Die polisie se eenheid teen ontvoering het ‘n groot deurbraak gemaak in die stryd teen “vinnige rooftogte en ontvoerings.”
14 verdagtes is in Johannesburg in hegtenis geneem.
Daar is beslag gelê op twee vuurwapens, banktoerusting, kredietkaarte, kaartmasjiene, rekenaars en ‘n voertuig.
Die deurbraak is gemaak nadat ’n man in die Devland-omgewing in JHB ontvoer is.
Die polisie en private sekuriteitsmaatskappye het op ‘n perseel in Greenstone Park toegeslaan waar agt verdagtes in hegtenis geneem is.
Twee mans is ook buite die kompleks in hegtenis geneem waar ‘n groot bedrag kontant teruggevind is. Dit is uit die slagoffer se rekening onttrek. Nog twee verdagtes is ná ’n hoëspoed-jaagtog in Sandton in hegtenis geneem.
Die slagoffer is by ‘n huis in Diepkloof, Sone 4, Soweto, bevry. Daar is ‘n verdere twee verdagtes in hegtenis geneem.
Onder diegene wat in hegtenis geneem is, is drie Chinese mans (twee word ‘gesoek’ in China), en twee Mosambiekse burgers. Die ander is Suid-Afrikaners.
Die familie van die slagoffer het die hoof van die taakspan onder leiding van maj. Firoz Khan en sy span bedank vir die vinnige bystand.