Sonnette Lombaard
Hulle kom nie elke dag verby nie. Van blonde bom Marilyn Monroe tot mega-vermaker Madonna en die eietydse transikoon Lady Gaga is hulle toonbeelde van talentvolle, selfversekerde evas wie se eiesoort-skoonheid, wulpse bates en koketterige flankeerdery die mensdom maklik mesmeraais.
Voeg hierby die beeldskone Georgiër Khatia Buniatishvili wat die klassieke arena laat bruis met haar musiekgawes én skoonheid. Want hoewel musiekkenners verskil oor dié 37-jarige smeulende konsertpianis, bly sy in aanvraag en hou sy die stigteliker klassieke kringe op hol. Sy trek aandag waar en met wat en wie sy ookal iets doen.
Op en weg van die verhoog, flikflooi sy skaamteloos met gehore en fotograwe en aanhangers kan nie genoeg kry van haar en haar vermenging van musiekmaak en afwys van haar welbedeelde skoonheid nie. Want moenie jou misgis nie – dié mooi krulkop weet hoe om die klawers te laat kook. Al sit sy en speel in al wat ‘n beroemde konsertsaal is, in hemelhoë spykerhakke en sexy aandrokke wat haar bates onbeskaamd vertoon
Die stylvolle internasionaal-gerekende pianis met haar uitlokkende skoonheid en sterkwaliteite is al die “Betty Boop” van die klavier genoem en word met van Beyoncé tot Lady Gaga vergelyk.
Koop haar, of nie, Khatia Buniatishvili is ‘n fraai fenomeen met flair. ‘n Boorling van Georgië toe dit nog deel van die Sowjet-unie was, het sy vroeg geleer om verbeeldingryk met swaar en min om te gaan. Bygesê, met die wêreld se oudste plekke van wynmaak, goudmynbou en tekstiele wat in Georgië is, is dit g’n wonder dié land baar ook talentvol-dinamiese siele nie. Khatia se ousus, Gvantsa Buniatishvili, is ook ‘n bekende pianis, en hulle tree dikwels saam op.
Khatia het op die ouderdom van drie begin klavier studeer onder haar ma. Haar eerste konsert met die Tbilisi Kamerorkes was op ses-jarige ouderdom en op tien maak sy reeds haar internasionale buiging wat lei tot ‘n kans om in Wene, Oostenryk, verder te studeer by die Frans-Hongaarse pianis en pedagoog Michel Sogny. Sy sluit in 2010 as ‘n eksklusiewe kunstenaar by Sony Classical aan.
Haar debuutalbum in 2011 sluit in Liszt se Sonate in B mineur, Liebestraum No. 3, en Mephisto Waltz No. 1. In 2012 reik Khatia haar tweede album, Chopin, uit, met soloklavierwerke sowel as Chopin se Klavierkonsert No. 2 in F mineur begelei deur die Orchestre de Paris en Paavo Järvi.
Die gesogte Guardian-koerant het dit besing as: “… spel reguit uit die hart van een van vandag se opwindendste en tegnies-begaafste jong pianiste.”
Tussen 2014 en 2020 het Khatia nog ses albums gelanseer. Khatia is boonop een van die taalvaardigste konsertpianiste nog – sy is vlot in verskeie tale: Georgies (haar moedertaal), Russies, Frans, Duits en Engels.
Weg van verhoë kan Khatia nie uit die kollig bly nie. Sy party dikwels saam met A-lyssterre soos sanger Chris Martin van Coldplay. En sy en die Hollywoodakteur Orlando Bloom was eens ‘n glanspaartjie wat oraloor deur die paparazzi gevolg is.
Dat Khatia ál haar talente en bates graag afwys, is teen nou ou nuus – sy speel juis graag smeulende model vir topfotograwe wat tou om haar bonsende krulle, welbedeelde lippe en ander sensuele bates met ‘n skerp modesin daarby, vas te vang.
Laas jaar het Khatia egter ‘n breek van haar bedrywige loopbaan gevat om geboorte aan haar eersteling, ‘n babadogter, te skenk wie sy wou borsvoed. Sy het ook van Parys na Geneve verhuis, waar die Switserse pa van haar Charlotte woon.
Dit sal interessant wees om die uitwerking en belewenis van moederskap op die pianis en haar loopbaan dop te hou. Dat Khatia nog lank die kollig kan versier, is duidelik. Met haar kombo van ruim musiektalent, dryfkrag en aansienlike voorkoms en stylsin bly sy vars verras. Mos net nommerpas vir die wispelturige millenniumkraal!