Skip to main content

Paul C Venter

Skaars ‘n minuut later strompel Aggie by die winkel se slaapkamer uit, en hy span briesend die masjienpistool. Sakkie probeer hom nie keer nie.

Aggie steek vas, mik en skiet die magasyn leeg op Mutugi se lyk. Sakkie verstaan.

By die winkeldeur drom inwoners van Happy Valley grootoog saam. Aggie skree op hulle in skewe Kikoejoe en swak Engels met Duitse vloektaal by. Die naam Maitu slaan die vrouens die hardste: Iets het met Moeder gebeur. ‘n Koek vroumense pers by die deur in, wil graag help.

Dit jaag Sakkie terug kamer toe. Hy pluk die bebloede kombers van Sarika Bakshi af en gooi dit oor haar man in die stoel. Met sy eie penis in sy bloedbesmeerde mond geprop is Rohan Baksi nie iets wat sy Happy Valley customers moet sien nie.

Karimi sit in ‘n wit gown van Maitu op die tafel waar sy die bullet uitgegrawe het en die gat toegewerk het. Hy luister stomgeslaan na Gitonga, sy Mau-Mau bodyguard.

Dis moeilik om alles te volg, Gitonga is crazy kwaad en bang, sy cheap necklaces en armbands bewe saam met hom. Sy naam is ‘n bynaam wat die ryk man beteken, ironies bedoel.

Een horrible feit gil deur die chaos van woorde: Nguchiro, die meerkat met die hoedjie, het almal geskiet. Karimi se warriors is vermoor deur ‘n stuk bruin sening uit ‘n woestyn  thousands of miles van hier af.

Hy wil opstaan. Gitonga moet help. Hy steier maar bly regop.

“Guns,” prewel Karimi in Engels, “where are our guns?”

Op die eiland van Sint Helena, in die doringdraadkamp wat die Kakies en eilandmense Deadwood genoem het, was daar ‘n reuse peperboom met rooi bessies waar PJ Buys uit sy paar verslete boeke vir die penkoppe stories vertel het. Ouer krygsgevangenes het ook kom luister. In die koelte van die ou boom het dit vir PJ Buys soos ‘n kerk gevoel, en hy het vermoed sy gehoor voel ook so.

Die nag van die wurms het alles verander. Die wurms was nie regte sywurms nie, maar hulle kon drade soos sywurms spin. Wat onder ‘n volmaan met die wurms gebeur het, het die bygelowige Boere laat glo die peperboom is van die bose en PJ Buys moes op ‘n ander plek sy stories vertel. Hy was seer kwaad en teleurgesteld in sy kamerade.

Hy voel vanmôre ook so.

Hy sit oorkant Sloet en Kaatjie op die Stanley se stoep, luister na die woorde wat uit hulle monde kom en hom so omkrap hy wens ontbyt wil verdomp kom sodat hulle kan ophou praat.

“Ek het eers vir Anke gebel,” se Sloet. “Ek wou hê sy moet Kaatjie bearbei om nie vir Sakkie hier te wag nie. Hoe gouer sy en die dogters op ‘n Comet klim hoe beter en veiliger vir almal. Ek was bang Kaatjie gaan op haar agterpote staan, maar jy’t inderdaad ‘n slim dogter.”

“Toe kom ek met my geworry oor pa en ma,” gesel Kaatjie hom verder. “Es tut mir leit, Vater, maar dis beter as julle mekaar reguit in die oë kyk en soos grootmense praat. Voor julle in die skeihof ape van julleself gaan maak.”

“Petrus, jy weet jy loop soos ‘n seerpootleeu hier rond,” vryf Sloet dit net nog dieper in. “Bloed, dis ‘n groot klip uit my pad as die dogters saam met jou kan terugvlieg. Hulle sal, hulle vertrou jou, jy weet dit.”

Hy kyk net na die verraaier Sloet, want as hy na die verraaier Kaatjie moet kyk gaan hy onchristelik begin praat. In die doringdraadkamp op Sint Helena, onder die bas van die groot peperboom, het die eiers van derduisende wurms een maanhelder nag uitgebroei. Dit het gelyk of die ou boom lewe. Die wurms het uit die bas gekruip en aan hulle drade in die nagbries geswaai tot hulle grond toe geval het.

Op die grond het brulpaddas vir hulle gewag. Toe kom koggelmanders by. En slange. En groot harige spinnekoppe. Dit het gelyk of die grond ook lewe. Die honger gedrogte het erg onder mekaar begin stry. Deur die geblaas en gesis kon die hele kamp hoor hoe word die sappige wurms opgeslurp.

PJ Buys weet nou hoe voel so ‘n wurm.

Kerwin en Becky wag in haar Landrover voor die Generaal se tent. Sy het twee koerante by die hotel gevat en hulle lees terwyl hulle wag.

“Daar was gister een buite Johannesburg ook,” se sy.

Hy is by dieselfde berig. “Plaasboer en sy vrou. Waar’s Muldersdrift?”

“Ek ken nie die Transvaal nie.”

“Dubula ibhuna,” lees Kerwin hardop. “Shoot The Boer.”

“Written in their own blood,” skud Becky haar kop.

“Bloody hell, I don’t call beheading with pangas shooting the Boer.”

“Dis darem nie ‘n oorlog soos hier nie.”

This is good, besluit Kerwin, I like this.

Hy bedoel hulle twee so saam, nie die nuus uit Suid-Afrika nie.

Die Generaal se Jeep hou stil. Almal ken die storie van sy Amerikaanse voertuig, hy het dit in die oorlog teen die Duitsers met dobbelstene gewen.

Hy vertel hulle wat regtig by die petrolstasie onder Mount Kenya gebeur het. Dit was ‘n geveg met kapmesse en vuurwapens, ‘n jong konstabeltjie se gesig is weggeblaas en ‘n retired sergeant major in die police reserve het sy kop verloor. Die reservis was toe nie ‘n Boer nie.

Becky vra of die Generaal al besluit het. Kerwin besef sy het die Generaal op haar radio vertel sy wil hom nie meer rondry nie.

“I did give it some thought, actually,” se die Generaal. “You two don’t really have to get along, Lieutenant.  You’re not just Captain Kerwin’s driver, you’re his bodyguard and the best shot I have. I’m afraid I need this man’s input on the war. Stop complaining and do your duty. Understood?”

Becky aarsel. “Yes, Sir.”

Kerwin probeer om nie te glimlag nie. Die Generaal sien dit.

“Captain,” se hy, “Police Sergeant Harry I-keep-forgetting-his-surname believes an escaped prisoner was involved in this morning’s mess. Apparently a South African from the coffee district, Izak Vogel. Becky tells me you know this man.”

Kerwin se oe gaan wyd oop. “Yes, Sir, I do.”

“For fuck’s sake, James,” grom die Generaal, “who is this cowboy running around Kenya with a beautiful Purdey shotgun?”

Karimi kruip in die bos agter Maitu se kliniek weg. Hy sukkel om sy Caltex overalls en cowboy boots aan te kry. Die wond klop soos ‘n hart bokant sy regte hart. Hy wil opgooi, byt dit terug in sy keel.

Die bos kraak en Gitonga stamp drie mans uit Happy Valley vorentoe. Hulle is presies wat Karimi nodig het: jonk en doodbang.

Hy vertel hulle Mau-Mau is ‘n holy mission in die naam van Murungu, as ons die bloed van die chomba en sy familie drink gaan Murungu ons land vir ons teruggee. As ons weier om in die naam van Murungu te veg, sal die chomba ons bloed en ons familie se bloed drink.

Die mans kyk grond toe en praat nie. Gitonga slaan een met die platkant van sy kapmes teen die boud. Die man vra wat hulle vir Karimi moet doen. Sy stem bewe.

Karimi beveel hulle moet Kirinyaga klim. Gitonga sal hulle lei. Daar is ‘n plek in die wit berg waar Murungu holy weapons bêre. Hulle moet alles vir hom bring.

As hulle dit nie doen nie, voeg Gitonga by, sal hulle koppe en hulle lywe nie vannag saam slaap nie.

Karimi haal ‘n platgedrukte papiersak uit sy gatsak, beduie die mans moet ‘n hand oophou. Die khat-blare is al amper soos snuif, maak hopies op hulle handpalms.

Hy beveel hulle moet eet, hulle sal so dangerous soos ‘n mulozi word.

Dis Kikoejoe vir leeu.

Kaatjie loop op die dik gangmat tot sy die regte kamernommer lees en klop aan. Sy wag, skiet stil ‘n gebedjie op: Asseblief, werk tog mooi met haar hart, die Scheisse met die ou mans moet ophou, sy mag nie nou staan en moeilik raak nie.

Die deur gaan oop.

“Ek dog jy’s hotelvolk met nog koffie,” sê Maggie.

In die kamer agter haar staan haar reistas oop op die bed. Kaatjie weet dadelik Maggie is besig om te pak en dit maak haar maag so ‘n draai gee.

Die dorpvrouens bly lank in die winkel se slaapkamer. Hulle het die deur toegemaak.

Sakkie sit met Willy se Lee-Enfield bo-op die toonbank en hou sy oog op die toe voordeur. Dit het stil buite die winkel geword.

Die voordeur gaan oop en Aggie glip in, maak die deur weer toe. Die geweer wat aan sy skouer hang en die bandelier oor sy bors laat hom soos ‘n krygsman van Hendrik Witbooi lyk. Net die parmantige Fedora-hoedjie op sy kop en die Duitse masjienpistool in sy hande pas nie by die prentjie nie.

“Karimi is vort,” se hy. “Sy stewels se spore loop in die berg dood. Donner is sweerlik agter die skietgoed aan.”

“Ek ken nie die man nie, Aggie. Kan hy ‘n berg so klim? Hy’t ‘n gat in sy bors. Wat help skietgoed as hy dood neerslaan?”

“Daar’s ander spore saam met syne. Ek tel vier mensgoed. Hy gaan laat hulle die berg klim.”

Sakkie stry nie verder nie. Hy het te veel in die woestyn gesien hoe lees Aggie stories van die grond asof dit ‘n boek is.

“Son trek water, ons moet ry. Ek wil vanaand my dogters sien.”

“Ry jy. Ek moet hier bly, Sak.”

“Komaan, vir wat? Wil jy help graf grawe?”

“Hulle brand hulle lyke.”

Die deur na die slaapkamer gaan oop. Dit lyk of die figuur wat uitkom ‘n lang, groen laken dra, maar dis net ‘n loshangende rok. Die hare is gewas en geborsel, die gesig skoon maar nog blou geswel, die lippe gesny waar vuishoue hulle teen die tande vasgeslaan het. Mens kan sien elke tree maak seer, die gesig weier om dit te wys.

“Achtung, could I ask you a favour?” vra Sarika. “I need wood for a fire.”

Sloet drink twee koffies na ontbyt. “Bloed, dis hoe regte koffie moet proe.”

PJ Buys raak nie aan sy ontbyt nie. “Jy weet dit werk uit op twee sjielings ‘n koppie?”

“Nietemin. Sakkie reken betaal ‘n tiekie vir ’n koffie en jy kan maar weet dis nie regte koffie nie.”

“Koffieboer sal so redeneer.”

Sloet se gesig word hard. “Gaan jy nou aanhou brom tot julle in Kaapstad land?”

“Magistraat, man, jy moes my al op Laingsburg gesê het.”

“Wat moes ek jou gese het?”

“Ek gaan in die pad hier wees.”

“Petrus. Sakkie se dogters sal nie saam met enige een vlieg nie.”

“Het jy hulle al gevra?”

“Ons kan hulle saam vra. As Maggie ons gaan vat. Ek dink nie sy sal vir Kaatjie nee sê nie.”

“Ek gaan hulle nie vra nie. Ek’s nie hulle oupa nie.”

Sloet beduie ‘n kelner moet nader staan. “Another coffee for me and one for my friend.”

Die kelner buig en gaan weg.

“Jy minag my, Sloet,” sê PJ Buys sag. “Ek het nie vir koffie gevra nie.”

Sloet se lag is ver van gul af. “Goede bliksem, ek moes in Deadwood fyn glas in jou koffie gegooi het.”

PJ Buys speel nie saam nie. “Sint Helena is verby, Sloet. Ek het gedink jy is iets. Ek vermoed ek was bitter seer verkeerd.”

“Petrus, ek het nie voorgestel jy moet die dogters terugvat nie. Kaatjie het. Sy wroeg haar ma wil op ‘n geskeiery geld blaas wat hulle nie het nie, weet jy Anke moes skuld maak om Kaatjie hier te kry? Op ‘n skildery?”

“En dis nou verflucht my skuld?”

“Wie’t Anke se hart gebreek met sy hoerery? Was nie die spook in die Kaapse kasteel nie.”

“Kyk wie gooi klippe, wie het Sakkie nege maande gedra? Was nie jou Annette nie.”

Sloet is wit in die gesig. “Ek drink nie koffie saam met jou nie.”

Hy wil vinnig opstaan, sy rug stem nie saam nie. Hy sukkel regop, skuifel weg. PJ Buys bly sit en klop aan sy baadjiesakke, maar daar sal nooit weer ‘n pyp en tabaksak aan hom wees nie.

WORD VERVOLG

Leave a Reply

error: Content is protected !!