Skip to main content

Paul C Venter onthou

DIE DUIWELKIERIE

 

Soos die jare aanstap, begin die padkaart in jou brein krimp: daar is paaie en ompaaie wat jy nie meer onthou nie, en dis hoekom daar kieries in my melkkan staan wat ek nie kan verduidelik nie. Ek weet nie meer hoe de vloek ek aan hulle gekom het nie.

Die duiwelkierie is nie een van hulle nie. Ek weet blêddie goed waar ek die duiwelkierie gekry het, en eintlik wens ek dit is iets wat ek kan vergeet.

Vroeg in Mei 1971 trap ‘n vangwa die grensoorlog se eerste landmyn af. As ek reg onthou was daar twee polisiemanne voor en nege of tien gevangenes agter in die vangwa. Die ontploffing ruk ‘n gat “so groot soos ‘n lekker jacuzzi” in die grondpad – ‘n aanhaling wat in my kop bly leef maar ek vergeet wie dit gesê het – en die vangwa vlieg die lug in; land op sy dak ‘n ent verder. Almal is glo dood.

Dit gebeur in die Caprivi, daardie dolk wat uit ou Suidwes in Afrika steek. Daar word gou nog myne in dieselfde gebied afgetrap, en die slagoffers is elke keer polisie of troepe. ‘n Nuwe fase in die oorlog, anti-personeelmyne, kon nie harder deur Sam Nujoma en die Angolese aangekondig word nie.

Suid-Afrika probeer keer met pogings wat nie werk nie – mynopsporing met die hand is tydsaam en gevaarlik, tenks wat myne verwyder onprakties oor so ‘n groot gebied – en die antwoord is uiteindelik toe gepantserde troepdraers. Die Bosvark, Buffel, Seekoei en ander metaaldierasies word geskep om polisie en troepe te beskerm. Hulle red lewens maar ly aan allerhande skete: een neuk te maklik om, ‘n ander een se enjin pak op as dit nou regtig nie nodig is nie.

Toe kom die Casspir, ‘n taai bliksem wat nie twak vat van landmyne nie, vinnig en laag gebou sodat ontploffings hom nie omgooi nie; sy enjin skynbaar ‘n onsterflike monster. Is die Casspir die volmaakte klimaks van die gepantserde evolusie?

Dis wat die media graag wil weet. En dis waar ek inkom. Saam met ander “hoernaluste”, soos Breyten Breytenbach ons allesbehalwe skertsend gedoop het – bevind myself een oggend vroeg op Waterkloof, die militêre lughawe by Pretoria.  Ons gaan grens toe om onder andere Casspirs te ry. Jy gaan nooit grens toe vir net een storie nie. Ek glo nie ek het in my koerantdae ooit vir een storie ver gery nie.

(As ek myself vlugtig mag onderbreek: Wanneer maak iemand ‘n movie oor die ironiese Breytenbach-broers? Ouboet Jan die lojale soldaat van beroep, middelboet Cloete die siniese fotojoernalis en kleinboet Breyten die rebelse digter; die dilemma van Afrikaner wees in een bloedlyn saamgevat.)

Ons toergids grens toe is Stafsersant Snor. Nee, dis nie sy regte naam nie. Hy gee ons die vliegtyd na Grootfontein, voeg by die inligting is nie vir publikasie nie. Die meeste van ons het al soontoe gevlieg, weet dis ‘n lang vlug op ‘n kreunende ou Dakota DC3 wat vriendelik as ‘n Flossie bekend staan, en minder vriendelik as ‘n Vomit Comet of Kotskoets.

Timmy the Tourist vlieg al weer saam. Nee, dis nie sy regte naam nie. Dis elke keer sy eerste besoek aan die grens. Hy is altyd jonk, plomp of maer, gaan bloedrooi of bruin gebraai terugkom. Hy werk gewoonlik vir ‘n knock-and-drop koerant, en hou nie op vrae vra of foto’s neem nie.

Die dobbelaars onder ons waag klaar ‘n geldjie: Hoe lank gaan dit vat voor Timmy the Tourist op hierdie Dakota DC3 sy brekfis aan ‘n lugsieksakkie skenk?

Hennie die Hofnar vlieg natuurlik weer saam. Nee, ook nie sy regte naam nie, hy is soos Timmy the Tourist ‘n tipe. Hy smokkel soms ou Playboys saam om troepies se guns te wen, maak altyd grappe wat nie vreeslik snaaks is nie.

Van ons dobbelaars wed ook op hoe sterk hierdie Hennie se maag is.

Hy begin ons sommer op Waterkloof al vergas met “Hoekom noem hulle dit altyd Grootfontein? Hoekom is so ‘n plek nooit Grootste Fontein nie?” Niemand lag nie. Stafsersant Snor roer sy lippe, maar nie in ‘n glimlag nie, dis eerder soos iets wat ‘n luiperd aanvang net voor hy die bobbejaan aanrand.

Hierdie Timmy the Tourist verloor sy spek en eiers die eerste keer toe die Kotskoets maak of hy val. Dis sy ou laai. My vriend Koos Roets, filmmaker en vlieënier, sal jou vertel ‘n Dakota DC3 en Leon Schuster het ‘n wrede streek in gemeen: hulle probeer altyd ‘n gat van jou maak.

Die geur van Timmy the Tourist se spek en eiers bereik Hennie die Hofnar se neus en hy vind dit so snaaks hy steek sy glimlag in ‘n lugsieksakkie weg.

Dobbelaars grinnik en sê oophand: “Kom, hoes.” Ongelukkige dobbelaars hoes.

Op Grootfontein word ons ‘n Casspir gewys en deur ‘n paar hoër range toegespreek, onder andere oor hoekom die Casspir een honderd persent beter as die Buffel is. Ons stel vrae en kry antwoorde oor die Casspir se spesifikasies. Stafsersant Snor waarsku die “spesifieke spesifikasies” is nog nie vir publikasie nie, daaroor moet Hoofkwartier, Voortrekkerhoogte eers besin en besluit. Timmy the Tourist neem amper ‘n rol film van ‘n Casspir se wieldop omdat hy dink hy kan Grootfontein daarin sien. Hennie die Hofnar sê die dorp laat hom aan Bothaville dink, maar sonder die naglewe.

Van ons begin dit oorweeg om hom hier te los.

Die gawe vrouens en tienerdogters van plaaslike predikante voer ons aangemaakte koeldrank, koeksisters en melktert in ruil vir nuus uit Suid-Afrika. Daarna ry ons in konvooi Estosha-hek toe, ‘n sogenaamde “warm” gebied omdat landmyne kort-kort afgetrap word en waar daar ‘n storie wag wat niks met Casspirs te doen het nie. En ons ry in Buffels wat skynbaar een honderd persent minder veilig as Casspirs is.

Ons oorleef dit en slaap daardie aand in ‘n netjiese kamp van Swaspes, Suidwes-Afrika: Spesiale Magte. Die kos is heerlik, die bier baie, die naghitte so geweldig ons gaan sit saam met troepies in die swembad wat een groot baby pool is omdat die spesifikasies uit Suid-Afrika verkeerd was.

“Hoe laat maak die disco oop?” vra Hennie die Hofnar onder ‘n ontsaglike sterrehemel.

Die troepies dink ook nie hy is snaaks nie. Hulle verlang na regte disco’s by die huis.

Die muskiete dra my daardie nag drie keer weer swembad toe, en na die derde keer bly ek toe maar daar in die vlak, koel water en probeer slaap. Dis my verskoning, okay?

Die volgende oggend vroeg word ons ingelig oor die storie wat ons hier moet doen. Die uniforms noem dit ‘n sitrap – situasie-rapport – en natuurlik probeer Hennie die Hofnar ‘n grap met “sitraap” maak. Timmy the Tourist neem foto’s totdat Stafsersant Snor dreig om sy kamera weg te vat: wat hier gebeur en gesê word, sal slegs vir publikasie wees as Hoofkwartier, Voortrekkerhoogte in Suid-Afrika daaroor besin en besluit.

Hierdie kamp, volgens die sitrap, lei onder andere troepies vir ‘n nuwe, hoogs geheime aanvalsmag op. Voordat die mag teen die vyand geloods word, moet daar nog “so hier en daar ‘n kreukeltjie” uitgestryk word. Dis hoekom daar nou ‘n embargo op die plasing van die storie is, maar almal betrokke by die bike squad wil bittergraag trots die bestaan daarvan met die wêreld deel.

Bike squad? Trapfietse of motorfietse?

“Motorbikes, natuurlik,” word ons trots verseker, “en hulle is vuurwarm gemaak, Boeta.”

Ons word ‘n vertoning belowe, ‘n skynaanval deur hierdie nuwe, unieke bike squad. Maar eers moet ons brekfis. Dis kos is weer eens koningskos, die eetplek ‘n mooi en ruim grasdak sonder ‘n vloer.  Die warm sand beweeg: yslike swart miskruiers stoot ronde balle perdemis vinnig rond. Die kamp het ook ‘n riding squad wat lankal in die veld is en veral goed saam met spoorsnyers werk. Die perde word pragtig versorg.

Die dobbelaars onder ons waag blitsgou ‘n geldjie op watter miskruier gaan watter skaduwee op die sand eerste met sy bol stront oorsteek. Timmy the Tourist giggel en neem gretig foto’s. Hennie die Hofnar waarsku hom dis nie vir publikasie voor ons die spesifieke spesifikasies uit Suid-Afrika het nie.

Hierdie keer gee ons ou Hennie darem ‘n glimlag.

 

WORD VERVOLG

 

 

 

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!