Skip to main content

Die skemerwêreld van boelies is lankal nie meer die domein van kinders wat swakker outjies afknou nie.

Die internet het dit moontlik gemaak vir volwasse swakkelinge wat op lafhartige wyse agter rekenaarskerms en skuilname kan wegkruip en na hartelus afknou, vas onder die indruk dat hulle kan doen wat hulle wil om verwoesting te saai en daarmee weg te kom.
Arlin Cuncic, ‘n Amerikaanse kliniese sielkundige wat heelwat oor die onderwerp navorsing gedoen het, skryf die belangrikste kenmerke van gewone afknouery is dat slagoffers gewoonlik ‘n magswanbalans met hul boelie ervaar. Die magsverskil kan wees as gevolg van die boelie wat meer status, rykdom, gewildheid of talent het.

Met kuberafknouery is daardie magswanbalans egter afwesig, want die boelie kan heelwat minder mag hê. Die boelie skuil agter die opvatting dat daar min beheer is om die afknouery te stop omdat die boelie die skild van anonimiteit misbruik.

Sy sê voorts kuberboelies leef straks met geestesgesondheidskwessies wat verband hou met hul afknouery. Voorbeelde sluit in probleme met gedragskwessies soos aggressie, hiperaktiwiteit of impulsiwiteit, sowel as dwelmmisbruik.

Daarbenewens kan diegene met persoonlikheidskenmerke wat lyk soos die “donker tetrad” van psigopatie die risiko loop om kuberafknouers te wees. Dit sluit in Machiavellianisme (bedrieglik, manipulerend), sadisme (wat plesier put om ander te benadeel) en narcisme.

Hierdie individue is geneig om sosiale norme te oortree, het ‘n lae vlak van empatie vir ander mense, en kan ander boelie as ‘n manier om hul gevoel van selfwaarde te verhoog.

Dr. Barry Viljoen, ‘n kliniese psigiater van Johannesburg, het aan Die Waarheid gesê literatuur het tradisioneel gefokus op afknouery, wat fisieke geweld as ‘n sleutelelement gehad het.

In meer onlangse tye het kuberafknouery egter meer aandag op die die probleem gevestig.

“Alhoewel baie dalk gedink het dit is ‘n onskadelike oortreding, kan die daaropvolgende gevolge depressiewe simptome, angs, lae selfbeeld en moontlike selfmoordgedagtes wees,” sê hy.

Kuberafknouery word gedefinieer as ‘n aggressiewe, herhaalde en opsetlike daad in elektroniese vorm.

“In die samelewing word ons gedrag en gedagtes beheer en ingeperk deur sosiale norme en gevolge. Sosiale media laat ons egter toe om die grense van werklikheid en fantasie te vervaag. Hierdie aanlyn-disinhibisie kan individue aanmoedig om betrokke te raak by riskante aanlyngedrag, insluitend kuberafknouery. In hierdie verband is dit baie maklik om aksies en gedrag as gevolgloos te sien. Hierdie gedrag het egter gevolge, soos uitgelig deur verskeie regsprosedures.”

Hy sê die motivering vir die betrokkenheid by kuberafknouery is om skade, oorheersing, wraak en/of vermaak te veroorsaak. Tans word die meeste literatuur gefokus op adolessente, wat in ‘n interessante stadium van ontwikkeling is waar die menings van eweknieë van groot belang is.

Dr Viljoen is natuurlik korrek dat kuberafknouery regsimplikasies kan inhou, selfs op sosiale media, waar ‘n skuilnaam dikwels gesien word as beskerming teen optrede deur die slagoffer.

Gerhard Landman, ‘n prokureur van die diamantmyner en filantroop Louis Liebenberg, wat in die verlede al dikwels onder kuberboelies deur moes loop, vertel dat hulle in Mei ‘n dringende aansoek in die Johannesburgse hooggeregshof teen Facebook gebring het om hulle pad oop te maak om teen kuberboelies op te kan tree. Die aansoek is toegestaan.

Die gevolg van die bevel is dat Meta, eienaars van Facebook, verplig is om inligting oor boeliegroepe of kuberboelies aan hulle bekend te maak sodat hulle ‘n aansoek kan bring teen die administrateurs om die groepe te sluit. Hulle kan nou ook aansoeke bring om die kuberboelie se inligting bekend te maak sodat daar teen hom opgetree kan word.

  • Die Waarheid sal voortaan gereeld kuberboelies op ons blaaie aan die kaak stel.

Die eerste van hierdie soort lafaards wat rammetjie uitnek speel, is ‘n smerige lieplapper wat agter die skuilnaam “Die Pous Pakkie Lug Man” wegkruip.

Sy boodskap is so deurspek van smerigheid wat met mense se geslagsdele te make het, dat dit eenvoudig nie herhaal kan word nie.

Die kort, morsige boodskap is egter so deurspek van spelfoute, dat ons nie anders kan as om sy opvoeding – die bietjie wat daar is – te bevraagteken nie.

Die sogenaamde Pous Pakkie Lug Man het ‘n ewe varksige boodskap in reaksie op een van Die Waarheid se artikels geplaas, wat alle twyfel uit die weg ruim dat sy oorspronklike boodskap net ‘n enkele afwyking was.

Wat is fout met die man? Liewe leser, laat ons gerus weet wat jy dink in hierdie stommerik se benewelde verstandjie aangaan.

One Comment

  • Neels says:

    Die soort gemors word net beheer deur geweld.
    Opmerklik hoe hulle wegkruip na n pak slae.
    Een van ons blankes se vrot nalatenskap.
    Hulle sal altyd daar wees.
    S

Leave a Reply

error: Content is protected !!