Skip to main content

Nadat hulle die afgelope meer as ‘n jaar na hartelus gemaak en breek het in veral die Mahekeng-Hooggeregshof in Noordwes in sy pogings om die diamantmyner en filantroop Louis Liebenberg se Tariomix te plunder, lyk dit of die voorlopige likwidateurs in die Tariomix-sage nou die wind van voor kry.

Vaughn Victor, die voorbok onder die likwidateurs, het gistermiddag ‘n ferm skop in die kroonjuwele gekry – ironies genoeg in die Hooggeregshof in Kimberley, tradisioneel die middelpunt van die diamantbedryf in Suid-Afrika.

Die hof het beslis dat die ex parte-bevel (‘n bevel wat verkry word sonder die medewete van die ander party of geleentheid vir die ander party om te reageer) wat Victor-hulle in die landdroshof in Springbok verkry het, tersyde gestel moet word en dat Victor-hulle nie weer ‘n ex parte-ansoek in Sprinbok mag bring nie.

Dinsdag word sake selfs moeiliker. Victor-hulle is saam met ABSA die verweerders in die Pretoriase Hooggeregshof in ‘n dringende aansoek deur die Nasionale Vervolgingsgesag dat miljoene rande wat ingevolge ‘n bewaringsbevel in Maart 2021 gevries is, op klaarblyklik verdagte wyse aan Victor-hulle oorbetaal is.

Die NVG het ‘n aansoek om ‘n beslagleggingsbevel gebring, maar die hof het bevind dat daar geen bewyse is dat daar enige onwettigheid aan Liebenberg se sake gekoppel kan word nie.

Die geld kon egter nie aan hom terugbetaal word nie omdat die NVG intussen aansoek gedoen om teen die uitspraak te appelleer. Daar is twee jaar later nog nie op ‘n appeldatum besluit nie.

Dit sou beteken dat die geld ingevolge ‘n hofbevel steeds deur ABSA in bewaring gehou moes word, maar op die een of ander wyse het die likwidateurs se prokureurs, Strydom Rabe Ingelyf, die bank oorreed om die sowat R69 miljoen (sonder rente) aan Victor hulle in ‘n Standard Bank-rekening oor te betaal.

Nou doen die NVG aansoek dat die hof ‘n bevel uitreik dat die likwidateurs die geld terugbetaal sodat dit, soos die hof aanvanklik beveel het, in bewaring gehou kan word.

As die hof die aansoek toestaan, beteken dit nie net dat die likwidateurs stert tussen die bene en vrugteloos van Liebenberg se mynbedrywighede in Koingnaas weg is nie, maar dat hulle buit met bykans R100 miljoen gesny word.

One Comment

Leave a Reply

error: Content is protected !!