Jakobus se lot – deur Marinda Swanepoel
“Die blikskottel!”
Jakobus staan op sy sypaadjie voor sy hek. Hy het die blou knoppie wat die hek moet oopmaak seker twintig keer gedruk, maar die hek wou nie beweeg nie. Nou weet hy hoekom. Sy staalhek is mooi teen die kantpaal vas gesweis. Nogal dik, stewig, en baie netjies. Daar was geen manier waarop hy by sy eie erf kon inkom behalwe deur dié hek nie. Bokant die agt voet staalheinings reg rondom die eiendom was ‘n meter-hoë elektriese heining opgerig. Wat nou gemaak?
Zenia staan op haar tone in haar slaapkamer om die petalje by Jakobus se hek dop te hou. Hy kan haar nie agter die kantgordyn sien nie.
Sy sien hoe hy sy hande in die lug gooi en rondkyk. Haar kuiltjies maak diep gate in haar wange en komplimenteer haar brëe glimlag. “Kry vir jou, Jakobus Lategan, ouma het gebak,” lag sy. “Jy maai nou, Meneer. Nie lekker nie, is dit?”
Jakobus se rooi Ferrari trek weg met skreeuende bande en Zenia hoor hoe hy om die hoek verdwyn. Sy bel haar broer, Stiaan. “Hy was nou net hier. Lyk my ek kan darem nog sweis,” lag sy. “Die man was woedend, hoor?”
“Dankie, Sus. Ek het gewonder hoe ek hom sou terugkry. Jou idee was briljant.”
“Sy vorige poets op jou ook, hoor. Ek wens ek kon jou gesig sien toe jy uit die rolbal klubhuis kom, en sien dat jou kar met ‘n dik ketting aan die boom langs dit vasgemaak was. Ek het jou gesê daardie nuwe wiele van jou pas nie by die kar nie. Lyk te veel soos fietsspeke, en toe is die openinge net mooi groot genoeg vir Jakobus om ‘n ketting deur te druk.”
Stiaan grinnik. “Ja, dit was nogal ‘n ding. Maar ongelukkig vir Jakobus weet ek hoe om ‘n slot met net twee stukke gereedskap oop te breek. En daardie ketting kom nogal handig te pas op die plaas. Ek wou dit eers oor sy heining gooi, maar hy verdien nie om dit terug te kry nie.”
Zenia lag. “Wag, ek hoor sy kar.” Sy loop weer venster toe. “Hy is terug. En iemand met ‘n swart dubbel-kajuit bakkie is op die sypaadjie. Lyk of hulle toerusting uit die bakkie haal… Ja, gasbottels, en ‘n hoekslyper. Ek gaan buite toe om beter te sien. Ek bel jou netnou weer,” sê Zenia.
Jakobus versteen toe Zenia oor die muur loer. Die fyn meisie waaroor alles gaan. Hy probeer om nie vir haar te staar nie, maar sy slaan sy asem weg. Haar blou oë betower hom.
“Probleme?” vra sy.
“Pasop vir die elektriese heining,” is al wat hy kan uitkry. Idioot! Moet jy nou iets so simpel kwytraak?
Zenia antwoord hom nie. Sy kyk hoe die ander man skuur dat die vonke spat. Sy weet dat hy gaan sukkel, want die tegniek wat sy gebruik maak seker dat haar buitelug staalbeelde nooit uitmekaar sal val nie.
Jakobus staan ver genoeg van die hek af dat die vonke nie sy duur klere brand nie, en hy loer onderlangs vir Zenia. Hy vrek eerder voordat hy vra hoe dit met Stiaan gaan. As hy maar net nie daardie dag ses maande gelede voor die buurvrou se hek gestop het om die pikswart Bugatti Veyron in haar oprit te bewonder nie… Ja, maar dan sou jy nooit die oulike Zenia ontmoet het nie, praat hy met homself in sy gedagtes. Ga! sê ‘n ander stem. Jy sou ook nie al die poetse gehad het wat sedert dan in jou lewe gebak word nie nie. Ja-nee, Stiaan pas sy suster mooi op. En hy kan verstaan hoekom.
Zenia sien dat hy vir haar loer, maar sê niks. Sy is uiters nuuskierige om te sien hoe lank dit die ou gaan neem om die hek oop te kry.
“Wat gaan aan?” vra Jakobus toe die ander man die slyper afsit.
“Die disk is in sy moe… maai,” sê hy vinnig toe hy Zenia sien. “Jimmel, jy het nie gejok nie, sy is omtrent iets!” fluister hy onderlangs vir Jakobus. “Sy lyk soos ‘n elfie met daardie groot blou oë!”
“Jy kyk verniet, sy gaan nog myne wees,” grinnik Jakobus. “Ek moet net by haar blêddie broer verby kom…” En ek gaan probeer totdat ek my laaste asem gee.
Vyf-en-veertig minute later skuif die swart hek oop en Jakobus ry sy rooi sports-kar stadig tot by die voordeur. Hy kyk nie vir Zenia toe hy uitklim nie, maar hy weet dat sy steeds daar staan. Sy vriend ry agter hom in, en hulle loop saam by die huis in.
Zenia klim van die emmer af en bel vir Stiaan. “Hy is in. ‘n Driekwart uur later, maar hy is in. Dink jy nie ek kan maar vir die arme Jakobus sê ek dink ook dat hy oulik is nie? Ek het gehoor toe sy hoekslyper vriend vir hom sê dat hy saamstem dat ek oulik is.” Sy giggel soos ‘n stout skoolkind.
“Julle sal nogal ‘n oulike paartjie maak, maar die ou het my verkeerd opgevryf toe hy my beledig het,” lag Stiaan. “Waar val hy uit die kas uit om vir my te vra of ek die brandstof-verbruik op my kar kan bekostig? Hoe kan mens so ‘n kar koop as jy nie die ding op die pad kan hou nie? Onthou jy die verligting op sy gesig toe ek vir hom sê dat jy my suster is nadat hy gedink het dat ons getroud is?”
“Jy kon die buurman se flater net geïgnoreer het. Maar nee, Stiaan Ackerman moet mos ‘n punt bewys,” raas Zenia.
“Punte. Een punt was net nie genoeg vir die wysneus nie. Ek wonder nou nog hoe hy geweet het by watter plek ek gaan oefen.”
“Kom jy en Enya nog hier braai vanaand?” vra Zenia.
“Ja, maar kan ons nog twee mense saam bring? Die meisies was twee weke gelede in ‘n hengse kar ongeluk, en kan doen met vars lug.”
“Natuurlik. Ek kry solank alles gereed. Onthou die brikette. Myne is op.”
Jakobus gooi vir homself ‘n glas rooiwyn in en gaan sit by die jacuzzi nadat hy verklee het. Sy vriend is pas huis toe, en hy het dinge gehad om in sy kop uit te pluis. Sedert hy Zenia die eerste keer gesien het, vergelyk hy al wat ‘n vrou is met haar. Te kort. Te lank. Te flerrie-agtig. Oë nie blou nie. Oë nie blou genoeg nie. “Ou bees, jy is vyf-en-dertig, en voel soos ‘n skoolseun met skoenlappers in jou maag elke keer as jy net aan haar dink,” brom hy en gly stadig in die borrelende water in. “Jy sal vinnig iets moet doen.” Ja, maar wat? Jacobus het geweet dat hy versigtig moes wees met hoe hy die penarie met Zenia benader. As sy deur sy vingers sou glip sou hy homself nooit vergewe nie.
Dalk blomme aflewer met geen naam daarby nie. Nee, sy sal weet dat dit hy was. Hy sug en vat ‘n slukkie rooiwyn.
Later hoor hy mense agter in Zenia se erf lag. Dit was ongewoon. Sy is ‘n stil persoon wat nie regtig lawaai nie. Hy wonder wat aan die gang is. Sy nuuskierigheid kry die oorhand, en hy sluip tot by die muur. Iets ruik lekker, dink hy toe die vleisreuk deur die lug trek. Stiaan was besig om vleis te braai, sien hy deur ‘n struik se blare waar hy oor die muur loer. Zenia en drie vrouens het om ‘n reuse kliptafel gesit en gesels, elk met ‘n glas rooiwyn voor hulle. Sy hart ruk toe sy glimlag. Deksels, jy gaan my van my trollie af dryf, dink hy.
“Ek hoor jy buurman het tëespoed gehad vandag,” vra een vrou. “Stiaan het my netnou vertel wat gebeur het,” knip-oog sy. “Waar het jy geleer om te sweis?”
Jakobus se mond hang oop. Dit was Zenia!
“Op skool al. Dit was al hoe ek dit kon leer sonder dat my pa ‘n oorval kry. Hy het nie eers geweet sweis was een van my vakke nie, anders sou hy die skool laat bom het. Dis nie vroulik nie, het hy gesê toe ek hom vra om my te leer. Hy wou niks weet dat ek met my hande, wat nog te sê staal, werk nie. Dis goeie terapie, probeer ek toe, maar verniet. As my pa maar net weet hoeveel keer ek al staal kunswerke gemaak het in my lewe,” lag Zenia. “Mans besef nie dat vrouens deesdae omtrent enigiets kan doen nie.”
“Veral ons pa,” voeg Stiaan by. “Volgens hom is ‘n vrou se plek in die kombuis.”
Die vrouens lag.
“So toe oefen jy op die buurman se hek?” vra een van die ander vrouens.
“Hy boelie al vir ses maande vir Stiaan. Ek moes iets doen.”
Mm, jy tel ook die maande, soos ek, glimlag Jacobus. Maar ek gaan wraggies nie nog ses maande kan uithou nie.
“Ja, sy beskerm my,” terg Stiaan. “Maar elke liewe keer wat ek of sy hom ‘n poets bak, moet ek hoor hoe oulik die ou vir haar is.” Stiaan sug dramaties. “Ons kan mekaar nie vir altyd vermy oordat hy my beledig het nie. Ons sal seker een of ander tyd die ou moet nooi vir ‘n braai dat ek kom beter kan leer ken,” terg Stiaan sy suster.
“Ja, en vinnig ook, voor hy jou gaan terugkry vir die sweisery. Hy dink mos dit was jy,” lag Zenia. Sy kyk na Jacobus se huis en haar hart bokspring.
Jakobus se oë vonkel. Nou toe nou, sy dink ek is oulik… Hy sluip terug in die huis in. “Vandag is die dag, Zenia,” sê hy vasberade. Na ‘n blitsige stort laat hy sy vinger oor sy wynrak gly totdat dit tot stilstand kom op ‘n bottel duur Cabernet Sauvignon. “Spesiale wyn vir ‘n baie spesiale meisie,” fluister hy.
“Ek sweer ek hoor ‘n deurklokkie lui,” sê Enya.
Almal bly stil.
Ding-dong! Ding-dong!
Stiaan lig sy wenkbroue. “Verwag jy iemand?”
“Nee. En het jy nie die hek gesluit nie? Ek weet nie hoeveel keer moet ek jou herinner om die hek te sluit nie!” Zenia staan op en loop voordeur toe sonder om vir ‘n antwoord van Stiaan af te wag.
“Jammer Ma,” roep Stiaan agter haar aan.
Sy maak die deur stadig oop en snak byna na haar asem. “Jakobus,” sê sy hees.
“Iets ruik lekker, en aangesien die wind heeltyd in my rigting waai, dog ek dat ek maar liewer kom vrede maak. Dalk draai die wind dan ander kant toe,” sê hy vinnig. “En hier is my vrede-offer,” sê hy en druk die bottel wyn in haar hand.
Sy staan met wankelrige kniëe agtertoe dat hy kan inkom. “Is jy seker dat jy braaf genoeg is om met die rowwe Ackermans te meng?”
Hy loop tot langs haar, en sy kan sy naskeermiddel ruik. Jimmel, jy ruik lekker!
“Ek belowe dat ek dit kan bekostig,” knip-oog hy. Jy lyk fantasties!
Zenia bloos. “Nou toe dan, volg my,” sê sy bewerig.
“Tot aan die einde van die aarde,” prewel hy sag en stap gewillig, soos ‘n lam ter slagting, agter haar aan.
Stiaan laat val die braaitang toe hy sien wie agter Zenia is. Hy tel dit vinnig op en steek sy hand na Jacobus uit. “Welkom.”
Enya se oë is groot en sy vorm Jacobus se naam met haar lippe dat haar twee vriendinne kan weet wie die man was. Hulle oë rek ook, maar hulle groet vriendelik terug toe Zenia hom aan almal voorstel.
Jacobus gaan sit regs van Zenia en sy sukkel om haar blik van sy gespierde, bruingebrande bene af te hou. Sy hoor nie veel van wat in die gesprek aangaan nie, en verskoon haarself. “Ek gaan gou die slaai maak,” jok sy. Dit was lankal gemaak, en die ander drie vrouens weet dat sy spekskiet.
Zenia spoel haar gesig in die badkamer af met koel water. “Komaan, Zenia, jy is nie meer drie nie. Hy is net ‘n man!” Nie net sommer enige man nie, sê ‘n stemmetjie in haar kop. ‘n Man wat jou asem uit jou longe dryf. ‘n Man wat jou gedagtes op loop sit en laat verlang na wie-weet-wat… Sy keer terug na die groep mense en voel hoe haar hart in haar ore klop toe Jacobus vir haar glimlag.
Stiaan draai die vleis om, maar sy oë is op sy suster. “So, Jacobus, watse werk doen jy om daai rooi kar te kan bekostig,” vra hy speels.
Almal lag want hulle is bekend met die gespot oor bekostigbaarheid van voertuie en brandstof.
“Ek spekuleer. Koop en verkoop. Enigiets, basies,” sê Jacobus.
“Soos wat?” vra Enya.
“Meestal huise. Ek koop ‘n huis, maak hom mooi, en verkoop hom weer.”
“Is dit hoekom jy die huis langsaan gekoop het?” vra Zenia.
“Ja, maar hierdie een verkoop ek nie.” Hoe gaan ek jou dan sien?
“Daar’s hy, mense, die vleis is reg. Ons kan eet,” sê Stiaan. “Alles is reeds op die tafel onder die lapa. Jacobus, jy kan die dames se glase vul terwyl ek die vleis en braaibroodjies aandra.”
Jacobus se been druk teen Zenia s’n terwyl hulle eet. Toe hy dit aspris teen hare druk, het sy so geskrik dat sy met die skerp mes byna deur haar bord gesny het. Hy het dit gesien, en sy oë was vol lagduiwels.
Sy vat nie haar been weg nie. Dit voel asof hulle so teen mekaar hoort.
En dan, later, kom die lighartige maar interessante middag op ‘n einde. Stiaan, Enya en die twee gaste vertrek en Zenia staan nou voor in haar erf langs Jacobus. Sy draai na hom. “Dankie dat jy gekom het.” Moenie loop nie!
“Ek het lanklaas ‘n middag so geniet.” Ek wil nie huis toe gaan nie.
“En dankie vir die wyn. Ek is gek oor Cabernet.” En oor jou. Sy glimlag. “Hopelik kry hierdie vete tussen jou en Stiaan nou end.”
“Dink jy ek kan jou selnommer kry?” vra Jacobus, effe uitasem.
“Natuurlik. Bure moet mekaar kan kontak in geval van nood,” sê Zenia. Of as ek jou stem wil hoor.
“Ja.” Jacobus weet nie wat om verder te sê nie. Wat sal jy maak as ek jou nou soen?
“Uhm, wil jy koffie hê?”
“Net as daar kondensmelk in is.”
Zenia lag. “Ek hou ook van my koffie so!”
“Gaaf, nog iets wat ons in gemeen het. Kondensmelk-koffie, en ons elkeen dink die ander een is deksels oulik.” Hy vat haar hand. “Kom, ek hoor die ketel sing.” Soos my hart.
Zenia weet dat sy nooit weer met dieselfde oë na haar oulike buurman gaan kyk nie. En sy was bly. Baie bly…