Skip to main content

Sonnette Lombaard

Eureka! Eindelik word die likwidasie-waansin in ons land ontbloot en het geregtigheid begin seëvier en die wiel begin draai te danke aan ‘n beleërde sakeman wat saam met sy bondgenote weier om te gaan lê en moedig terug baklei.

Deurnagtelike saamwerk van top-regskenners vir Louis Liebenberg het vrugte afgewerp toe die likwidasie-boewe gister die aftog moes blaas in hulle haas om ook die mynmagnaat se myne in Namakwaland liederlik te plunder.

Die deurbraak het gistermiddag laat gekom toe die Hooggeregshof in Kimberley in Liebenberg se guns beslis het. Die likwidateurs onder leiding van Vaughn Victor, wie voltyds op Liebenberg se spoor bly, het in die hof op hul neuse gekry. Hulle is boonop gestraf vir hulle oorhaas om onreëlmatig hulle strooptogte teen die sakeman ook in Namaland te wil voortsit.

Die regter het gister die likwidateurs se lasbriewe wat Maandag op ‘n onderduimse manier verkry is vir beslaglegging by Liebenberg se myne in Namaland, nietig verklaar. Dis ‘n stroopsoet oorwinning vir die sakeman wat saam met sy vennote verwoed terugbaklei teen die likwidasie-boewe en vyandige media se durende totale aanslag teen hom en sy maatskappye.

Dis ook die halm van hoop en regverdigheid waarop die diamanthandelaar en sy lojale werknemers, wat teen nou voos baklei is teen die boelietegnieke van Vaughn en Kie, gewag het. Hulle loop al langer as ‘n jaar deur onder die bose likwidasie-boelies en vyandige groepe en Afrikaanse media wat met vuilspel ‘n volskaalse oorlog teen Forever Diamonds and Gold en die maatskappye daarbinne voer.

Een van die maatskappye Tariomix is onlangs ná ‘n lang, uitgerekte hofsaak, ook gekenmerk deur vuil taktiek, finaal gelikwideer. Daarna het die likwidasiemafia gou aandag na die sambreelmaatskappy se mineraalmyne in Namakwaland verskuif.

Oudergewoonte het die likwidateurs aangevuur deur Victor, soos met die Tariomix-saak, weer Maandag slu te werk gegaan om vinnig ‘n eensydige hofbevel in Springbok se landdroshof te kry.

Hulle ex parté-aansoek om beslag te lê op mynroerusting is toegestaan sonder dat die mynbestuur daarvan in kennis gestel is of kans gehad het om dit teen te staan. Ingevolge ‘n ex parté-bevel kan die hof ‘n lasbrief uitreik sonder dat die aangeklaagde party aangehoor word.

Terwyl Liebenberg dadelik bekend gemaak het dat sy maatskappy die lasbriewe teenstaan en appèl gaan aanteken om dit te beveg, het die likwidateurs reeds gisteroggend slaggereed by die myne opgedaag en ywerig begin rondsnuffel.

Liebenberg se regspan onder leiding van advokaat Jacques Groenewald was egter gou slaggereed om die lasbriewe en beslaglegging hand en tand te beveg.

“Ons het gister ‘n dringende aansoek gebring om Maandag se lasbriewe vir beslaglegging ingevolge artikel 69 van die Insolvensiewet teen Anolascore op te skort. Die lasbriewe is ex parté verkry wat beteken ons is nie vooraf in kennis gestel daarvan nie,” het prokureur Johan von Ludwig gisteraand aan Die Waarheid bevestig.

Liebenberg se regspan het dadelik die landdros vir uitstel gevra om die bevel en lasbriewe teen te staan in die hof. Die landdros in Springbok het egter Maandag die bevel toegestaan en die lasbriewe uitgereik. Dit ondanks appélhofuitsprake wat dit duidelik maak die ander party moet onder sulke omstandighede aangehoor word.

Die regspan het toe dringend top-advokate ingekry en Dinsdag tot deurnag gewerk om hulle ammunisie vir die belangrike appèlsaak gister in Kimberley slaggereed te kry. Die hofstukke is gisteroggend op ‘n dringende basis by Kimberley se Hooggereghof ingedien en die aansoek is gistermiddag om vieruur aangehoor.

Die hof het beslis dat die lasbriewe inderdaad onregmatig uitgereik is en dit nietig verklaar, aldus Von Ludwig. “So, die lasbriewe teen Anolascore en die myne is onreëlmatig en bestaan nie meer nie. Dit het geen krag nie.”

Om verder sout in die venynige vyande se wonde in te vryf, is gister se bevel met strafkoste toegestaan. “Die hof het ‘n bestraffende kostebevel teen die likwidateurs gegee omdat die lasbriewe onregmatig en verkeerdelik bekom is.”

Dit het daartoe gelei dat die oorhaastige likwidateurs in hulle spore gestuit kon word en onverrigter sake, stert tussen die bene, op die mynterrein moes omdraai. Dit nadat hulle reeds vroeg gisteroggend saam met 40 polisiemanne by die myn op Koingnaas opgedaag het.

Nadat hulle die gesondheids- en veiligheidstoetse ondergaan, asook induksie deurgegaan het, is hulle tot die terrein toegelaat. Hulle het die myn besoek en daarna rondgery op die terrein. Mynpersoneel het hulle nie vergesel nie.

Hulle was nog op die terrein teen gistermiddag vyfuur toe mynpersoneel hulle in kennis gestel het dat hulle ingevolge gister se nuutste bevel in Kimberley onregmatig daar is en dus die gebied dadelik moet verlaat.

Liebenberg het vroeër bekend gemaak dat hy heel toevallig laas naweek gehoor het van die likwidateurs se bose planne by sy myne. Hy meen dis in lyn met hulle doel om hom en sy maastakppye finansieël te ruïneer.

“Ons het die myn, ek vervang vinnig die toerusting indien nodig,” het hy vennote verseker en bygevoeg: “Wat egter pla, is dat ons hier nié met wetsgehoorsame burgers te doen het nie.”

Liebenberg het ook bekend gemaak dat die likwidateurs Maandag sy Landcruiser by sy broer Yochanan wou afneem. “Yochanan is hier uit Engeland en het daarmee Namakwaland toe gekom. Gelukkig het hy vasgeskop en Vaughn kon dit nie afneem nie.”

Volgens Liebenberg sal niks sy droom ontspoor om álle Suid-Afrikaners in ons land se mineraalrykdomme te laat deel nie. “God sien alle onreg en sal ons deur dit alles stuur. Vertrou Hom.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!