Sonnette Lombaard
Vanjaar se mans-lenteparade van die modereus Dior in die modemekka Parys is deur ongewone sterre uit verre Afrika verhelder. Onder Europa se glansligte het die Afrikaanse meester-pottebakker Hylton Nel se kuns in ‘n vuurwarm loopplankbykomstigheid ontpop.
Hylton Nel is vanjaar die Kat se Meow by Dior skou, het oorsese media dit uitbasuin nadat Nel by die pasafgelope mansmodeskou in Parys die aandag gesteel het. Die vermaarde Suid-Afrikaanse kunstenaar se kuns is ingespan vir ongewone woema aan Dior se nuutste versameling vir Lente/Somer 2025.
Mansmodeweek word twee keer per jaar in Januarie en Junie gehou as ‘n voorskou vir o.a. kopers, stiliste, en die media van die nuutste mansklereversamelings.
Die Suid-Afrikaner was die onbetwiste ster van die skou, met ‘n skouspelagtige stel én die modelle wat sy kunswerke groots en ruim afgewys het. Met A-lyssterre in die voorste ry soos Rihanna, Robert Pattinson, Rebecca Hall, Jeff Goldblum kon die kameralense nogtans nie genoeg kry van Nel se sonderlinge kuns nie.
Nel kan Kim Jones bedank want dié kreatiewe direkteur aan die stuur van modehuis Dior Homme is een van sy grootste fans. Jones het aan die vooraand van vanjaar se Olimpiese Spele in Parys die versoeking weerstaan om op die loopplank ‘n stelling oor sportklere te maak.
Hy het gefokus op ‘n meer persoonlike obsessie: die werk van meesterpottebakker Nel. Jones koop al jare lank Nel se werk en sy persoonlike tuisversameling bly groei. Nel se kuns was die inspirasie vir beide die stelontwerp van Dior se vertoning en as ’n deurlopende verwysing in die versameling self.
Daar is baie ooreenkomste tussen mode se kreatiewe gees Jones en die bejaarde Afrikaanssprekende Karoo-kunstenaar, wat in Zambië gebore is en in die Nood-Kaap grootgeword het. Daarteenoor het Jones (44) wat in London gebore is, se kinderjare te danke aan sy hidroloog-pa ook gedeeltelik in Afrika ontvou.
Die Engelsman besoek graag Nel waar hy aan die buitewyke van Calitzdorp woon. “Ek hou van hoe hy leef,” het Jones verduidelik waarom hy graag die ses uur-lange reis per motor van Kaapstad na die Klein-Karoo onderneem.
Nel se speelse ontwerpe is deurtrek met ’n tong-in-die-kies humor en surrealistiese motiewe. Elke stuk verbeeld verhale binne die grense van fantasie en sosiale kommentaar. Sy “volkskuns” wat sy lewe in die Karoo weerspieël, was juis dit wat Jones aangevuur het om self Nel in sy tuisomgewing te gaan ontmoet.
“Hylton se werk dra by tot my nuutste versameling – ek het vir my stel reuse-weergawes van sy werke laat maak. Keramiekreuse waarom die modelle moet loop, as ’n pret element.”
Die stel vir Dior Mansklere SS25 het met ses massiewe reproduksies van Nel se kenmerkende “katte” op die loopplank gespog – een ‘n hibried-wese met die kop van ‘n kat en die liggaam van ‘n vrou wat die gode van Antieke Egipte herroep.
Die model wat die vertoning geopen het, het die oorspronklike werk in een hand vasgehou. Selfs Dior se sakke het Nel se inspirasie uitgedra met ’n paar tong-in-die-kies frases in sy gekrabbelde handskrif, soos: “Dior vir my regte vriende” langs keramiekbroches, ook in sy styl.
Nog verwysings na sy skeppings is verweef in die versameling van die naïewe voëlmotiewe wat in silwer penne op ‘n swart pak met hoë kraag uitgebeeld is, tot die speelse patrone en slagspreuke op breigoed, en ‘n blou-en-wit baadjie bedek met blom borduurwerk, wat bykans 2 000 uur se werk vereis het.
Sommige modelle het keramiekbeelde gedra, soos serpe om hul nekke gevorm. Ander het klokhoede gedra wat deur meester-hoedemaker Stephen Jones ontwerp en handgehaak is deur ambagsmanne wat saam met die Suid-Afrikaanse handelsmerk Earth Age vanuit Kaapstad werk. Die Kaapstadse vroue wat dié versameling gehekelde hoede gesorg het, het ook die oulike katpendante gemaak wat aan die miniatuur weergawes van Dior se kenmerkende Saddle-sak gehang het.
Nel “vermenslik” sy katbeelde met individuele houding en persoonlikheid. Hoewel hy graag mense teken, “is hulle in jou gesig, so ek doen dit eerder in die vorm van ’n kat”.
Die groot kollig-meevaller is welverdiend vir Nel, wat vanjaar 83 word. Hy was in die voorste ry van die vertoning en is trots by van sy stukke afgeneem. Volgens hom was sy werk as inspirasie vir Jones ’n beginpunt. “Dit was wonderlik om te sien wat hy daarvan gemaak het.” En laggend bedaard bygevoeg: “Op my ouderdom hoop ek nie vir iets nie, ek geniet wat ook al kom.”
Jones het sy passie vir die versamel van voorwerpe met ‘n geskiedenis bevestig. Wyl baie hedendaagse ontwerpers die popkultuurbeuel blaas, kombineer Jones sy natuurlike aanvoeling vir showmanskap met kragverbindings wat sy dors na ontdekking verklap. Dit hou hom vars en maak sy werk aantreklik vir mede-versamelaars en fynproewers.
Dit was ook vir Jones belangrik om sy 60ste versameling vir Dior in ses jaar spesiaal te vier. “Mense raak verveeld, om die kliënt opgewonde te hou, is die belangrikste ding,” het hy toegegee.
Sy nuutste scoop bevestig mode se rol in die samelewing kan dieper as oppervlakkige glans wees. Modekenners het juis uitgewys daar is tans geen einde aan die invloed en teenwoordigheid van Suid-Afrikaners in die internasionale mode-arena nie, veral nie in die hart van die modebedryf se hoofstad, Parys, nie.
As megabedryf met grenslose invloed, is mode lank deel van kreatiewe kuns, ook as sosiale kommentaar in ‘n vining-veranderde wêreld. En daarvan is duidelik genoeg te vind vir die groter modebedryf in ons Moederland met haar ryk verskeidenheid mense en talente, kulture en inheemse kuns.