Marius Broodryk
Vier verdagtes is gistermiddag in ‘n skietgeveg met die polisie in Sydenham doodgeskiet en nog een is gewond.
‘n Multidissiplinêre span bestaande uit polisiebeamptes van die DPCI Provinsiale Opsporingspan, DPCI Anti-Bende Eenheid, KwaZulu-Natal Provinsiale Taktiese Reaksiespan (TRT), die Pietermaritzburg K9-eenheid asook privaat sekuriteitspersoneel het toegeslaan op die verdagtes wat gesoek is vir verskeie geweldsmisdade, insluitend kontant-in transito rooftogte en moorde.
Die polisie het die verdagtes op Moses Kotaneweg voorgekeer en opdrag gegee om te stop. Die bestuurder het die polisie se instruksies verontagsaam en die insittendes van die voertuig het op die polisie losgebrand terwyl hulle weggejaag het.
’n Skietgeveg het ontstaan en die verdagtes se voertuig het op die hoek van Moses Kotane en Barns-pad teen ‘n muur vasgery. Vier verdagtes het noodlottige skietwonde in die voertuig opgedoen. Die vyfde verdagte het uit ‘n bewegende voertuig gespring en is gewond. Hy is in besit van ‘n vuurwapen gevind en is in hegtenis geneem. Die aantal vuurwapens wat in die voertuig gevind is, sal bevestig word sodra die soektog voltooi is, alhoewel die polisie kan bevestig dat een van die vuurwapens wat in die voertuig gevind is, ‘n pistool is wat deur die polisie uitgereik is.
Die polisie is ingelig dat die verdagtes op pad was om ‘n moord op ‘n man en twee van sy lyfwagte uit te voer. Die verdagtes is ook gesoek vir moorde op mense wat meestal in die konstruksiebedryf betrokke is.