Skip to main content

Paul C Venter

 

Warm sop in ‘n warm tent werk nie vir Kerwin nie. Hy sien Becky speel ook net met haar soplepel. Die Generaal eet asof hy nooit middagete kry nie, en praat een strook deur.

Hy het ‘n stapel field reports wat Kerwin moet deurgaan. Iewers lees Kerwin dalk iets raak wat sense van die Mau-Mau se communication uitpuzzle.

“There must be a chief or chiefs behind this,” sê hy. “You can read the reports on the way.”

Kerwin aarsel. “Begging your pardon, Sir, I’m afraid I’ve never been to Izak’s coffee farm.”

“James, I’ll wager you my army pay Becky won’t get lost,” glimlag die Generaal, blink van die sweet. “And you still know how to use a sidearm, don’t you? Should anyone with evil intent get past our lovely lieutenant.”

Becky glimlag stil en styf.

Kerwin roer sy sop met die lepel en wonder hoe voel Becky regtig oor hierdie plan. Bloody hell, soms laat die Generaal hom aan Org dink. Die getroue skaaphond het in die veld, op soek na meerkatte en springhase, aan een gevaarlike swakheid gely: Org het ook nie geweet wanneer om op te hou nie.

 

Kort na middagete verlaat twaalf gewapende polisiemanne die polisiestasie in drie Landrovers, en hulle ry nie stadig nie.

Sersant Harry sit in die voorste Landrover met sy kaart van die koffiedistrik oop op sy skoot. Hy dink aan die Purdey. Made in Spain, a masterpiece of a gun, worth killing for. En hy moet sy eie rekord skoon hou. Sy job gaan bloody dodgy raak as Izak Vogel sommer net wegkom. En hy vermoed die lady lieutenant en haar commanding officer wil die Boer laat wegkom, hy weet nie hoekom nie, maar hy bloody well ruik dit.

As dit van Harry Wallace-Harrison afhang, gaan Izak bleeding Vogel net one-way en dis hel toe. Hy kan met die backing van important mates die galgtou vryspring, maar hy kan nie vinniger as ‘n three-oh-three bullet hardloop nie.

 

Sakkie is bewus van die sny aan sy arm. Dis seer. Hy glo nie dit bloei weer nie, maar die Scheisse aan daardie kapmes moenie nou die sny laat sweer nie.

Hulle ry suid, lankal verby die verlate petrolstasie; mens sal nie sê liegbek Johnny het vanmôre sy kop en Willy helfte van syne daar verloor nie. Hulle is nou-nou by die afdraaipad na die plase, dan sal hy rustiger raak. Met die ompaaie gaan dit langer vat treinstasie toe, maar hy twyfel of die polisie sulke vrot paaie sal blok. Skelms wil gou by hulle bestemming kom, waag dit om op hierdie paaie te jaag en jy gaan tien teen een ‘n as en jou nek breek.

Die plaaspaaie het ook driwwe waar spruite en riviere in die droë seisoen stadig loop. Hy wil by ‘n drif stop en Aggie moet help modder smeer waar die Landrover te maklik uitgeken kan word. Net ingeval polisie tog die slegte paaie dophou.

Hy hoor Sarika vertel Aggie haar man het bright karma gehad, sy glo hy gaan in sy volgende lewe ophou suffer. Sy het ‘n geblomde doek om haar kop gedraai en die lang punt klap soos ‘n banier agter haar. Aggie luister asof elke woord ‘n diamant is.

Sakkie voel lus en klap bietjie verstand in hom. Verdammt, hierdie obsessie is ‘n tydbom. Op die stasie gaan Sarika besef Aggie wil saam Mombasa toe, en dan gaan sy tien teen een in hulle gesigte ontplof.

 

Anke wil eers die bol mis voor die woonstel verwyder, toe raak sy kalm en dink mooi: Nein, idiot, moenie der Beweis verwyder nie, wys dit vir iemand wat die saak kan oplos.

Oom Arnoldus, wewenaar van voor die oorlog teen die Duitsers en ouderling in sy kerk, pas die woonstelle op. As jou toilet nie spoel nie of jou ligte brand nie, bel oom Arnoldus. Hy sal iemand bel wat kan help.

Hy lyk soos sy naam, bejaard en knopperig. Anke weet sy eeltsiekte het ‘n naam; die vel groei op plekke soos die knie, elmboog, neus en oor nog ‘n vel. ‘n Dooie een. Dit maak harde, grys knoppe wat aardig uitstaan. Anke glo hy lyk veel ouer as sy en die ou hel noem haar tante.

“Jittetjie, ek weet nou nie, tante,” sê oom Arnoldus en staar verby Anke na haar sitkamermuur, “ek sal laat die volk kom skoonmaak, maar ek glo regtig nie dit was een van hulle nie.”

Anke kyk hom skerp aan. “Dit was nie ‘n mossie nie, Arnoldus.”

Hy oorweeg haar woorde met groot erns, oë op die sitkamermuur. “O jitte, mossie se foefie sal bietjie rek as hy daai een uitdruk.”

“Jy dink nie iemand stuur my ‘n boodskap nie?”

“Ek weet nou nie, tante,” bly oom Arnoldus praat terwyl hy verby Anke tree, “stoute kinders speel toktokkie, miskien het een ‘n purgasie ingehad.”

“En die klein donner wag tot hy op my drumpel kan hurk?” Anke is nie gelukkig nie.

Oom Arnoldus se hande reik na ‘n stillewe van haar wat aan die sitkamermuur hang. “Hierdie appels sit skeef, sê as dit beter raak.”

Hy skuif die skildery vraend rond. Anke voel glad nie beter nie.

 

In die Jaguar, op pad pastorie toe, verbreek Maggie skielik die stilte. PJ Buys kan haar vlugkaartjie Kaap toe kry, dan moet hulle net vir Sloet se kleindogters kaartjies koop.

Kaatjie help haar pa met ‘n elmboog om iets te sê.

“Dankie,” forseer PJ Buys ‘n glimlag.

Sloet kyk voor hom op die pad. “Die Comet was vol toe ons gekom het. Gaan daar vanaand nog sitplek wees?”

Maggie kyk ook voor haar op die pad. “My kaartjie mog op ander aande ook werk, Sloet.”

Sloet. Sy noem hom nie meer oom Sloet nie. Wat het in daardie hotelkamer tussen hulle gebeur?

Ramkat, besluit PJ Buys met ‘n titsel jaloesie. Sloetie se oumansklier het sweerlik soos ‘n betroubare ou Listerpomp ingeskop.

Oom Sloet kon nie, besluit Kaatjie met ‘n effense nattigheid in haar oë, en tant Maggie het hom met liefde sy swakheid vergewe.

Dis weer stil in die Jaguar.

‘n Halfuur later nader hulle die ingang na die kerk en pastorie.

“Kakies,” sê Sloet strak.

Daar staan wagte in uniform by die hek, en hulle hou Lee-Enfields gereed.

“Hulle pas jou kleinkinders op,” sê Maggie.

 

Die oerwoud was laasnag weer in die pastorietuin om verwoesting te saai. Tant Emma het Kleinhanna en Corrie gestuur om aartappels vir aandete te grawe. Hulle sien waar apies takke afgeskeur het om vrugte by te kom, en wrede happe uit vrugte gevat het. En waar die een of ander dierasie diep gate gegrou het om tant Emma se wortels en uie te oes.

Kleinhanna probeer een van die uie red.

“Daai’s nie ‘n ui nie, aap,” sê Corrie, “dis ‘n mushroom.”

“Sy naam is Duiwelsnuif,” praat oupa Sloet hier agter hulle. “Moenie hom eet nie, hy’s lekker giftig.”

Die dogters weet nie hoe lank staan en kyk hy al hoe haal hulle aartappels uit nie, maar hulle is altyd bly om hom te sien. As jy ‘n entjie weg na oupa Sloet se gesig kyk, dan sien jy pa Sakkie se sterk gesig. Net hulle lywe is anders, baie anders.

“Hoe weet mens wat is giftig?” wil Kleinhanna weet.

“Jong, ek ken nie die paddastoele in Kenia nie, maar as hier Duiwelsnuif is…” Oupa Sloet rus sy hande op sy knieë, kyk naby na die tuingrond. “Daai een lyk nogal soos knoppiesampioen, hy kan jy eet in ons land.”

Corrie wys hom haar dierbare, ernstige gesiggie. “Tant Emma sê die manna in die Bybel was paddastoele. Miskien.”

“Kan wees,” knik haar oupa, net so ernstig.

Kleinhanna glimlag op na hom. “Dis nie net feëtjies se stoeltjies nie?”

Hy dink kamtig diep. “Nou het jy my, ek ken nie baie feëtjies nie.”

Corrie snork. “Daar’s nie goed soos feëtjies nie.”

“Lewis Carroll sweer daar sit ‘n slim wurm iewers op ‘n paddastoel,” sê oom PJ Buys onverwags van die agterstoep af, “en hy rook ‘n daggapyp.”

Kleinhanna ken haar Alice, die mooi oë glinster. “One side will make you grow taller, the other side will make you grow shorter.”

Corrie proes geskok. “Dagga in ‘n pyp, sies.”

Oupa Sloet draai na oupa PJ Buys en grinnik. “Petrus, het jy geen skaamte nie?”

 

In die pastorie se kombuis, besig met tee en beskuit, glo Maggie en Emma die kinders hoor nou hulle gaan saam met oom PJ Buys vlieg. Kaatjie weet nie wat gaan regtig in die tuin aan nie, maar sy vermoed haar pa en oom Sloet sukkel dalk om by die punt te kom.

“Hulle vat lank,” sê sy, “ek beter hulle bietjie aanjaag.”

“Sê vir Sloet sy tee word koud,” glimlag Maggie.

Kaatjie, op pad agterdeur toe, is doodseker niemand het nog ooit vir Sloet Steenkamp met daardie woorde omgepraat nie.

“Leer sy laerskool of hoërskool?” vra Emma.

“Hoërskool,” antwoord Maggie. “Sy blaas netbal ook.”

Emma verstaan nie. “Is sy nie te oud om te speel nie?”

“Sy blaas fluitjie. Sy rig af.”

“Askies, tannie, ek was nooit goed met sport nie.”

Maggie trek ‘n wrang mond. “Die meisies in my klas het my Magtige Magda gespot, maar ek het ‘n ryker man as enige een van hulle gekry.” Sy glimlag vir Emma. “En kyk vir jou, mevrou dominee. Jy’t self nie sleg gedoen nie.”

Emma kry die vreemdste gevoel: hierdie tant Maggie is nie die tant Maggie wat sy ontmoet het nie, iets het verander. Sy draai nie doekies om nie.

“Tante se man, uh, Harald, wat het hy geboer?”

“Wyn,” sê Maggie wrang. “Seer lekker wyn, hy’t dit soeter as die druif gemaak. Soet verkoop.”

“My man laat net suurwyn by die nagmaal toe.”

“Slim, hy soek sy skape op en wakker. Is Harald ‘n familienaam?”

“Amper al hulle mans was Harald, almal al weg.”

“Was daar ‘n familieplaas wat hulle kon erf? Ek terg, kind, moenie my so kyk nie.”

Emma maak of sy glimlag. Sy is nie seker of sy van hierdie tant Maggie hou nie.

Kaatjie kom met ‘n fronsie terug. “Ek moes vuur maak onder hulle. Paddastoele, hulle praat oor paddastoele.”

“Genade tog,” sug Maggie, “ek gaan Sloet moet vasvat. Hy’s hulle oupa, nie hulle speelmaat nie.”

Nou vermoed Kaatjie dit sterk: tant Maggie het oom Sloet vanmôre gevry dat die stof in daardie hotelkamer staan.

Emma vra, baie versigtig: “Luister oom Sloet na tante?”

“Hy beter,” sê Maggie en probeer dit met ‘n laggie versag. “My man se geld hou die dak oor al die koppe in Huis Harald. Hy en Kaatjie se pa moet onthou hoe maklik sit ‘n oumens op straat.”

Kaatjie hou op asemhaal, besef geskok sy is verkeerd. Tant Maggie wou oom Sloet vanoggend vry, maar hy kon nie die mas opkom nie. Sy is a woman scorned in bed; iets wat Kaatjie in een van haar romans gelees het.

Sy hoor haarself praat. “Tante weet, ek dink die Bybel sê ons moet mense hulle swakhede vergewe.”

Emma kyk na Kaatjie, maar hou haar mond.

Maggie lyk regtig hartseer. “Vergewe my, ek mog nie oordeel nie, maar wat maak jy as die duiwel in ‘n man vaar? Ek was met so ‘n man getroud, jy weet.”

Kaatjie knip haar oë, bly stil.

Emma sien haar Harald teen ‘n skip se relings staan, op pad hiernatoe.

“Tante, niemand is heeltemal sleg nie,” sê sy sag, “ons moet onthou die duiwel was voor sy val ook ‘n engel.”

 

Karimi se borswond pyn nou so hy voel dit oral in sy lyf. Dis die koue hier onder die hang van die wit berg. En hy het nie meer Khat-blare om alles beter te maak nie.

Hy hoor sneeu knars en sien Gitanga strompel berg-af na hom toe, doodmoeg gedra, lyk soos ‘n walking Christmas tree of guns and ammo belts.

Gitanga sak op ‘n klip neer, skep eers asem, vertel Karimi dan die nuwe drie het skielik noord begin hardloop, na die ander kant van die berg toe. Van die wapens is saam met hulle weg. Hulle het die ammunisiekis net daar in die sneeu gelos, te swaar vir hom om alleen te dra. Hy wou die cowards in die rug skiet, maar iemand gaan hom eers moet wys hoe laai hy ‘n gun.

Karimi kook van frustrasie. Waarom het Murungu hom verlaat? Wat verwag sy god van hom? Hoe gaan hy Achtung Sneller so vang? Hy en Gitanga kan nie alleen staan nie.

Dit het tyd geword om op die secret road te loop, die secret door oop te maak.

Dit het tyd geword om Muthamaki te roep. Muthamaki sal weet wat om te doen. Muthamaki is Kikoejoe vir kaptein, leier, chief.

 

WORD VERVOLG

Leave a Reply

error: Content is protected !!