Sonnette Lombaard
In ‘n deurmekaar wêreld en omgekrapte mensdom is Dirk Lotriet ‘n eiesoort-vars bries. ‘n Trotse Boerseun wat korte mette maak met vooropgestelde idees oor man- en baaswees. In kort, ‘n manly man wat nie omgee om sy witstof ruim in te span maar ook sy sagte kant te wys én te leef nie.
Jou hart is dus swaar om in die winter se hart op ‘n Sondagmiddag in die groot stad se siekehuis hom te gaan besoek – jou kollega wat oornag nou ook die kronkel-kankerpad bereis.
In ‘n enkelkamer in Wits se Akademiese Hospitaal lê hy ooglopend siek en maer. Hy praat stadig en sag. Maar iets bly jou trek en jy kyk weer. Ja, dis duidelik daar in sy sagte oë – die lewenswil in Dirk Lotriet se blou kykers flikker helder – nes jy gehoop het!
Dít troos en laat jou die trane terugsluk – jy wis onse Dirk gooi nie sommer handdoek in nie. Al is aggressiewe lewerkanker besig om deur hom te kerf, hom ‘n skadu te maak van die lewenslustige en talentvolle man wat sy geliefdes, vriende en kollegas ken.
Die blink baas van Die Waarheid Media vier vandag sy 58ste verjaarsdag in die Donald Gordon Hospitaal in Johannesburg. Hy is verlede Maandag met lewerkanker gediagnoseer, wat reeds versprei het, en kry chemobehandeling.
Dirk het die laaste ruk met sy gesondheid gesukkel (varkgriep was die vermoede), en sy fisiese agteruitgang in ‘n kort tyd was opvallend. Bloedtoetse en scans het die vrese bevestig.
Die nuus het gou versprei want Dirk Lotriet is ‘n naam en groot gees in die Afrikaanse media- en taal- en ander kringe. Vir sy kollegas by Die Waarheid Media en Forever Diamonds and Gold is hy die geliefde “Dirkie”, soos grootbaas Louis Liebenberg hom vroeg al gedoop het.
My eie pad het in 2008 met Dirk s’n gekruis – ons het albei toe reeds lank vir Media24 gewerk. In 2021 het Louis hom aangestel as baas van Die Waarheid Mediahuis. Hy het my in 2022 ‘n pos aangebied.
Albei Johannesburgers, het ons mekaar goed leer ken toe ons soggens saam die pad na Die Waarheid se kantore in Kempton Park aangedurf het en smiddae terug.
Blitsig beindruk met sy deurdagte, wye algemene kennis, is hy loshande een van die slimste en flinkste breine nog oor my lewenspad. Dirk kan onderhoudend en met gesag oor uiteenlopende onderwerpe gesels.
Natuurlik die nuus en politiek van die dag, sport (hy het ‘n sagte plek vir atletiek), Persiese matte, antieke meubels, manshorlosies (hy het self gesogtes in ‘n klein versameling), parfuum tot die letterkunde, mediese wetenskap en musiek.
In sy vrye tyd woon hy graag veilings by, verkoop Persiese matte, en skryf romans of moeilike gesondheidstories. En dan ontwerp en maak hy nog klere ook, soos sy eie hemde en selfs aandrokke vir sy skoondogter of dogter Eva (8).
In my brein is Dirk se menswees gestoor. Sy sensitiewe siel – daai sagte, oë wat dieper kyk en sien (al sê hy dit min) en sy hartseerglimlag wat verklap hy verstaan van die lewe se seer en deurmekaar.
Ons kollega by Die Waarheid, Sonja Brown, het reg van die begin saam met Dirk gewerk. Sy beskyf hom so:
“Dirk. Die man wat ewe gemoedelik teen 80km/h in die vinnige baan op ‘n snelweg kan ry sonder dat hy dit agterkom, want hy droom in stilte met oop oë.
“Dirk. Briljante brein … nugter denker wat my moermeter gou weer na 0 laat terugkeer met wyse raad en ‘n tikkie humor.
“Dirk. Die gemoedelike siel vol liefde vir sy familie by die huis én by die werk.
“Dirk. Die verjaardagman vandag. Ek salueer jou. Vandag en altyd. Liefde, Sonja.”
Louis Liebenberg beaam dit. “Hy is een van daai rare breins wat jy eenmaal in jou lewe raakloop. Ons is so bevoorreg om ‘n man met sy kennis en ervaring in die mediabedryf as ‘n ware koerantman saam met ons te hê. Met sy skerp, humoristiese benadering en diep omgee vir sy vrou en kinders en letterlik alle mense, maak sy soort ons wêreld mooi.
“Dirk is ‘n wandelende ensiklopedie, maak sy eie hemde en leertas en niks is ooit vir hom te veel om te doen nie. Mag God hom deur hierdie storm dra. Wees stil in gebed: daar gaan ‘n man verby. Baie geluk met jou verjaardag Dirk. Ons is lief vir jou, liewe broer!”
FDG se mynbaas, Enricho Irvia, stuur namens almal op die myn in Koiingnaas dié boodskap:
“Dirk, wanneer ek jou sien of jou naam hoor, is dit van iemand met integriteit wat opkom, juis nou wyl joernaliste hul siele verkoop vir sensasie. Jy troon uit met jou kennis en aanvoeling vir die joernalistiek.
“Met die verkiesing was dit lekker om jou kommentaar en verduidelikings te volg. Toe ek jou ontmoet het, het daar ‘n rustigheid in jou uitgestraal. Ek het gewonder hoekom jy so stil is, gemaklik oor jou werk en weereens besef, niks kan ondervinding koop nie.
“Tydens hierdie stryd, onthou: Jy is nie alleen nie. Jou familie en vriende is daar vir jou elke tree op hierdie weg. Jy is sterker as wat jy dink, dapperder as wat jy voel en meer geliefd as wat jy besef. Onthou om asem te haal, om vir ‘n oomblik te rus – laat jou familie en vriende jou help om die gewig te dra. Jy hoef dit nie alleen te doen nie. Mag onse Vader jou die krag en genade gee om hierdeur te kom.”
“Dirk, baie geluk met jou verjaardag!” het radio-omroeper Niekie van den Berg vanoggend laat hoor.
“Ek en jy ken mekaar al baie, baie jare. As ek terugdink het ons paaie by die eerste lnniebosfees gekruis. Ons geselsies by die werk was altyd lekker as jy so ‘n vinnige sigaret gaan rook het. Dan is jy weer ewe skielik terug in jou kantoor waar jy as diep denker dinge kon ontleed. Baie dankie vir jou vriendskap deur al die jare.”
Jy kon Dirk nog nooit in ‘n boksie plaas nie, meen bekende joernalis Jacques Myburgh. “Woorde soos maverick en aweregs kom by my op as ek hom moet beskryf. My paaie het met Dirk gekruis toe ek as groentjie by ‘n poeniekoerant begin werk het. Dirk was die adjunkredakteur.
“Hy was een van die harde baarde wat my potensiaal raakgesien het én dit ontgin het. Jare later het ons paaie weer gekruis. Sy woorde aan my: ‘Jy is dalk een van die beste skrywers in die joernalistiek.’ Om só iets te hoor by ‘n geharde koerantman soos Dirk, is meer werd as ‘n pan vol goud.”
Kabaretster Marie Beytell, bekend as Die Afrika-vrou, dink so oor haar vriend Dirk: “Dirk Lotriet is superskerp, ‘n byna ALLES-wetende fenomeen. Met ‘n fantastiese sin vir humor! Hy is natuurlik ook ‘n storiejagter van formaat en weet mense dat hy kan klere ontwerp en maak?
“Ek hoop met my hele hart en siel dat jy GOU gesond sal word, Dirk!”