Gerda Steyn het Sondag haar derde Comrades Marathon-kroon in Pietermaritzburg verower en haar eie op-rekord met meer as nege minute verpletter toe sy die lyn oorgesteek het in 5 uur 49 min 43 sekondes.
Steyn het nie net meer as R2 miljoen ingepalm nie, maar in die proses vir die tweede agtereenvolgende jaar rekords in beide die Comrades en die Twee Oseane in dieselfde jaar gebreek. Dit maak haar die onbetwisde koningin en grootste legende van Suid-Afrikaanse padwedlope.
Sy het die grootste deel van die wedloop gemaklik voor gehardloop.
Die Rus Alexandra Morozova, wat die vroue-wedloop in 2022 gewen het, was tweede en die Amerikaner Courtney Olsen derde.
Piet Wiersma van Nederland was die manswenner. Wiersma, wat verlede jaar net drie sekondes agter die wenner Tete Dijana geëindig het, het sake nie so maklik gevind soos Steyn nie. ‘n Paar kilometer van die wenstreep af, was hy nog deel van ‘n groep van vyf atlete wat voor gehardloop het. Hy het egter ‘n uitstekende taktiese wedloop gehardloop en die res van die groep teen die berugte Polly Shorts afgeskud.
Wiersma het die wenstreep in Pietermaritzburg in 5 uur 24 min 56 sekondes oorgesteek en Leonid Shvetsov se rekord van 5:24:39 net-net met 17 sekondes misgeloop
Dan Matshaiwe was tweede en die Ethiopiër Degefa Lafebo derde.