Die provinsiale kommissaris van KwaZulu-Natal, luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi, het ‘n ondersoek gelas na ‘n onverantwoordelike en onprofessionele optrede deur polisiebeamptes wat Vrydagaand ‘n persoon tydens ‘n operasie in Tongaat aangerand het. Dit is deur ‘n kringtelevisiekamera opgeneem.
In die videomateriaal kan gesien word hoe ‘n polisiebeampte ‘n man met ‘n oop hand slaan in wat na ‘n onuitgelokte daad gelyk het. ‘n Rukkie later het verskeie ander polisiebeamptes dieselfde slagoffer aangeval. Een beampte kan in die video gesien word waar hy die man, wat reeds op die grond was, skop en bo-op hom gestaan het.
Provinsiale Kommissaris Luitenant-Generaal Mkhwanazi het ‘n gedetailleerde verslag geëis oor wat tot die aanval op die man gelei het en het beveel dat regstellende stappe geneem moet word teen die beamptes as hulle teen die SAPD se Gedragskode en die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika opgetree het.
Luitenant-generaal Mkhwanazi het gesê dat polisiebeamptes tydens die uitvoering van hul pligte bedag moet wees op die Grondwet en die Gedragskode en moet daarna streef om die wet te alle tye te handhaaf. “Polisiebeamptes het ‘n eed afgelê om te beskerm en te dien en as sodanig moet hulle nooit die magte wat aan hulle toegerus is, misbruik nie. Gemeenskappe moet veilig wees en voel in die teenwoordigheid van polisiebeamptes en nie bang wees vir dieselfde beamptes wat veronderstel is om hul bron van toevlug te wees nie. Polisie kan slegs met ‘n proporsionele, minimum krag terugslaan as hulle hulself onder enige vorm van aanval bevind,” het luitenant-generaal Mkhwanazi gesê.
Die Provinsiale Kommissaris het bygevoeg dat indien die verslag sekere oortredings deur polisiebeamptes uitwys, die betrokke beamptes die toorn van interne regstellende maatreëls in die gesig sal staar. Niemand is verhewe bo die wet nie, en dit sluit polisiebeamptes in.