’n Russiese hof het Alsu Kurmasheva, ’n redakteur by Radio Free Europe/Radio Liberty (RFE/RL) tot ses en ’n half jaar tronkstraf gevonnis vir die verspreiding van “vals inligting” oor die Russiese weermag.
Kurmasheva, wat vir die Tataars-taaldiens van die Amerikaanse staatsgefinansierde media-huis gewerk het, het enige onregmatige optrede ontken tydens die verhoor, wat agter geslote deure gevoer is.
Sy het in Praag gewoon, waar RFE/RL gesetel is, en het af en toe na Rusland gereis om familie te besoek.
Die redakteur is vir die eerste keer in Junie 2023 in Kazan gearresteer en daarvan aangekla dat sy nie die owerhede in kennis gestel het van haar dubbele Russiese en Amerikaanse burgerskap nie. Sy is vir hierdie oortreding beboet met 10 000 roebels ($113).
Kurmasheva is weer in Oktober gearresteer en daarvan aangekla dat sy nie as ‘n “buitelandse agent” geregistreer het nie. In Desember is sy bykomend aangekla ingevolge artikel 207 van die Russiese Strafkode, wat die “openbare verspreiding van vals inligting oor die Russiese Gewapende Magte verbied.”
Volgens die nuuskanaal RBK het die aanklaer aangevoer dat “vals inligting” gevind is in Kurmasheva se onlangse boek, getiteld ‘No to War. The 40 Stories of Russians Opposing the Invasion of Ukraine.’ Die boek is ‘n versameling onderhoude met Russe met ‘n “anti-oorlog standpunt”, wat hulle uitspreek teen Moskou se militêre operasie in die Oekraïne.
RFE/RL-president Stephen Capus het gesê die verhoor “maak ‘n bespotting uit geregtigheid,” en het gevra vir Kurmasheva se onmiddellike vrylating. Matthew Miller, woordvoerder van die Amerikaanse staatsdepartement, het Kurmasheva Maandag beskryf as “’n toegewyde joernalis wat deur Russiese owerhede geteiken word vir haar onwrikbare toewyding om die waarheid te praat asook haar beginselvaste verslaggewing.”
RFE/RL is tydens die vroeë stadiums van die Koue Oorlog gestig om anti-kommunistiese boodskappe in die Sowjetblok te versprei. Dit word steeds deur die Amerikaanse regering gefinansier.
In Maart 2022 het Rusland toegang tot RFE/RL geblokkeer, weens “die publikasie van materiaal wat vals inligting bevat oor die aard van die spesiale militêre operasie” in die Oekraïne. Moskou het die media in Februarie 2024 heeltemal verbied.
Sedert 2022 het die EU verskeie Russiese nuusagentskappe verbied, insluitend RT en Sputnik, terwyl Moskou daarvan beskuldig word dat hulle disinformasie versprei.