Verdoeselde moord – deur Janet Muller
“Meneer Johannes Gerhardus Steyn, U word gearresteer vir die moord op Jaap Vermeulen. Enigiets wat jy sê…”
Johan staan stil dat die polisieman sy hande agter sy rug boei en sy regte voorsê. Hy lyk nie seker oor wat aan die gang is nie, maar weet dat hy hom nie moet teësit gedurende die arrestasie nie. So ‘n aksie eindig gewoonlik baie onaangenaam vir die geboeide persoon.
Hy kyk nie by die vangwa se venster uit toe dit ten aanskoue van dosyne agies wegry nie. Hy dink aan die gebeure sedert hy gister by Elma en Jaap opgedaag het en sug. Nes elke laaste Saterdag van elke maand het hy by hul huis opgedaag met ‘n bos blomme vir die gasvrou. Hy was gelukkig vroeg en kon naby die huis parkering kry. Kort voor lank sou minstens nog dertig voertuie opdaag om die spitbraai by te woon, en om net lekker te kuier na ‘n maand se harde werk.
Jaap besit sy eie maatskappy. Hét sy eie maatskappy besit, dink Johan terwyl hy met sy bene stut toe die voertuig om ‘n skerp draai ry. Niks buitengewoon het gebeur nie. Almal het lekker gekuier, en toe die wangetjies rooi raak, het Barend, Karel en Stella hul boeremusiek-trieks uitgehaal met ‘n konsertina, trekklavier en mondfluitjie. Die groot saal se dansvloer was gou vol jolige lywe.
Die kos was heerlik, nes altyd. Hy kan nog onthou dat Elma sy leë glas gevat het en met ‘n vol een vervang het. Toe… Hy skud sy kop. Nee, dis al wat hy nou kan onthou.
***
Almal staan op in die hof toe die regter inkom. Die verrigtinge begin presies nadat Johan vir drie maande in aanhouding was. Hy was borg geweier aangesien dit ‘n moordsaak was.
Reg agter Johan sit Elma, Jaap se weduwee. Sy lyk anders as toe hy haar drie maande gelede gesien het; amper … vrolik. Haar oë lag vir hom, maar aan haar mond is niks daarvan te bespeur nie.
Die regter vra hoe hy pleit.
“Onskuldig, Edelagbare.”
‘n Gebrom bars los in die hof, en die regter slaan met sy hamer op die ronde hout. “Stilte in die hof!”
Hy sit kopskuddend en luister na die getuienis van die patoloog en ander mense wat ook by die braai was. Jaap is sewe keer gesteek met ‘n skêr. Die eerste wond was noodlottig, dus lyk dit asof die moordenaar sy of haar woede op die lyk uitgehaal het. ‘Overkill’, het die patoloog in Engels herhaal.
Die moordwapen is nooit opgespoor nie, maar Johan se vingerafdrukke was oral. Daar is selfs een van sy afdrukke in bloed op die teëls langs Jaap se lyk gekry. So gaan die verrigtinge aan, en Johan kom steeds verward voor. ‘Hoe is dit moontlik? Ek kan dan niks daarvan onthou nie. En Jaap … hy was my beste vriend. Vir donkiejare!!’ Dit is wat hy vir sy prokureur gesê het.
Die hof verdaag vir middagete, en voordat hy na benede gelei word, leun Elma vorentoe, en fluister: “Ek het jou gesê dat jy sal eendag boet omdat jy my vir jare verwerp het.”
Onder die hofsaal sit Johan in die aanhouding-sel en wag vir die tyd om verby te gaan. Iewers in sy onder bewussyn lui Elma se woorde ‘n klokkie, maar die skoknewels wil net nie verdwyn sodat hy ontwykende antwoorde kan kry nie. Wat het sy in sy drankie gegooi?
Dit is weer tyd om boontoe te gaan. Hy dink die heel tyd aan Elma se woorde, en skielik begin stukkies van die aand se gebeure terugsypel in sy kop. Hy luister nie na wat nóg getuies onder eed verklaar nie. Sy gedagtes is by die moord. Iewers gedurende die aand het hy verskriklik naar gevoel en wou badkamer toe gaan om te probeer opgooi want hy het net die gevoel gehad dat hy gif ingekry. Niemand het hom gehelp toe hy al die pad huis toe geslinger het nie. Hy onthou ‘n mansstem wat iets soos ‘lekker getrek’ agter hom aangeroep het, maat hy weet dat hy nie so gevoel het van die drank nie. Hy het beslis nie te veel agter die blad gehad nie.
Nadat hy die paadjie badkamer toe in sy brein agtermekaar gerangskik het in die hofsaal, leun hy skielik oor na sy prokureur. “Ek weet waar die moordwapen is.”
Na ‘n ‘is jy seker?’ en ‘n kopknik spring die prokureur op. “Edelagbare, as dit die hof sal behaag vra ons dat die verrigtinge verdaag tot môre-oggend om agt-uur. Ek het pas insiggewende inligting aangaande die saak ontvang.”
“As jy die hof se tyd mors, sal jou kliënt daarvoor boet,” betig die regter hom terwyl hy oor sy bril loer. “Die hof verdaag tot môre om agt-uur.” Hy slaan die bevel met sy hamer neer.
Johan en sy prokureur is onmiddelik na benede nadat hul vir die regter moes opstaan.
Elma sit versteen in haar sitplek. “Waarmee is jy besig, my poeding?” vra sy slu. “Alles dui beslis op jou. Daarvan het ek seker gemaak.”
“Ek onthou sekere goed,” het Johan stadig vir sy prokureur gesê. “Daar was iets in my drankie gegooi. Dit weet ek! Elma het dit gebring. My glas was skaars leeg of ‘n sweterige naarheid het my oorval. ‘n Stem in my kop het gesê dat ek van die inhoud in my maag moes ontslae raak en ek het badkamer toe gestrompel. Soos jy weet is dit ‘n entjie van die skuur af waar ons gewoonlik kuier.
“Ek kan nie onthou of ek wel opgegooi het nie, maar ek onthou dat ons later in die huis was. Net ons drie sover ek weet. Elma het gehuil. Jaap het met sy rug na haar gesit… Nee, nou praat ek nonsens. Daar was nog iemand in die kombuis. Ek kon die persoon se skoene agter die een stoel sien uitsteek.
“My kop het verskriklik swaar gevoel en my brein wou nie fokus nie. Toe hoor ek dit. ‘n Stem wat beveel: ‘Steek hom! Steek hom!’ En kort daarna Jaap se gille. Ek het my kop probeer oplig maar dit wou nie vir my brein luister nie. Ek kon die lem by sy vleis hoor ingaan. Baie keer. Toe roggel hy Elma se naam. Ek het probeer opstaan maar kon nie. My bene was lam, en die vloer was glibberig van al die bloed.
“Jaap se oë was oop maar hy het niks gesien nie. Geen asem het by sy mond uitgekom nie. Hy was dood. Ek onthou dat ek lomerig langs hom op die vloer gaan lê het, maar my oë was nie heeltemal toe nie. Dis toe dat ek gesien het dat Elma iets agter die prent in die kombuis prop.”
“Kan jy presies onthou hoe die prent lyk?”
Johan knik met sy kop. “Daar is ‘n rooi koffiepot op.”
“Uitstekend, Johan! Jy het dalk net iemand se bas gered,” mompel die prokureur en roep “ek sien jou môre-oggend” oor sy skouer voordat hy haastig verkas.
Agt-uur die volgende oggend gaan die verrigtinge voort. Al die getuies kom en gaan, maar daar word niks gesê van die vonds in die kombuis nie. Johan loer onderlangs na sy prokureur en sien hoe dié vir Elma knip-oog. Dit bevestig sy vermoede.
Hy staan op. “Edelagbare, mag ek iets sê?”
“Sit, Johan,” sis sy prokureur deur geklemde kake.
Johan bly staan.
“Jy mag, aangesien jou toekoms hier op die spel is,” gee die regter sy toestemming.
“Dit was Elma wat vir Jaap gesteek het. Ek het alles gesien, en nadat ek elke detail kon onthou, het ek my prokureur daarvan verwittig. Hy het gister die enigste leidraad wat my onskuld in die hele saak sou bewys, gistermiddag gaan verwyder. My broer het hom genadiglik agtervolg, en ook gesien waar hy dit weer versteek.”
“En waar is jou broer nou?” vra die regter.
Johan se broer, Tian, staan op. “As dit die hof behaag, U Edele.” Hy lig ‘n rugsak op. “Hier is dit. Die hof sal vind dat beide Elma en Johan se prokureur, Jan Snyman, se afdrukke daarop is. Dit is deur ‘n forensiese deskundige bevestig.”
Pandemonium bars los in die vertrek. Elma probeer uit die saal vlug, maar sy word dadelik deur die flink optrede van ‘n paar polisiemanne gefnuik. “Los my, julle varke!” gil sy terwyl sy deur twee sterk manne met die trappe na benede gedra word. “Ek is onskuldig! Sê hulle, Jan!” gil sy aanhoudend. “Jy sal dit berou!”
Jan Snyman sit met sy gesig in sy hande en bied geen weerstand teen sy arrestasie nie. Sy kop hang laag terwyl sy regte voorgelees word. Persfotograwe se kameras flits totdat hy buite sig verdwyn en ‘n paar is reeds besig om ‘n artikel oor hul selfone aan die koerante vir wie hulle werk, voor te sê.
“Die hof sal nou verdaag tot môre oggend. Meneer Steyn, met die nuwe wending in die saak jy word vir nou op jou eie verantwoordelikheid vrygelaat sonder dat jy borg hoef te betaal, maar as jy nie agtuur môre hier is nie, sal jy van minagting aangekla word. Jy is nog nie onskuldig bevind nie,” vermaan die regter hom voordat almal verdaag.
Lank nadat die hofsaal leeg is sit Johan steeds in dieselfde beskuldigdebank voordat hy uiteindelik opstaan en loop. Die laaste drie maande was die langste negentig dae van sy lewe. Hy gaan die staat dagvaar sodra hy ‘n kans het, besluit hy. Buite is dit amper skemer toe hy sy hand in die lug druk en ‘n vir ‘n huurmotor aandui dat hy ‘n saamrygeleentheid wil hê.
Die rit huis toe duur nie lank nie, en hy vroetel in die potplant by sy voordeur op soek na sy versteekte sleutel. Dit is steeds waar dit hoort en hy sluit sy voordeur oop. Die huis ruik nie eers of dit vir drie maande lank toegestaan het nie, maar hy maak steeds vensters oop. Dalk is dit omdat hy in so ‘n klein sel toegesluit was en vars lug was hom nie beskore nie. Dalk is dit omdat hy aan engtevrees ly. Hy kan nie besluit wat die rede is nie, maar op hierdie stadium gee hy ook nie om nie. Hy is vry, en dit is al wat saak maak. Wraak sal soet wees.
Later sit hy op die rusbank met sy voete op ‘n koffietafel en wag vir die nuus om op televisie uitgesaai te word. Daar behoort beslis van sy saak melding gemaak word na die bom wat hy laat bars het. Hy grinnik toe hy onthou hoe geskok die mense was na sy woorde vroeër vandag in die hof. Gelukkig het hy net op die regte tyd alles onthou. En hy was bly dat sy vermoede aangaande die prokureur en Elma in die kol was.
Die nuusberig oor sy saak kom byna dadelik op nadat die nuus begin het. Daar is heelwat mense wat getuig dat hulle in elk geval nie geglo het dat ‘Johan Steyn die moordenaar-tipe’ is nie.
Die een vrou wat heel tyd in die agtergrond rondhang trek Johan se aandag. Hy kan sweer dat hy haar van êrens af ken, maar kan haar nie plaas nie. Hy sal beslis môre by die hof oplet of sy weer te siene is.
Lank na middernag stort Johan vir ‘n lang ruk nadat hy ook reeds vroeër gestort het. Warm water was skaars die laaste drie maande. Net voor twee uur die oggend voel hy uiteindelik lomerig en slaap soos ‘n dooie totdat sy wekker om ses-uur afgaan.
Daar is nie juis iets om vir ontbyt te eet nie, maar hy gee nie om nie. Na sy hofsitting gaan hy ‘n reuse ontbyt iewers eet, en net die een beker regte koffie na die ander verslind totdat sy lyf aan die bewe gaan van al die kafeïne.
Johan word – soos verwag – vrygespreek dié oggend net na agt.
Elma en Jan word in aanhouding gehou vir die moord op Jaap Vermeulen.
Johan en Tian omhels mekaar na die verrigtinge en stap na buite.
“Dit het ‘n tydjie gevat,” fluister Tian, “maar ek kon seker maak dat die skêr heeltemal skoon was van enige van jou afdrukke voordat ek hulle s’n opgesit het. Sy wou jou mos laat boet het! Dit help om ‘n lykskouer te wees wat met Jaap se lyk gewerk het, en aangesien ek jare lank in die forensiese afdeling van die polisie was, het ek presies geweet hoe om hul afdrukke uit die huis te ‘lig’ en te verplaas,” lag Tian.
‘Dankie, Tian,’ dink Johan met ‘n grinnik, ‘laat dit vir Elma ‘n les wees. Jaap was ‘n maklike teiken. Buitendien, een skelm kan nie ‘n ander skelm uitoorlê nie…’
Hulle stap met breë glimlagte die persfotograwe tegemoet en sien dieselfde vrou wat op die nuus was weer heel agter die groep mense. Sy staan net vir ‘n rukkie rond voordat sy verdyn.
Drie dae later stoot iemand ‘n koevert onder sy voordeur in, spring agter op ‘n wagtende motorfiets, en jaag weg.
Hy haal ‘n gedrukte bladsy uit die koevert.
‘Ek weet wat jy en Tian gedoen het, en het al die bewyse op kamera. Maak seker dat jy een honderd duisend rand teen eerskomende Vrydag bymekaar kry, of jy gaan sit vir moord en Tian vir onder andere peuter met getuienis. Ek sal verder instruksies laat aflewer. En moenie probeer slim wees nie. Ek het oë en ore oral.’