Skip to main content

Mannekyn en mampoer – Deur Vasti Blackbeard

Ina Venter sit met ‘n probleem. Sy wik en weeg nou al vir meer as ‘n week oor watse aksie sy moet neem oor die reuse juk wat op haar skouers rus, en vandag, het sy besluit, is die dag van afrekening. Sy is reeds vroeg uit die vere, het sommer twee pakkies kits ontbytpap geëet vir krag, en nou drink sy haar swart, bitter koffie stadig. ‘Dink positiewe gedagtes, Inatjie,’ praat sy haarself moed in. ‘Jy kan nie nou opgee nie.’

Haar koffiebeker word stadig gewas en op die afdroograk neergesit. Dan stap sy badkamer toe om haarself nog vir oulaas in die spieël te bekyk. “Reg soos ‘n roer. Een vól buskruit,” prewel sy vasberade. “Jakob gaan nooit wat hom getref het nie,” knip-oog Ina vir haarself en loop terug kombuis toe. Sy weet dat sy dit wat sy beoog nie meer langer kan uitstel nie, en loop vasberade by haar agterdeur uit.

Haar hart swel van trots oor haar netjiese tuin, en die aroma wat die wind dra ruik pure rose. Daar was nog nooit iets met Ina se groen vingers verkeerd nie, en nes haar ouma glo sy dat gegapste steggies altyd beter groei. Die drie trappies by haar agterdeur lei haar tot op die netjiese grasperk, en sy pak die klein entjie na die buurmuur vol bravade aan.

Die muurtjie tussen haar en haar buurman, Jakob van Vuuren, is nie baie hoog nie. “Dankie tog daarvoor,” prewel sy verlig. Ina druk haar geblomde crimplene rok se kante by die beenrekke van haar ‘step-in’ in en haal haar metaalraam bril baie versigtig van haar neus af. Dié sit sy versigtig langs die lae skeidsmuur neer en probeer deur die brillose waas sien waar haar teiken nou is.

“Sjibit, nou kan ek absoluut niks sien nie,” sug sy en gryp weer die bril. “Ah, daar’s hy” loer sy weer waarheen sy wil loop. “Nou moet ek net my kop in daardie rigting hou sodra my bril weer af is sodat ek nie na ‘n ander plek toe loop wanneer ek oor die muur is nie…” Sy giggel vir haar woorde, maar sluk die lag weg en maak plek vir die erns-van-die-saak-uitdrukking.

Jakob van Vuuren staan hande in die sakke in sy kombuis en hou sy buurvrou dop. Hy weet wat sy wil doen en wag al lank vir hierdie oomblik. Hy besluit om te wag totdat sy by haar teiken is en dan gaan hy haar ‘n hengse skrik op die lyf jaag. Hy beplan immers hierdie ‘ontmoeting’ al vir vier maande en hy kon al die hele week aan sy atritis-elmboog voel dat Ina dit nie meer langer sal kan uitstaan nie. ‘Ek moet erken dat dit ‘n briljante idee was om die grys pruik te gebruik,’ dink hy met ‘n stout glimlag.

Ina se oë is in klein gleuwe van konsentrasie geknyp om nie donker kol in haar visie te verloor nie. Een been is nou oor die muurtjie en sy balanseer met haar sterre bo-op voordat sy die ander een oorswaai. Sy wou net bly word oor die gladde oorgang toe sy begin kantel en haar arms benoud soos windpompvinne swaai om haar balans te stabiliseer. Helaas, haar plomp lyf land soos ‘n sak kapok-aartappels op die gras in die buurman se erf toe haar rok aan die growwe stene vashaak, en sy strompel orent voordat ‘n grts-geluid skrikwekkend in haar brein eggo. Sy voel-voel agterlangs en wil horries kry omdat daar ‘n gat so groot soos ‘n vyfrand muntstuk op haar agterstewe is. Sy swaai terug na die muur, buk vooroor om beter te sien, en spoor dit op. Die gewraakte stukkie materiaal wat die klank veroorsaak het kleef tartend aan die muurtjie vas.

Jakob sien hoe Ina die stukkie lap van die muur afpluk en in haar hand toedruk. Sy maag skud soos wat hy lag. “Ja nee, my Inatjie is ‘n karakter. Ek hou daarvan!”

“Die teiken,” mompel sy en probeer weer die donker kol in haar sig kry. ‘Ah, daar sien ek dit nou weer,’ dink sy met ‘n glimlag en loop op haar tone nader.

Jakob beweeg stilletjies by die agterdeur uit en staan nou agter die reuse suurlemoenboom wagtend op Ina om haar verskyning hier vlak voor hom te maak. Sonder haar bril sal sy hom nie sommer dadelik raaksien nie.

Ina bereik uiteindelik haar teiken en sy moet erken dat die kreasie nogal indrukwekkend is, veral so van naby af. Wie sou nou kon dink dat ‘n winkelpop so baie na haar sou lyk? Selfs die hare is dieselfde. Sy lig haar lappielose hand op en vat aan die pop se ellelang wimpers.

“Wat maak jy, Inatjie?” vra Jakob sag langs haar.

Ina versteen en vloek trosse matrooswoorde in haar kop, haar oë styf toegeknyp. “Jimmel, Jakob, wil jy nou regtig hê dat my testament vandag geldig raak? Vir wat bekruip jy my so?” sis Ina.

“Vir wat bevoel jy my mannekyn? En dit nogal in die helder daglig…”

“Bevoel?” blaas Ina. “Ek wil die mêddim laat voete kry!”

“Nou vir wat nogal?” vra Jakob met ‘n reguit gesig. Ag, sy is nogal oulik as sy omge-ellie is!

“Want … want…” Ina klap met haar tong. “Die frieken vrou lyk nes ek! En geen beeld van my gaan as voëlverskrikker ingespan word nie! Nie hier nie! Nêrens nie! Nêwwer!”

“Voëlverskrikker? Waar kom jy nou daaraan? Sy is gans te mooi daarvoor.”

“Hoekom anders sal jy die vals vrou staanmaak hier buite as dit nie is om die voëls weg te hou van jou vrugtebome af nie?” vra Ina gebelgd. “O, ek sien hoe jy elke dag met die vrugte flankeer. Druk ‘n persketjie of twee hier, ruik daar aan ‘n suurlemoen…”

“Spioeneer jy in die geheim op my, dametjie? Nou nie dat ek ‘n ietsie het om weg te steek nie, maar as ek geweet het, dan het ek beslis my maag ingetrek,” terg Jakob.

Ina grom. “As jy nou jou bril opgehad het sou jy gesien het dat die pragtige mannekyn-meisie reg langs die plekkie staan waar ek elke middag my swart rooibostee met suurlemoensap en heuning drink. En watter beter manier is daar om ’n mens se ou middag-teetjie te geniet as saam met ‘n replika van die nooi wat my oog al vir meer as ‘n jaar gevang het so styf langs my?”

“Maar ek dog … jy…” Ina klap haar tong en strompel tastend terug na die muur. Sy klim soos ‘n koliekerige krap terug oor die viervoet bakstene, prewel ‘n skietgebedjie dat Jakob hopelik nie by die rok se gaatjie hier agterlangs ingeloer het nie, en gryp haar bril.  Sy mik eers na haar agterdeur, maar verander van roete en storm hek toe. Dan pluk sy dit oop, drafstap die paar meter na Jakob se voorhekkie en stoot dit vinnig oop.

Jakob staan steeds by die agterdeur. Hy is verstom oor hoe vinnig so ‘n waardige dame – en boonop een van háár ouderdom – oor ‘n muur kan skarrel, en skrik toe Ina om die hoek gestorm kom.

Nou sê jy my!” skel Ina. “Na ál die tyd?”

“Wat bedoel jy, Inatjie?”

“Jy wag vir dertien maande om my te sê dat jy van my hou! Op ons ouderdom kan ons môre dood opstaan, en dan is dit te laat!” Sy gaan sit bewerig op ‘n draad-tuinstoel langs die mannekyn-meisie, haar hart aan die gallop. “Is dit nie al tyd vir tee nie?” vra sy toe ander woorde haar ontgaan, en fladder haar sewentigjarige wimpers vir Jakob.

“Wag net hier. Ek het iets beters vir ons tweetjies,” knip-oog hy en verdwyn so vinnig as wat sy ouderdom toelaat by die agterdeur in. “Nou waar is daardie pynappel-mampoer wat ek Maartmaand by my broerskind in Vaalwater gekoop het? Hopelik slaan dit haar asem weg soos wat sy met myne maak,” prewel hy opgewonde. “Nie in die spens nie,” mymer hy terwyl hy oral kasdeure oopmaak in die soektog.

Ina wag. En wag. En wag. “Nou waar is die man tog?” Sy sukkel orent en druk haar hande op haar knieë om met die proses te help en waggel by die kombuisdeur in.

“Jakob?”

Geen antwoord nie.

“Jakob!”

“Hier,” prewel hy benoud agter die kombuistafel.

“Hygend hert! Nou wat maak jy op jou knieë?”

“My rug het uitgehaak. Die tagtigjarige werwels maak soms so. Hier, vat die mampoer aan en help my op.”

“Nee wat, Jakob,” sê Ina en gaan sit langs hom op die vloer. “Kom ons tweetjie drink sommer daai werwels los,” giggel sy roekeloos en knak die prop se seël na ‘n gesukkel.

Jakob het duidelik nie besware nie.

Sy vat ‘n klein slukkie uit die bottel en Jakob kyk hoe haar oë eers soos sopborde word en dan onwillekeurig twee lang trane stort. Hy wag geduldig dat sy haar asem terugkry sodat sy die bottel kan aangee. “Op ons,” lig hy die mampoer bottel op.

“Uiteindelik. Tjorts!” lig Ina die prop in die lug. “Op ons… Oor daai pop daar buite…”

“Vat nog ‘n slukkie, Inatjie, want daai pop daar buite gaan nêrens heen nie. Hierdie een langs my hopelik ook nie.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!