Skip to main content

George April

‘n Vlak 8 storm-, reën- en wind-waarskuwing vir Sondag, het veroorsaak dat die beplande ouervergadering op Hopefield vir ‘n dag uitgestel moes word.

Dit het tot gevolg gehad dat ‘n besluit wat by ‘n vorige vergadering gemaak is, ter syde gestel moes word. Die Waarheid het verlede maand berig hoe keelvol Hopefield se ouers is van sukkel om hul kinders op skool te hou.

Tydens die vorige vergadering is besluit om drastiese stappe te neem om die Wes-Kaapse Onderwysdepartment (WKOD) se aandag te kry. Dit sou behels om kinders tuis te hou, nie koshuisgelde te betaal nie, en ook nie subsidiesvorms te voltooi nie. Met die uitstel van Sondag se vergadering moes die eerste besluit eers opsy geskuif word aangesien kinders reeds ‘n dag voor die skool begin, na die koshuise vertrek.

Jean Jefthas, ‘n gewese Weston Skole-bestuurslid van Velddrif, het die gure weer trotseer om Hopefield  se ouers te ondersteun.

Daar is wel gisteraand besluit dat enige geld vir koshuisverblyf nie betaal sal word, of enige dokumente nie onderteken gaan word nie.

Daar was ook besluit dat daar volgende week opgeruk gaan word na Weston Senior Sekondêre Skool in Vredenburg.

“As die WKOD ons dan nie wil ernstig opneem nie, moet daar nou drastiese stappe geneem word,” was die eenparige besluit  van ouers.

**** “Ons het tans geen probleme by skole in die Wes-Kaap nie.”  Dit was Maandagoggend die boodskap op Kfm 94.5 radio se nuusberigte vanaf Alen Winde, Wes-Kaapse Premier.

In Vredenburg ruk ouers egter vanoggend op na Eden Primêr Laerskool, om hul kinders terug op die skoolbanke te kry. Volgens Gerrit Scheepers, ‘n gemeenskapleier daar, is die kinders nou al 21 dae uit hul klasse geskors.

**** In Moorreesburg ruk ouers ook vanoggend op oor probleme by hul kinders se laerskool, Laurie Hugo. “Die plan is om die skool toe te maak en voor die skool te picket,” het Gary Lambreght aan Die Waarheid gesê.

“Pogings van ouers om die Onderwysdepartment Inspektoraat (WKOD) by ‘n  onderhandelingstafel te kry, val op dowe ore.

“Die skool is tans ‘n veiligheidsrisiko en ons kinders kan doodgaan of seerkry, indien iets sou gebeur. Die trappe is los en onveilig, die plafon is besig om in te sak, en die hout en die Nu-tect mure rondom die skool is besig om mee te gee. Boonop is die skool se dak nog asbes en dit moet vervang word.

“Ons kinders is glad nie meer veilig nie. WKOD weier om die Brandweer of Swartland Munisipaliteit se ingenieurs of bou-inspekteurs op die perseel toe te laat. Daar was ‘n vergadering geroep op Vrydag 5 Julie, maar WKOD het nie opgedaag nie. Daar was wel opdrag gegee dat niemand die skool mag oopsluit vir die publiek nie.

“Dis hoe min daar van ons kinders gedink word. Ouers word die perseel geweier, maar ons kinders moet in ‘n onveilige omgewing skoolgaan”, het die Moorreesburg gemeenskapsleier uitgevaar.

Die Waarheid het gister navrae na die WKOD gestuur, maar nog geen terugvoer ontvang  nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!