en 25% agter dieselfde tydperk in 2022.
“’n Verlaging in rentekoers behoort te lei tot ‘n herstel van huisleningsaansoekvolumes, maar hierdie groei sal waarskynlik gedemp word deur munisipale tariefverhogings,” sluit Ndwandwe af.