Skip to main content

DIRK LOTRIET

Dit is daardie tyd van die jaar wanneer almal rondom ons snuif, hoes, en oor die algemeen net oes voel.

Maar dié jaar voel dit of dit erger as gewoonlik is. Seisoenale kwale maai behoorlik onder die bevolking.

Sondagaand, toe oudpres. Jacob Zuma die volk tydens ‘n nasionale mediakoferensie moes toespreek, moes sy verklaring voorgelees word, want hy het griep en het onder meer met ‘n seer keel gesukkel.

Kollegas by my werk is in die hospitaal opgeneem en kollega Sonja Brown, gewoonlik ‘n stoere rots van gesondheid, was drie weke lank min of meer buite aksie met varkgriep. Die paar keer wat ek haar gesien het, het sy glad nie goed gelyk nie en raai wat? Ek het dit ook gekry. Ek vermoed Sonja het my aangesteek (dankie, Sonja) maar mens kan met so ‘n verwoestende vlaag siektes natuurlik nooit sê nie.

Ek was dokter toe. Hy het ‘n antibiotika voorgeskryf en vir my ‘n laboratoriumdokument gegee. “As jy oor twee weke nie gesond is nie, laat toets vir die goed wat ek hier gemerk het. Die meeste van die tyd word dit self gesond, maar dit kan baie ernstig raak, veral in ouer volwassenes.”

Dis varkgriep of Covid, het hy gesê.

Ek is ‘n ouer mens. Nie ‘n volwassene nie, reken my vrou, maar sy is g’n dokter nie. Myne het baie erger geword. Baie. Weens my eie onnoselheid – Ek het net nie sover gekom om die medikasie te gaan koop nie.

Dis nou min of meer vyf weke vandat ek olik begin word het, en gister het dit die eerste keer gevoel of ek ‘n deurbraak maak.

In daai tyd het ek soms gevrees ek gaan doodgaan. En erger nog, ek het soms gevrees ek gaan nie dood nie.

“Dit is die moeite werd om te onthou dat griep vir sommige mense gevaarlik kan wees en maklik buite beheer kan raak as jy nie vir jouself sorg nie,” waarsku dr Peter Makhambeni, hoofkliniek van die National HealthCare Group, administrateurs van MediClub ConnectTM.

“Terwyl die meeste mense binne ‘n week herstel sonder om mediese aandag te benodig, moet griep nie onderskat word nie, aangesien dit tot ernstige siekte, hospitalisasie en dood kan lei, veral by ouer volwassenes, babas, swanger vroue, oorgewig individue en individue met chroniese mediese toestande,” voeg hy by.

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) het die 2024-griepseisoen vroeg aangebreek, en die afgelope paar weke het Suid-Afrika reeds ‘n aansienlike toename in griepgevalle gesien. Een van die stamme, die H1N1-variant – waarna sommige mense verwys as ‘varkgriep’ – is veral algemeen. Alhoewel COVID-19 nie meer die bedreiging is wat dit in 2020 en 2021 was nie, is dit ook weer algemeen.

Volgens dr. Makhambeni is griep meer algemeen gedurende die kouer maande, aangesien virusse baie beter in koue weer oorleef. Boonop is mense geneig om baie meer tyd binnenshuis deur te bring en naby mekaar te leef. As een van die mense in die kamer ‘n virus het, kan dit vinnig na ander versprei.

Hy meen die griep-entstof is ook een van die beste maniere om jouself te beskerm teen die huidige griepstamme wat die rondte doen, maar na die debakel rondom die Covid-inenting, is ek maar wantrouig oor enige inenting. Waarskynlik hopeloos te lugtig, maar dit is maar die geval.

Dr. Makhambeni sê die simptome van griep sluit in koors, kouekoors/rillings, hoes, seer keel, loopneus of toe neus, spier- of liggaamspyne, hoofpyn en moegheid.

Hy meen griep word die beste simptomaties behandel, en as jy griep kry, is dit in die eerste plek belangrik om genoeg bedrus te kry en meer vloeistowwe te drink.

Wat seker ook een van my flaters was – ek het net bedrus gekry as ek uitgeput op die bed neergeslaan het.

Ek het die afgelope vyf weke ‘n paar dure lesse geleer. Onthou, hierdie is my eie ervaring, nie ‘n geneesheer se raad nie:

  • Mens word ouer. As jy vyf jaar gelede voortgebeur het deur jou griep, beteken dit nie jy kan dit nog steeds doen nie.
  • Kry die bedrus en die vloeistowwe in.
  • Moenie ‘n idioot wees nie – gaan kry jou medisyne en drink dit gereeld.
  • Ek het ‘n paar dae gelede ‘n drup met die indrukwekkende naam “Jet Fuel” by my plaaslike apteekkliniek gaan kry. Dit het wondere aan my energievlakke gedoen. Nie wonderwerke nie, maar ek gaan teen die einde van die week vir nog een.
  • Moenie bang wees om jouself jammer te kry nie en kyk mooi na jouself.

Net iets om aan te herkou saam met jou keelseerpilletjie: Die laaste groot varkgriep-epidemie in 2009/10 is veroorsaak deur ‘n nuwe stam van H1N1-griep A-virus wat vroeg in 2009 in Mexiko ontstaan ​​het voordat dit wêreldwyd versprei het. Die pandemie het na raming 200 000 sterftes wêreldwyd tot gevolg gehad. Een van die unieke kenmerke van die varkgrieppandemie was dat dit jonger ouderdomsgroepe, veral kinders en jong volwassenes, buitensporig erg getref het.

Leave a Reply

error: Content is protected !!