Skip to main content

Paul C Venter bieg oor

DIE STOUTE GESKENK UIT FRANKRYK

Baie van my kieries kom uit bome in Afrika, maar nie almal nie. My appelkierie, die een wat my seuntjie gebreek het, kom van ‘n wilde appel in Yorkshire, Engeland. Dan is daar die een van kastaiinghout uit Frankryk, my spoggerige bâton de marche, maar durf ek openlik oor die meneer praat? Dis ‘n stoute storie.

Ag wat, “croquer la vie a pleines dents”, soos die Franse sal sê, byt die lewe hard met al jou tande en bokker die res. Stout het ook sy plek in die lewe…

Ek onthou dis Meimaand, lente in Frankryk, tyd vir die jaarlikse filmfees langs die see. Hoe oud is ek? Dertig se koers en klaar ‘n siniese ou joernalis. Ek skimp by my redakteur ek kort ‘n breek. Hy weet ek brand om die Cannes-filmfees met sy Hollywoodsterre te ervaar en hy was self nog nooit daar nie, so natuurlik sê hy nee. Almal op die redaksie weet hy sê net ja vir plekke waar hy al was sodat hy as die gryse wyse advies kan gee oor wat jy daar moet en nie moet doen nie. Ons is regtig lief vir hom.

Daardie selfde week gaan staan die planeet amper van skok:  die huidige Mejuffrou Wêreld is toe nie regtig ‘n maagd nie en moet haar kroon afstaan aan haar eerste prinses, Anneline Kriel van Suid-Afrika.

En raai waar gaan daardie mooi nooi van Witbank hierdie lente wees? Eers in Parys, Frankryk vir modelwerk en dan by die Cannes-filmfees om reklame vir Somer te doen. Tommie Meyer kon nie geweet het hy gee die volgende Mejuffrou Wêreld die hoofrol in sy film van C.M. van den Heever se bekroonde boek nie; hy is sweerlik op sy knieë van dankbaarheid, en ek is self besig om my sweetpakbroek bokknieë te gee.

My redakteur durf nie aanhou nee sê nie, veral aangesien Air France my verniet sal vlieg as ek die lugredery in my artikels noem, maar hy sorg nogtans dat hy my hooivurk met ander opdragte laai: Ek moet in Parys ‘n onderhoud voer met Desmond Colborn, die Suid-Afrika Stigting se Europese direkteur, oor die gekonkel van anti-apartheidgroepe in Europa. En ‘n onderhoud met Generaal Sir Francis de Guingand, voormalige stafhoof van Veldmaarskalk Sir Bernard Montgomery in die Tweede Wêreldoorlog en later ‘n grootkop van maatskappye in Rhodesië en Suid-Afrika. Selfs die Britse koningshuis noem hom glo Sir Freddie en volgens The Economist woon hy in ‘n aftreebuurt op die berg agter Cannes en mens kan ‘n akwaduk uit die Romeinse tyd deur sy toiletvenster sien. Hierdie onderhoude ruik heerlik na politiek en het natuurlik niks in gemeen met die geselsies wat ek met Hollywoodsterre by die filmfees wil doen nie.

Kort voor my vertrek Parys toe laai ons vroueblad nog hooi op: ‘n modefotograaf met ‘n kis vol Suid-Afrikaanse uitrustings moet saampiekel om ‘n fashion shoot met Anneline Kriel in Parys en Cannes te doen. Die fotograaf sal ook die foto’s neem wat ek vir my Cannes-artikels benodig. Ek weet van Jasper, hy is nogal bekend vir sy modefotografie. Jasper is nie sy regte naam nie. Hy noem my tikker. Hy noem al die verslagewers tikker.

Die aand voor ek en Jasper vlieg vertel ek my eerste vrou ek is gelukkig dat ek nie nog werk in Frankryk gekry het nie. Toe lui die foon. Dis my ma. Sy weet ek kom oor twee weke terug en dan verjaar my pa, almal weet hy soek lankal ‘n regte Engelse karwats vir sy perd. Ek voel ek moet noem ek gaan Frankryk toe, Engeland is ‘n hele stuk Noordsee verder. My ma sê ek ‘moet ophou snaaks wees en lekker vlieg, bok, onthou jou pa soek regte leer, swepe van plastic hou nie by hom nie’.

Ek plak die foon neer en my vrou sê ek moenie vir haar kyk nie.

Op die lughawe voer Jasper verbete oorlog omdat die kis met nuwe en duur klere in die vliegtuig se pens gelaai word. Jasper wil die moerse kis saam met hom en sy kameras aan boord neem, hy sweer daar is plek agter die laaste ry sitplekke as hulle net ‘n paar van die kostrollies aflaai. Die senior lugwaardin se kyk waarsku Jasper hy is die een wat afgelaai gaan word. Hy aanvaar met ‘n stram glimlag haar beslissing, maar ons is skaars in die lug toe haal hy ‘n noodhulptas uit sy handbagasie en slaan ‘n handvol pille sonder water weg.

“Gelukkig ken ek van pyn,” sê hy.

Ek dog hy maak ‘n grappie. Nee, nie sommer nie. Jasper, gaan ek nog uitvind, staan in die modewêreld bekend as die Koning van Hipokondria. Die pynpille het hom gou bewusteloos en hy slaap dwarsdeur die nagvlug. Ek slaap nooit op vliegtuie nie, kies ‘n boek uit my skouersak vol boeke en begin rustig lees. Jasper snork saggies langs my. Toe my boek klaar is en dit word lig buite, maak hy sy oë oop en gaap soos ‘n seekoei.

“Moenie dat dit jou pla nie,” sê hy, “dis nou maar my lot. Ek het al weer nie ‘n bleddie oog toegemaak nie.”

Ek weet ek lyk dom, maar ek kan gou ‘n ding kliek: op daardie oomblik weet ek dit gaan nie my lekkerste trip oorsee wees nie.

Ons land agtuur Franse tyd en het elfuur ons eerste onderhoud met Desmond Colborn van die Suid-Afrika Stigting. Sy plek is in Rue Lepic, Montmartre, die ou heuwelbuurt van Parys. Ek kom agter Jasper ken Parys beter as ek, maar sy kennis is hoofsaaklik deur Hollywoodfilms ingekleur. Hy lei my na Desmond se adres in Monmartre se Rue Lepic, vertel my dis ook die straat waarin daai malletjie met die een oor gebly het, Kirk Douglas het hom in Lust For Life gespeel.

Gedurende die onderhoud met Desmond besluit ek Jasper kan ‘n aanwins wees. Desmond gesels intelligent en gemaklik, geniet dit om afgeneem te word en sy beeldskone Franse vrou dink ooglopend die son skyn uit Jasper. Natuurlik is sy ‘n fotografiese model, natuurlik het sy van Jasper se foto’s in modetydskrifte gesien.

Desmond poseer vir een van Jasper se foto’s met sy pragtige wandelstok. Ek bewonder die glimmende kastaiinghout, noem ek maak loopkieries bymekaar. Desmond se vrou sê hy is really te jonk vir ‘n stick; in haar swak Engels klink dit asof sy van ‘n sick praat.

Ek en Jasper moet ‘n hotelkamer deel. My redakteur mors nie geld nie. Daardie eerste aand in Parys verdwyn Jasper soos ‘n groot speld. Ek verbeel my hy het genoem van iets stryk, dalk wil hy ‘n strykyster koop om die plooie uit sy kis vol uitrustings te stryk. Ek het nie op die vlug geslaap nie en gaan nie vir hom wag nie, dis my beurt om deur te slaap.

Skril geluide maak my wakker. Dis sonop en die geluide kom uit die badkamer. Jasper klink in pyn, verontwaardig ook. Ek stel voor hy sjaddap, ek slaap nog.

Hy storm in ‘n dansende hemp en ewe broekloos uit die badkamer, wys my gebelgd sy boude. “Kyk! Kyk hoe lyk my gat!”

Ek is seker Jasper weet ek is nie gay nie; ek word in daardie stadium nog in Vegkop en ander drinkplekke van die pers geterg oor die aktrise berug vir stories dat sy in vorige lewens onder andere ‘n Egiptiese farao en Napoleon Bonaparte verlei het. Dat sy my naam in ‘n onderhoud ook op haar lys verowerings geplaas het, maak my nie meteens lief vir haar nie.

My oog vang wel Jasper se maer agterstewe en dis lelik opgehewe en bloedrooi. Iemand het behoorlik plathand ingelê.

Ek bars uit van die lag. “Is dit wat jy stryk noem?”

Hy is nie meteens lief vir my nie. “Ek’s nog lekker aan die stryk toe begin sy my gat slaan. Pien, skree sy, pien! Sy lieg, magtag, ek ken van pien!”

Pien? Ek wonder of hy reg gehoor het. Hy sê sy is Frans, dis seker naaste wat sy aan die Engels vir pain kon kom. Maar hy betaal nie ‘n dame van die nag kontant en loop voor die tyd om is nie. Toe mik hy maar noord en die dame van die nag bly sy alie vuurwarm klap.

Nog ‘n rede hoekom ek Jasper nooit sal vergeet nie: ek onthou nie ander besoekers aan bordele wat regtig na ‘n prostituut as ‘n dame van die nag verwys het nie.

“Miskien het sy gedink jy hou van pyn?”

Hy snork bitter en ruk sy noodhulptassie oop, klaar weer op soek na pynpille. “Jy beter jou dinges lig, tikker. Ek het Annie gisteraand gebel, ons sien haar halfnege vanmore oorkant daai kerk van die ou met die boggelrug, Anthony Quinn het hom gespeel.”

Dis natuurlik Notre Dame, Parys se bekendste katedraal. Annie is natuurlik Anneline Kriel. Ek durf natuurlik nie laat wees vir ons eerste ontmoeting nie.

WORD VERVOLG

Leave a Reply

error: Content is protected !!