Skip to main content

Sonnette Lombaard

Die hartseernuus dat ons oud-wêreldkampioenatleet Jacques Freitag waarskynlik vermoor is nadat sy lewe erg ontspoor het, weergalm wyd. Dit tref nie net omdat dit nog ‘n mens, boonop ‘n bekende, is wat deur die lewe beproef is en eindelik gefaal het nie, maar omdat dit juis weer menswees se breër broosheid in ‘n uitdagende era tuisbring.

Freitag (42), ‘n oud-wêreldkampioen-hoogspringer, se tragiese einde ná ‘n lewe met goue HOOGtepunte en donker afdwalings eggo hartseer. Eens kon hy die heel beste van almal oor ‘n dwarslat seil, net om eindelik, nog in sy fleur, sy donker alleen-einde ondergronds tegemoet te gaan.

Vir diegene wat nog omgee en ordentlik kennis wil neem, skok die nuus van sy dood ná sy verdwyning twee weke gelede. Vir ons vooruitstrewende, maar wankelende mensstand is hieruit hartseer- en kernwaarhede te leer.

Freitag se tragiese einde bring opnuut die duur prys van roem en rol van bloedbande tydens gesinstragedies na vore. Iets wat dikwels voor ons agie-oë afspeel en deur sensasiebelustiges opgeslurp en uitbasuin word. Party verlustig hullle luidkeels in ander se swaktes. Dit wyl die kern lewenslesse daaruit, nooit insink nie. En so donder ons aan tot met die volgende menstragedie(s), wat reeds in elke uithoek op Moeder Aarde ontvou …

Het ons dan só afgestomp geraak vir mekaar, blind en doof in daai oomblikke van rouste noodkrete, geuiter deur ons medemens, dikwels geliefdes? Dink aan van popprinsesse soos Britney en Kie wat die “kluts kwyt” was ná tienerroem tot ons eie Oscar Pistorius se lewensverloop deur donker en lig waaruit te veel toekykers siek plesier geput het.

Van buite die binnekring het hulle (ongevraagde, dikwels meerwaardige) menings neergereën, wyl dit Pistorius se naastes in rou geskeur het. Wyl die lewendige kameras elke emosie uit die hof gebeeldsend het, het my hart daagliks uitgegaan na elkeen van sy mense, ook Reeva se geliefdes. Ander hou sirkus wyl jou hartskring skeur en in ‘n see van smart dobber …

Só hartseerverloop was tot die einde vir Jacques Freitag bestem. Die polisie het gister sy vermoorde lyk in ‘n graf in Pretoria-Wes uitgehaal. ‘n Moorddossier is geopen nadat hy gevind is met skietwonde.

‘n Ooggetuie vertel hoe die grou laat wintersdag in ‘n minder gegoede, deesdae gevaarlike deel van die hoofstad amper onheilspellend opgehelder is deur die flikkerende rooi- en blouligte van die polisie en ambulans op die toneel.

Hoe die lenige Freitag se bedekte lyk toe uit die lang, dorre grasse gedra is … dieselfde lyf wat nou die dag nog so triomfantelik oor die hoogste menslatte kon seil. Hoe is hy dan so maklik/vinnig gepootjie deur die duiwelse draaie grondlangs?

Nou is hy ‘n blote statistiek … nog ‘n menslewe en hulpkreet wat nie (betyds) gehoor is nie. Want wyl ons slim millenniummens op pad Mars toe marsjeer, kom diegene wat nie wil luister en/of kan by bly nie, wel, onder ons oë om.

Freitag se bekommerde familie het hom onlangs as vermis aangemeld nadat hy middel Junie laas lewend gesien is. Waar is die dae wat kameras nie genoeg van hom kon kry vir die regte redes nie? In die stergeselskap van blitskoning Usian Bolt, was hy een van slegs tien atlete nog wat wêreldkampioenskappe by die jeug, junior en senior vlak kon wen.

Die kampioenster se lewe het egter al meer ontspoor nadat hy glo op die internasionale sport-kringloop aan dwelms bekend gestel is. Sy familie vertel van die hoë prys van roem en die verwoede stryd as jy eers bo is, om ten alle koste daar te probeer bly. Hoe ‘n sportster se inkomste gou kan wegkwyn …

Die moderne mens se versugtinge het ons teen nou goed geleer van roem se bedrieglike tweesnydende swaard. Wispelturig, trek dit jou met blink beloftes verleidelik in en baai jou in glansgeluk en guitige gerief. Waak jy nie, word jy ewe maklik en genadeloos spreekwoordelik kaal uitspoeg, soms verban na die yshoekie.

Freitag se dwelmafhanklikheid was bekend en het hom in die hof laat beland – ook hom sy werke en oorleefinkomste gekos. Verstote en swakkeling, het hy glo in die gulsige kloue van boses beland. Dit was die begin van sy einde.

Nou maak dit als nie meer saak nie. En tog, wat hier behoort te tel, is nog ‘n bewys hoe verspot maklik ons mensnate kan lostorring. Tragiese menseindes behoort ons elkeen telkens op te skerp oor hoe broos leef se voorreg is. Hoe taai dit soms is om nugter staande te bly teen alle soort aanslae onderweg.

Alleen kan ons dit nie doen nie. Swak in vlees en gees, het ons mekaar nodig enduit. Ons moet mekaar kan bystaan en help dra want die taai lewenstog is vol versoekings …

Freitag se einde stoot ook weer die gevare van blitsroem, vir vandag se al hoe jonger vermaaksterre, vars na vore. Of dit nou op die verhoog of fliekstelle of op die sportvelde is. Die geldelike beloning en roem is aanloklik en onweerstaanbaar in ‘n eeu gefikseer op jonkheid, glans, geld en gemaksug. Maar die kollig brand genadeloos en die prys kan peperduur wees, soos dit voor ons ontvou.

Meer tragies, is dit dikwels die stand van ons gehawende binnekringe wat ‘n kwesbare siel na afdwaalpaaie aanhaas. Dat die kernfamilie lankal verval het, ingesluk deur die nare wit-heining- en verbruikersindroom, is ‘n voldonge hartseerfeit.

Hoeveel te meer, moet ons in hierdie gebroke planeet, blou van nood met gekweste en weerlose siele, kan uitreik en daadwerklik help!

Wanneer gaan ons wakker skrik? Reg rondom ons is mense, ook naastes en geliefdes, in voortdurende nood. Nie die eiegeskepte drama look-at-me-crowd nie, maar real mense wat stilweg suffer, swaar aanbeur. Ook opsoek na daai ontwykende ware noord. Ons moet meer moeite maak met mekaar.

  • Die Britse rockers The Hollies se wekroep-treffer uit1969 He Ain’t Heavy, He’s My Brother weerklink meer as ‘n halfeeu later harder as ooit:

… The road is long / With many a winding turn / That leads us to who knows where, who knows where / But I’m strong / Strong enough to carry him / He ain’t heavy, he’s my brother /… So on we go / His welfare is of my concern / No burden is he to bear / We’ll get there /… For I know / He would not encumber me / He ain’t heavy, he’s my brother /… If I’m laden at all / I’m laden with sadness / That everyone’s heart / Isn’t filled with the gladness / Of love for one another / … It’s a long, long road / From which there is no return / While we’re on the way to there / Why not share? / … And the load / Doesn’t weigh me down at all / He ain’t heavy, he’s my brother / … He’s my brother.

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!