Skip to main content

Om onder Afrika se ongenaakbare son as Afrikaner te floreer, vra leeuemoed. Meer so in die kollig … want stam jy uit Afrikaner-adel moet jy dapper trap. Devon Hofmeyr (30) wis van. ‘n Leeftyd lank. As seun van die omstrede volksheld-sanger Steve Hofmeyr is sy lewe van kleintyd vasgekiek of vasgepen. Dit stuit hom geensins nie want van terugdeins ken dié fris, jong Afrikaner-leier nie. Ook nie vir die kans om voor te trek vir sy geslag tydgenote die Mars-millennium in nie. Pas aangestel as direkteur van die burgerregte-organisasie vir jongmense Toekomsfront, moet die Pretorianer die strydende faksies onder die jong Afrikaanses kraal toe jaag. Onder sy sagter troefkaarte is ma Noline, wat die kollig vermy en sy anker is. Die een mens wat hom soms nog in toom hou. Saam met die liefde van sy lewe, Nikita, ook sy ware noord. Dié donkerkop ken hom ses jaar saam, beter as enigiemand anders, het Devon aan Sonnette Lombaard verklap.

Jou pa is omstrede maar geliefde volksbesit waarvan die volk én skindertonge nie genoeg kan kry nie. Dit hou jou van kleintyd in die kollig. Is jy trots op hom en hoe hanteer jy om in sy skadu jou eie merk te maak?

Ek is ongelooflik trots op hom. Hy is die tipe man wat ek ook wil wees. Dit maak dit nie maklik nie. Dit kom met ‘n sekere verantwoordelikheid en ‘n standaard wat behou moet word as ‘n mens in so geplaveide pad stap. Mense verwag oor die algemeen baie van jou en jy en jou doen en late word voortdurend oor ‘n fyn kam geskeer.

Verskil jy en jou pa baie of dink/doen julle dieselfde? Wat is die beste raad wat jy by hom afgekyk het? En hoe hanteer jy kritiek en verwagtinge oor jou, gemeet aan sy lewe, uitsprake en prestasies?

Ons verskil baie min. Net wanneer ons alma maters Affies en Grey teen mekaar speel, loop ons verby mekaar. Haha. In ‘n mate het ek wel ‘n verantwoordelikheid, nie net om sy naam te beskerm nie, maar ook dié van ons Hofmeyr-familie. Dit verg nogal redelik baie. Ek het grootgeword in ‘n wêreld van kritiek. Dit sal natuurlik interessant wees om te sien hoe dié wat so maklik kritiseer, sal vaar as hulle die kans kry van ‘n lewe lei konstant in die kollig. Ek dink ook ons as mensdom sal verbaas wees as die wêreld moes weet wat rêrig in ander se lewens aangaan.

Watter drie woorde beskryf jou die beste?

Uithouvermoë. Geloof. Liefde.

Wat weet minder mense van jou – het jy verskuilde talente/stokperdjies?

Ek kan baie goed skiet. En ek het ‘n baie suksesvolle loopbaan in die private sekuriteitsbedryf gehad. O ja, en ek en Virat Kohli, Indië se krieketkaptein, is vriende!

Wat spel die woord geluk vir jou en waarna streef jy of droom jy oor?

Dis redelik persoonlik. Maar wanneer iemand tot bekering kom. Dis ‘n groot geluk in my lewe. Ek het ook ‘n droom of doelwit waar ek graag in net een jaar, een miljoen honger kinders wil voer.

Hoe ontspan jy?

Gaming. Ek het grootgeword in ’n gamer-wêreld. So my Playstation 5 gaan oral saam met my wanneer ek toer/reis. En dan natuurlik ontspan ek ook wanneer ek in my bakkie in die bos ry en jag. Golf speel ook ‘n groot rol om my te laat afskakel.

Waarop is jy die trotste in jouself sover?

Dat ek nog nie opgegee het nie, wetend dat die pad wat ek al 30 jaar lank loop, nie ‘n maklike een is nie. Veral nou weer.

Jy moet nou die jonger generasie Afrikaners saamsnoer en vorentoe rig. Hol die millennium Afrikaner rêrig net agter geld, titels en status aan? Wat is jou geslag se rol vorentoe in Afrika?

Ek is trots op ons. Ons byt nog vas. Almal is eenmaal jonk en het drome. Ek dink daar moet beslis meer na die jonger geslag geluister word – moet hulle in hemelsnaam nie net vir alles afjak wat hulle probeer doen nie. Die jonger generasie van vandag het ‘n eie identiteit. As jong leiers is dit ons verantwoordelikheid om dit te ontleed en te bepaal hoe ons die jonges by kan staan sodat hulle hierdie lewe tot volle potensiaal kan uitleef.

Wat beteken geloof vir jou?

Geloof is vir my ‘n konsep wat aktiveer die oomblik wanneer die wêreld vir jou sê “Nee” en jou siel vir jou sê: “Ja”.

Wat is vir jou die lekkerste van Afrikaans praat en Boerseun wees?

Dis vir my lekker om deel van iets te wees wat jy nêrens anders in die wêreld sal kry nie. Wat dit lekker maak, is dat dit ‘n uitdaging is en dit maak ons gewillig en kreatief om vir oorlewing net beter te kan doen om beter te kan leef.

Kan jy sing soos jou pa en broer en/of ‘n instrument bespeel?

Ja, ek kan sing. So nou en dan, dit is. Ek kan ook so ‘n bietjie klavier speel. Eintlik leer ek nog.

Leave a Reply

error: Content is protected !!