George April
“Die Bergrivier Munisipale begroting wat op 31 Mei, twee dae na die verkiesing deur die raad goedgekeur was, gaan ‘n geweldige impak hê op die middelklas huishoudings,” het ‘n Piketberg sakeman aan Die Waarheid gesê.
Die Waarheid het onlangs berig oor die Demokratiese Alliansie (DA) beheerde Saldanhabaai Munisipaliteit se 10.07% kragverhoging, wat voor die verkiesing deur die raad goedgekeur was.
En ondangs die bekendmaking van diè verhogings en swak dienslewering aan Hopefield se inwoners, het die meerderheid inwoners steeds DA gestem. Ondersteuners het uit taxi’s gesing en geskree: “hou by die blou”.
Die Bergrivier Munisipaliteit het egter tot na die verkiesing gewag om ‘n besluit te neem en die begroting goed te keur. Of dit egter ‘n impak sou gemaak het op die kiesers se keuses met stemdag, sal egter ‘n raaisel bly. Die DA het die meeste stemme gekry in die Nasionale en Provinsiale stemme in die Bergrivier munisipale streek, met die Patriotic Alliance wat die amptelike opposisie geword het.
Tariefverhogings tree vanaf 1 Julie 2024 in werking, met elektrisiteit wat styg met 10,9%, en volgens Ray Van Rooy, Bergrivier Uitvoerende burgermeester, is die verhoging onderhewig aan die NERSA goedkeuring.
Vullisverwydering styg met 20%, riool met 6.9%, met eiendomsbelasting wat ook met 6.9% styg.
“Ons verstaan die uitdagende ekonomiese tye waarin ons mense leef,” het Ray van Rooy, uitvoerende burgemeester tydens die lewering van sy begrotingsrede gesê. Die belangrike raadsvergadering was op Vrydag 31 Mei by die Allan Boesak Gemeenskapsaal in Piketberg gehou
Dit was blykbaar ook die tweede keer dat Bergrivier-munisipaliteit sy raadsvergadering aan die publiek oopgestel en in ‘n gemeenskapsaal gehou het.
Die Bergrivier Munisipale begroting vir die 2024-2025 finansiële jaar, was in totaal op net meer as R659 miljoen deur die Raad goedgekeur.
Van Rooy het voortgegaan, en gesê dat die voorbereiding van diè finale begroting ‘n uitdagende taak was, onder die huidige ekonomiese omstandighede, beide plaaslik en wêreldwyd.
In die opstel van hierdie begroting, moes alle ampsdraers en die administrasie ‘n balans vind tussen bekostigbaarheid en die lewering van dienste,” volgens Rooy gesê.
Ten spyte van hierdie uitdagings, bly die lewering van uitstekende dienste en die verbetering van die lewenskwaliteit van alle inwoners, die nommer een prioriteit vir Bergrivier Munisipaliteit.
Die Munisipaliteit sal egter voortgaan om die kwesbares binne die gemeenskappe te ondersteun deur die implementering van hulpbehoewende subsidies aan kwalifiserende huishoudings. ‘n Kwalifiserende huishoudings-pakket bestaan uit 50kw gratis elektrisiteits eenhede, 6 kiloliter gratis water en ‘n 100% gesubsidieërde standaard huishoudelike vullis verwydering en riooltarief per maand.