Skip to main content

Die Ladybrand-misdaadvoorkomingseenheid het twee van die drie verdagtes wat gesoek word vir beweerde huisroof in die plaasdistrik Ladybrand blitsvinnig in hegtenis geneem nadat ‘n boer en sy helper deur drie gewapende verdagtes met klapmusse aangeval is. Die vermeende rowers het met die boer se motor van die toneel gevlug. Dit is later teruggevind nadat dit in ‘n ongeluk betokke was in Ladybrand.

Daar word beweer dat die vrou van die boer  – wat in ‘n ander provinsie was – Saterdag omstreeks 17:00 verskeie kere probeer het om haar man op die plaas te kontak, maar kon hom nie in die hande kry nie. Sy het ‘n vriendin gebel om te gaan kyk wat aan die gang was.

Die polisie is dadelik deur die vriendin in kennis gestel van die rooftog en die landelike veiligheidskoördineerder het plaaslike boere geaktiveer.

Na bewering het drie gewapende verdagtes ‘n vroulike werker met ‘n vuurwapen by die huis in gedwing. Die boer, wat in die badkamer was, is ook aangehou terwyl hulle geld geëis het. Die verdagtes het na bewering twee kluise deursoek, maar dit was leeg. Hulle het ander waardevolle items, insluitend die selfoon van die boer, gevat en die toneel verlaat met sy Audi-sedanvoertuig met FS-nommerplate op.

Gister het lede van die Ladybrand-misdaadvoorkomingseenheid die vermoedelik gesteelde voertuig in die dorp opgemerk en die verdagtes agternagesit. Tydens die jaagtog het die voertuig in een van die strate in die dorp gerol. Twee verdagtes is in hegtenis geneem terwyl die derde van die toneel gevlug het.

Die twee verdagtes, onderskeidelik 21 en 28 jaar oud, sal na verwagting vandag in die Ladybrand-landdroshof verskyn op aanklag van huisroof.

Leave a Reply

error: Content is protected !!