Skip to main content

SONJA BROWN

‘n Bekende gesegde onder Afrikaners is ‘oudword is nie vir sissies nie’, maar wanneer kan mens jouself as oud klassifiseer?

Die Waarheid het met ‘n paar mense gesels, en hier is wat hulle sê:

“Wanneer jy jou gesig deeglik sunblock teen die Natalse son, maar jy vergeet om jou neus te smeer – en dan loop jy rond met hierdie bloedrooi, opgehewe neus soos ‘n clown,” reken Paul C Venter (77).

“Ek skat as mens nie meer boom kan klim om die boonste perskes te pluk nie, dan is jy oud,” reken Bennetta Swanepoel (81) tong in die kies. “Of as jy wag vir ‘n groot genoeg spasie tussen voertuie sodat jy met jou eie kar ‘n besige pad kan oorsteek.”

“Nee kyk,” kug Schalk Venter (79), “ek weet die term “senior burger” is vir die eerste keer gebruik in 1938, maar ek voel beslis nog nie soos een nie. Dalk as ek net op ‘n kol heeldag op die stoep sit en koffie drink, sal ek as oud kwalifiseer.”

Sonnette Lombaard sê: “Oudword kom ook soos ‘n dief in nag, wil die wyses dit hê. Dis waar, beleef ek toe self aan die vooraand van my afgewagte 60ste verjaarsdag in 2023 se lente. Ná ‘n lewe vol vreemde draaie en uitdagings, kon ek met goeie rede hierdie mylpaal blymoedig tegemoet gegaan. Of so was die plan …

“Wyl ek nog aan die begin van 2023 gedink het hoe ek my mylpaalverjaardag saam met geliefdes wyd en syd wil vier (‘n paar vieringe in die lente en somer) het nog ‘n kinkel op my lewenspad onwetend begin broei.

“Teen die winter is die lewe se jonkweesmat  koud en onseremonieël onder my uitgepluk en het ek kaplaks deel van die lewe se ou tapyt geword. Net so, oornag, wyl ek in die hartjie van die winter onderweg was na daai groot 60 in Oktober.

“Met ‘n stukkende hart ná die dood van ‘n geliefde, het my longe ook gehensop en was ek teen einde Augutus dodelik siek in ‘n hospitaal. Troosteloos in my eie onkologiekamer wyl die super blou maan  volrond in my venster gehang en ek gedobber het.

“Niks sou daarna weer dieselfde wees nie. Tot daar is ek op die wye vlerke van genade deur blindheid in my 20s, kanker in my 40s en ‘n lewensbedreigende breinkrisis in my 50s. Telkens was daar heilige ingryping en het die mediese wetenskap en my jonk-van-gees-gemoed my help deurtrek  – kon ek weer fier my lewenstog hervat.

“Nie hierdie keer nie. Hartverskeurend-treurend met boonop ingekonkte longe was ek oornag rêrig oud – het dit ook gevoel van kop tot tone. Ek het onteenseglik geweet ek het my jong-gees wat my tot daar geabba het, afgegooi, ontgroei, soos jy wil. Ek het die jonkwees-landskap vir goed agtergelaat en daar was geen om- of terugdraai nie. Die deur(e) agter my was gegrendel… wou ek leef, kon ek net vorentoe. Maar hoe, want my sterkste wapen, my jonkheid, het my ingehaal en in ‘n oomblik van swakheid gevou.

Nou ‘n jaar later staan ek steeds daar by die nuwe, “ou” landskap … my tone roer nog die water wyl ek sukkel om om my stolastatus neer te sit en aan te reis. Probeer sin maak van die hede binne ‘n omgekrapte lewe én van my nuwe status as amptelik deel van die mensdom se ouer generasie in ou murg en been, voel stokoud-swaar,” sluit Sonnette af.

Hier is wat kenners meen:

Ouer volwassenes is geneig om ‘n beter gevoel van welstand te hê en is oor die algemeen gelukkiger as jonger ouderdomsgroepe.

Studies het getoon dat ouer volwassenes meer geneig is om vrywillig iets te doen om terug te gee aan hul gemeenskappe as jonger ouderdomsgroepe.

Anders as wat algemeen aanvaar word, is ouer volwassenes steeds in staat om nuwe vaardighede aan te leer en by nuwe tegnologieë aan te pas.

Ouer volwassenes is minder geneig om stres en angs te ervaar in vergelyking met jonger ouderdomsgroepe.

Studies het getoon dat ouer volwassenes wat gereeld aan fisieke aktiwiteit deelneem, ‘n laer risiko het om chroniese gesondheidstoestande te ontwikkel.

Ouer volwassenes het ‘n magdom kennis en lewenservaring om met jonger geslagte te deel.

Sommige ouer volwassenes het in hul latere jare nuwe stokperdjies en belangstellings aangepak, soos verf, tuinmaak of ‘n nuwe taal aanleer.

Baie ouer volwassenes meen dat hulle ‘n gevoel van vryheid en bevryding in hul aftreejare voel, aangesien hulle meer tyd het om hul belangstellings en passies na te streef.

Daar is geen spesifieke ouderdom waarop ‘n mens as “oud” geklassifiseer kan word nie. Ouderdom is ‘n relatiewe konsep en kan wissel na gelang van kulturele norme, samelewingsverwagtinge en persoonlike perspektiewe. Daar is egter sekere faktore wat daartoe kan bydra dat iemand in sekere kontekste as oud beskou word.

Een algemene maatstaf om as oud geklassifiseer te word, is die bereiking van aftree-ouderdom, wat tipies ongeveer 65 jaar oud is in baie lande. Op hierdie ouderdom kom individue dikwels in aanmerking vir senior afslag, pensioenvoordele en ander ouderdomsverwante voorregte. Daarbenewens kan fisiese en kognitiewe agteruitgang wat algemeen met veroudering geassosieer word, meer opvallend raak rondom hierdie ouderdom.

Nog ’n faktor wat daartoe kan bydra dat iemand as oud beskou word, is hul voorkoms en gesondheid. Grys ​​hare, plooie en fisiese beperkings word dikwels met veroudering geassosieer, en individue wat hierdie eienskappe vertoon, kan as oud gesien word, ongeag hul werklike ouderdom.

Verder kan sosiale houdings teenoor veroudering ‘n rol speel om te bepaal wanneer iemand as oud beskou word. In sommige kulture word ouer individue gerespekteer en vereer vir hul wysheid en lewenservaring, terwyl hulle in ander gemarginaliseer en van sekere geleenthede uitgesluit kan word.

Dus: Om as oud geklassifiseer te word, is uiteindelik ‘n subjektiewe en relatiewe konsep wat wyd kan verskil na gelang van individuele ervarings en persepsies. Dit is belangrik om te onthou dat ouderdom net ‘n getal is en nie as ‘n enigste bepaler van iemand se waarde gebruik moet word nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!