Skip to main content

Sonnette Lombaard

If the world was only one country, Istanbul would be its capital,” het Napoléon Bonaparte onomwonde verklaar.

Dié unieke hoofstad van Turkye wat glorieryk oor twee kontinente (Asië en Europa) strek, word deur die eeue lofryk in alle kunsvorme besing. Met sy sprokiesverlede is Istanboel die simbool van grootsheid, ou glorie en elegansie en leen hom tot kreatiewe vertellings en weergee wat grens- en tydloos betower en bekoor.

Soos nou weer in ‘n nuwe Afrikaanse boek wat pas die rakke getref het. Daarin span bekende Afrikaanse skrywers hul ervare woordkuns en reisgierigheid in om met lesers in ons Moedertaal hulle vermaaklike reiswedervaringe, ook in die beeldskone Turkse waterstad, te deel.

Turkye is egter nie al plek wat lesers vanuit hul gemakstoele van waar ookal, in Draaie, swaaie en afdwaalpaaie (Reisstories) saam met die skrywers kan besoek nie. Die interessante reisverterllings vol kinkels van meer as 40 bekende Afrikaansse skrywers daarin sorg vir vyfster-vermaakstof én verryk.

Dis ‘n bundel propvol heerlike reisverhale, kundig saamgestel deur die ervare Corlia Fourie en Annelize van Rooyen en maak vir ‘n uitstekende geskenk vir oud en jonk.

Die splinternuwe boek is vandeesweek by ‘n gesellige boekeaand in Melville, Johannesburg bekendgestel. In die gehoor het dit gelyk soos ‘n Wie is Wie in Afrikaans. Verskeie skrywers wie se stories in die boek opgeneem is, was teenwoordig en het dele daarvan vir die waarderende gehoor voorgelees.

Afrikaanse bekendes wat diep spore in ons vermaakbedryf getrap het en/of steeds doen, soos Ruda Landman, Susan Coetzer, Magda van Biljon, Mariëtte Englen en Tobie Cronjé het saamgekuier.

Die geliefde TV-aanbieder, radiovrou en oudjoernalis Elma Potgieter het ‘n deel van haar stuitige en “wettelose” reisstorie in die boek met die gehoor gedeel. In 1972 het sy geswig voor ‘n aanloklike aanbod van die skrywer Kas van den Bergh om vir hom geld in haar tas na die buiteland te smokkel.

Ondanks besware van haar geliefdes kon sy nie die wortel voor haar neus van ‘n week se betaalde vakansie in die Franse hoofstad en kunsmekka Parys in ruil daarvoor weerstaan nie. Geensins destyds te versmaaie vir ‘n armsalige aktrise nie, aldus Elma. Lees self of haar waagstuk vrugte afgewerp het.

Onder die ander 46 skrywers wie se reisverhale met onverwagte en ongewone draaie in hierdie lekkerlees-boek pryk, is Marita van der Vyver, Kirby van der Merwe, Sophia Kapp, Jacques Pauw, Irma Joubert, Julian Jansen, C. Johan Bakkes, Kerneels Breytenbach, Joan Kruger en Bettina Wyngaard.

  • NB Uitgewers gee Draaie, swaaie en afdwaalpaaie (Reisstories) deur Queillerie uit. Die sagtebandboek met 224 bladsye, kos R320 en is by alle bekende boekhandelaars en aanlyn beskikbaar.

Leave a Reply

error: Content is protected !!