Skip to main content

George April

Ouers van Hopefield wie se kinders by Weston Senior Sekondêre Skool in Vredenburg skoolgaan, het Woensdagaand in ‘n gemeenskap vergadering besluit, tot hier toe en nie verder nie.

“Ons gaan nie meer koshuisgelde betaal of subsidievorms invul vir ons kinders wat op die skoolkoshuis bly nie. Dis tyd dat die Departement van Basiese Onderwys (DBO) aandag gee aan ons probleme,” was die gesamentlike besluit.

Ouers van die betrokke dorp betaal jaarliks duisende rande om hulle kinders op ‘n daaglikse basis by die skool te kry.  Dit terwyl die Departement sorg dat ses ander dorpe aan die Weskus se kinders daagliks gratis vervoer word.

Die Waarheid het op 2 Mei saam met ouers die koshuis besoek, en op 3 Mei daaroor berig.  Die geboue is in haglike toestand, en boonop onveilig verklaar deur inspekteurs van die Weskus Brandweer-Dienste.

Die DBO was daarna R3500 beboet omdat daar nie aandag gegee was aan die probleme wat uitgewys was nie.

Ouers by die vergadering was Woensdagaand verbaas toe Die Waarheid ‘n mediaverklaring van die DBO vir die ouers voorgelees het.  Millicent Merton, media-woordvoerder van die DBO het dieselfde dag van die betrokke vergadering op navrae van Die Waarheid reageer.

In haar antwoord het Merton geskrywe dat ouers twee keuses van subsidie het. Dat die kinders in die skoolkoshuis gedurende die week mag bly, of daagliks vervoer kan word.

Charmain Claassen, lid van die Koshuis Ouers-Komitee het haar verbasing uitgespreek oor die twee keuses van subsidies wat ouers het.

“Dis die eerste word wat ek daarvan hoor, want ons is onder die indruk ons kinders kan net subsidie kry om op die koshuis te bly,” het Classen gesê.

“Ouers van Hopefield betaal al vir jare vervoer vir hulle kinders om daagliks skool by te woon in Vredenburg. Dit terwyl daar subsidie is om ons kinders te vervoer,” het Claassen haar ontevredenheid uitgespreek.

Vanaf 1 April is subsidie vir staatsskole vanaf R11 244.00 tot R14 000 00 verhoog vir leerlinge wat in Weskaapse koshuise bly. Vervoersubsidie is vanaf R5600.00 na R5860.00 per jaar verhoog.

In ‘n opvolg navraag aan die brandweerdienste, het Tereza Burger, media-woordvoerder so gereageer:  “Elke skool in die Weskuskring is onderhewig aan ‘n inspeksie deur die plaaslike brand- en reddingsdienste. Hulle sal skole besoek en die brand-veiligheidsmaatreëls en brand-risiko-evaluering doen.  Van die skole sal inspekteer word, om te verseker dat die nodige in plek is. Afhangende van hoe ernstig ‘n oortreding gevind word, kan ‘n skool boetes, kennisgewings of strawwe kry as dit as gevaarlik beskou word, of in stryd is met die Brandveiligheids-verordeninge van die Munisipaliteit.

“Instellings kan gesluit word, maar nie as leer en onderwys beïnvloed kan word nie.  Veral as gedeeltes van die skool gesluit moet word, omdat dit nie voldoen aan brandregulasies nie.

“Die finale besluit om ‘n gebou te sluit sal gedoen word in oorleg met die eienaar van die gebou, dit wil sê in hierdie spesifieke geval die Wes-Kaapse Onderwysdepartement en die betrokke skool se bestuur.”

‘n Opvolg-vergadering word vir Sondag 7 Julie op Hopefield beplan, met verskeie rolspelers wat intussen genooi word om dit by te woon. Hopefield Gemeenskap Eerste Organisasie was al verlede jaar deur ouers gevra om in te tree, veral omdat baie kinders die skool verlaat weens al die probleme.

Dogters se koshuiskamer van binne gesien

Dogters se badkamer van binne gesien

Leave a Reply

error: Content is protected !!