‘n Brasiliaanse burger, Risclif Tadue Ramos (36), het gister in die Kempton Park-landdroshof verskyn nadat hy probeer het om ‘n besending met 4 kg kokaïen wat aan sy liggaam versteek was, die land in te smokkel.
Lede van die Oos-Rand-gebaseerde Valke se Georganiseerde Misdaad Ondersoekspan het inligting ontvang oor ‘n dwelmmuil wat Vrydagmiddag vanaf Brasilië by die OR-Tambo Internasionale Lughawe (ORTIA) sou land. ’n Multidissiplinêre span het die geïdentifiseerde vlug by die landingsbaai genader. Die verdagte is opgespoor. Hy het geen ingeboekte bagasie gehad nie, maar wel handbagasie.
Hy is na die ORTIA-polisiestasie geneem en ‘n tolk is verkry nadat hy aangedui het dat hy nie Engels verstaan nie. Hy het deur die tolk aan die beamptes erken dat hy in besit van dwelms was. Ramos is aan ‘n liggaamsondersoek onderwerp, wat aan die lig gebring het dat sowat 4 kg kokaïen om sy liggaam toegedraai was. Hy is onmiddellik gearresteer en aangekla vir die oortreding van die Wet op Dwelms en dwelmhandel.
Die landdroshof in Kempton Park het die saak tot Dinsdag, 30 Julie 2024 uitgestel vir ‘n borgtogaansoek.