In die voortgesette oorlog teen dwelms deur die Valke het vier beskuldigdes, Gonzales Jorge (51), Gutierrez Lopes (43), Simphiwe Khumalo (35) en Frederick Botha (67) gister, voor die Groblersdal-distrikshof verskyn ná hul arrestasie op 19 Julie 2024 in ‘n intelligensie-gedrewe operasie deur lede van Limpopo Serious Organised Crime Investigation (SOCI)-span bygestaan deur die Limpopo Taktiese Reaksiespan by ‘n plaas in Groblersdal waar ‘n multi-miljoen klandestiene laboratorium ontdek is.
Daar word berig dat die Valke in Limpopo inligting ontvang het oor verdagte aktiwiteite wat op die plaas plaasvind, waarna die multi-dissiplinêre span toegeslaan het. Vier strukture op die eiendom is deursoek en groot hoeveelhede chemikalieë wat gebruik is in die vervaardiging van onwettige dwelms, insluitend asetoon sowel as kristalmet (crystal meth), met ‘n geraamde straatwaarde van R2 miljard is gevind.
Die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek het sedert begin vanjaar tien (10) klandestiene dwelmlaboratoriums ontbloot en 34 arrestasies gemaak buiten hierdie een.
’n Bykomende verdagte (44) is gister gearresteer op aanklagte van vervaardiging, handel en besit van onwettige dwelms en sal binnekort in die hof verskyn. Die saak teen die vier beskuldigdes wat in die hof verskyn het, is tot 1 Augustus 2024 uitgestel. Die ondersoek duur voort.