Paul C Venter kuier by
SUID-AFRIKA SE OULIKSTE OPSTOPPER
Joanna woon saam met haar ouers en ‘n broer in die paradys. Dis ‘n ongerepte stuk oerwoud op die oewer van die magtige rivier wat die Transkei van Kwazulu Natal skei. Wilde wêreld vir so ‘n klein mensie, maar net 18 jaar oud, fyn gebou, mooi en donker. Haar van is Aliphon. Dis Frans. Sy praat Engels. Die bloed in haar are is ‘n mengsel van Frans, Portugees, Duits en Spaans. Haar pa Gary sê sy is ‘n fruit salad.
Twee jaar gelede, toe sy nog op tegniese skool in Durban was, het Joanna Aliphon vir die eerste keer ‘n dooie diertjie weer lewendig laat lyk. Die inspirasie het gekom van die juffrou in haar biblioteek; Missus Erin het opgestopte “ground game” bymekaar gemaak. In Afrikaans praat ons natuurlik van “kleinvolk”, en dis enigiets van geitjies tot voëltjies. Daar is taksidermiste wat selfs olifante opstop, maar ek vermoed dis mense aansienlik groter en sterker as Joanna.
“The taxidermy of small animals became my passion,” vertel sy met haar sagte stem.
Opgestopte geitjie
Taksidermie se oudste klein diertjie, ‘n papegaai, is in 1702 opgestop en het aan die Hertogin van Richmond in Engeland behoort. Die African Grey lyk nog steeds heel skaflik, maar die naam van sy opstopper is ongelukkig nie bekend nie. Taksidermiste moet ooglopend nog by skilders en beeldhouers leer om hulle werk te onderteken.
Joanna se eerste diertjie was ‘n degu. Dis ‘n muisagtige diertjie uit die Chileense bos in Suid-Amerika. Joanna erken sy het aanvanklik niks geweet van opstop nie; met die hulp van Google weet sy nou aansienlik meer. In die afgelope twee jaar het sy onder andere akkedisse, krimpvarkies, paddas, voëltjies, rotte en slange opgestop. En, maak sy dodelik ernstig seker ek verstaan mooi, sy het nie een van hulle doodgemaak nie; die diertjies kom uit ‘n vriend se troeteldierwinkel en “passed away naturally” of is deur honde en katte doodgemaak. In die geval van gewelddadige dood moet sy natuurlik eers die verskeurde diertjie met netjiese steke herstel voor sy dit kan opstop. Ja, sy herinner party mense dalk aan die Addams Family se Wednesday, maar sy is definitief nie so weird nie.
Opgestopte padda
Van Starry en Biggers kan sy ongelukkig nie dieselfde sê nie. Starry en Biggers is twee rondloperkatte en sy moet net keer of hulle steel en kou haar hele versameling. Dis ook seker net ‘n kat wat ‘n opgestopte padda of ‘n Snat met ‘n soft toy kan verwar.
‘n Snat? Wag, asseblief, hou aan lees.
Joanna is al geld aangebied om ‘n dier op te stop, maar sy voel sterk sy durf haarself nog nie as ‘n professionele taksidermis bemark nie. Sy glo sy “lack proper training and proper tools”; haar ma Annabella voel weer die kind onderskat haarself soms.
‘n Volledige kursus in taksidermie kos in die omgewing van twee honderd duisend dollar, en dis “way beyond my budget,” sê Joanna wrang. Die regte gereedskap is ook nie juis goedkoop nie. By Joanna se werkplek, ‘n eenvoudige plastiektafeltjie op die agterstoep, is daar basies net ‘n rol dun draad, ‘n pak watte, twee of drie kleinbektange, bokse kleurkryt waarmee sy die opgestopte diertjies natuurlike kleur probeer gee, en ‘n skerp craft blade-mes. Baie skerp.
By haar werktafel waar sy ‘n ‘vars’ tipe akkedis vashou
Waarvoor word so ‘n skerp mes gebruik? “It gets the job done,” glimlag sy.
Ek dring daarop aan om meer te weet en Joanna verduidelik so breedvoerig ek wens naderhand ek het nie daarop aangedring om meer te weet nie. Kortliks kom dit daarop neer dat die skerp mes die diertjie oopkloof sodat die proses van opstop kan begin, en glo my die proses behels die gebruik van ‘n hengse klomp watte.
“You don’t empty the creature,” sê Joanna, “and you don’t gut it like chicken, you skin it like a pig. A frog is probably the easiest subject to stuff, a bird the most fragile.”
As dit natuurlik ‘n slang is, verander die proses nogal drasties: feitlik alles binne-in die slang moet deur die slang se bek uitgetrek word. Dis moeilik om te glo ‘n klein mensie soos Joanna kan so ‘n groot job suksesvol uitvoer.
Die PH-balans is van kardinale belang, beklemtoon sy. Die diertjie verloor kleur as dit te laag is, en kan heeltemal wegkrimp. Sy gebruik sout om die PH-balans reg te hou.
‘n Taksidermis, begin dit al hoe meer vir my lyk, moet ‘n kombinasie van kunstenaar, skeletkenner, chirurg en wetenskaplike wees. Onder andere. En dis nie ‘n job vir sissies nie: jy moenie bang wees vir bloed nie.
Joanna erken dis haar droom om meer ingewikkelde, groter jobs te doen: visse, bokke, jakkalse, “and maybe one or two stray cats trying to steal my taxidermy pieces!” lag sy.
Op die oomblik werk sy hard daaraan om ‘n buitengewone en nogal omstrede rigting onder die knie te kry: “Anthropomorphic taxidermy, which inspires me to create whimsical, Victorian-style pieces with a touch of humour.”
Sy het haar eerste opgestopte diertjie, die degu uit Chile, ‘n blou rok en ‘n towenaarhoed gegee. ‘n Ander poging is ‘n rot met ‘n voëltjie se vere en vlerke. En genade, hier kom ons nou by … die Snat!
Die Snat
Die Snat is ‘n rot met ‘n slak se huisie op sy rug. Dink Engels: snail plus rat … Snat. Joanna vermoed haar skepping is ‘n true orginal.
Dit was nog altyd ‘n omstrede rigting, daar is mense wat voel dis “in rather bad taste,” maar onthou bietjie waar kom die Snat se twee dele vandaan: Die slak se dop is in die veld opgetel, die rot is van natuurlike oorsake in sy hok in die troeteldierwinkel dood. Twee vorms van lewe het die einde van hulle pad bereik. Stof tot stof dus … maar toe kom Joanna met haar verbeelding en verleng die pad, sy skep ‘n buitengewone kunswerk uit die wrakstukke van twee lewens.
Joanna sien alles as praktiese maniere om haar vaardigheid as taksidermis nog verder te ontwikkel. Sy kan nou wel nie ‘n duur internasionale kursus bekostig nie, maar sy kan in haar eie tyd eksperimenteer en leer. Sy wil ook baie graag deur die internet ander opstoppers ontmoet sodat sy iets nuut uit die ervaring en foute van ander kan leer.
“I would love to meet and chat with other struggling taxidermists all over the world, young and old, hopefully to share my experiences stuffing small animals and learn from theirs. I’m at joanaaliphon2005@gmail.com – please let me hear from you.”
Ek wonder, sal daardie twee rondloperkatte aan die Snat probeer kou? Ek twyfel.
einde