Hy heil uit die Vrystaatse Wilde Weste, was selfs ondergrondse myner in Virginia, ver van die sg. regte kringe. Ná ‘n leeftyd van soek en swerf, skop die lenige rebel eers vas in die Karoo. Bykans twee jaar gelede het die lewe hom uitgespoeg in Richmond, teenaan die hoofpad na die Kaap. Hier ploeg hy nou as kunstenaar en blaas woema in Richmond vanaf restoureerder van sy erfenishuisie tot kurator van die dorp se kunsgallery in die hoofstraat, wat hy saam met vennote bedryf. Naweke kloof sy warmgemaakte 400kw Ford V8, wat hy self in stand hou, deur die ooptes en vlaktes. Tussendeur skryf en skilder hy. Dis immers waarmee dié Vrystaatse goudvelde seun naam gemaak het. Sy nuutste roman Sons of Mud is op die rakke. Karoo Dusk was op die kortlys van die Universiteit van Johannesburg se Prys vir Kreatiewe Skryf. Johan Vlok Louw (60) het laat begin blom – dit het 20 jaar geneem voor sy debuutboek, Eric the Brave, verskyn het. En eintlik stel hy net intens belang in die lewe op alle vlakke, het hy aan Sonnette Lombaard vertel.
Is jy buitestaander/inkyker of eerder deelnemer aan die lewe?
Uiteraard behoort ‘n kunstenaar en skrywer per definisie ‘n “inkyker” te wees. Dit is ek wel by uitstek, en tog, as jy nie deelneem nie, bly jou “inkyk” bra oppervlakkig. So ek neem wel deel, ry die lewe se golwe voluit soos dit na my kant toe kom, buig or bars. Of jy nou die branders self vorm, of nie …
Jy is boorling van die myndorpie Virginia, het eens daar afgesak as myner. Hoe het dit jou lewe gerig: versteek daai stofstrate en mynhope meer as die ondergrondse rykdomme?
Virginia, o Virginia. Ja die ondergrondse rykdom het wel plaasgevind aan die hand van die mynwerkers se swoeginge, … die omgang met “rock drill en klip” het harde mense voortgebring. Generasie op generasie Onopgesmuk, reguit, moeilik selfs, maar dit was ‘n voorreg om dit só te ervaar as tiener en jong mens. Soortgelyk om heerlik vasgevang te wees in ‘n nimmereindige Bruce Springsteen song.
Teen die middeljare ken jy die lewe se pyne en plesiere, het jou lewe gedraai deur donker en lig. Jou volgehoue soeke na sin en geloof vind uiting in jou kunswerke. Wat beteken geloof vir jou?
Geloof is ‘n “groot storie” en as storieverteller is dit onvermydelik dat dit ook die pad na my kuns sou vind. Op die webtuiste https://redeem-art.com/ word hoë kwaliteit-afdrukke van my tipiese Christen kuns aangebied. Maar selfs in my meer sekulêre pogings, soos die reeks The apple eaters is dit die mannewales van Adam en Eva in Eden wat soms half tong in kies maar andersins brutaal eerlik uitgebeeld word. Dis ongeveer 20 werke, en meer is op pad – ek hoop om vorentoe almal saam vir volle impak uit te stal. Dus die tipiese Fall of Man. Tog is daar hoop – die redeem art reeks is ‘n exodus uit die somtyds donker ervarings van die appelvretertjies. Donker na lig …
So ja … Snaaks genoeg, in my boeke, is die stories weer heel sekulêr van aard, alhoewel Christen vriende meen hul ervaar tog ‘n sprituele ondertoon, maar ek doen dit nie doelbewus aldaar nie. Ek raai dit borrel maar op so tussen die lyne.
Maak die skep van kuns die lewe en menswees meer draaglik en hoe?
Sjoe ja, dis ‘n moeilike een. Die tipe werk wat ek doen, delf diep … dalk somtyds is ignorance bliss. Die maak van kuns kan ‘n broadsword wees, wat knaend beide kante toe tussen ekstase en wanhoop sny. Dit maak nie noodwendig die lewe draagliker nie, eerder net baaaa-ie meer interessant.
Ná 60 jaar se jaarlikse vier seisoene – verras die lewe en mensdom jou nog?
Absoluuut elke dag! Die lewenspad en die geforseerde loop op die tydlyn wat hier ophou, dan die hiernamaals insny, is só intens dat as jy eers leer fokus het, dit absoluut elke dag ‘n boks vol verrasings is … weereens natuurlik ten goede óf kwade.
Jy woon nou in die middel van die Karoo. Is dit waar jy nou moet wees? Wat is die geskenk(e) van afstand/isolasie – watter openbaringe beleef jy daar?
Die Karoo, die wye wêreld, waar ookal. Maar die Karoo met haar uitdagings, is gewis waar ek nou moet en wil wees. In ‘n dorp waar die armste en rykste inwoner skaars ‘n kilometer of twee uitmekaar woon, is daar min wegkruipplek. Magies vir ‘n skrywer/kunstenaar! Jy ervaar die lewe intens, ál die fasette van landskap en mens – amper asof elke individu hier in die relatiewe isolasie en stilte kan groei tot eie absolute. Ten goede, meestal darem. Ek het jare in die stad gewoon en nie ‘n enkele winkelier by die naam geken nie. Hier is dit nie ek stap gou Savemor toe nie. Nee, hier stap jy gou oor na “Saag” toe (die eienaar heet natuurlik Saag Visagie). Tot die bedelaars het name, en hulle bedel met ‘n intensiteit wat ‘n mens amper verruklik vind. Die Karoo, Richmond langs die N1, is ‘n stadspies wat sylangs Kaap toe sny. Alweer Springsteen …
Hoe lyk ‘n tipiese dag daar in Richmond?
‘n Tipiese dag hier is heel geregimenteerd (vir my, dit is). Vroegdag bring ek in my studio deur en namiddae, tot vroegaand, vind jy my in ons gallery Karoo Fine Arts op my pos as kurator. Dit het nogal aanpassing gekos om te spring vanaf die “maak” van kuns tot nou die verkoop daarvan – joune en dié van ander. Maar dit vlot. Saans is ek weer in die studio, dan met ‘n sjerrie-tjie, teen die naderende winter. Naweke werk ek aan my 150-jarige ou Karoo huis, dié dame moet konstant gebotox word, en ek ry die oop teerpaaie rondom die dorp plat met my Ford V8. Dís ook ‘n magiese ervaring, die groot spasie en ‘n goeie stuk masjienerie waarin jy meer as net ‘n hand gehad het. Dis alles gaaf.
Waaroor en waarvan droom jy nog? Wat spel hoop vir jou?
Droom, droom ek. Om nog vele boeke te kan skryf, die volgende “Adam Created” lê hoeka en broei in my komper. En om die groot sprong na die groot oorsee te kan gee vir meer blootstelling. Natuurlik ook vele, vele meer kwasvertellings. Droom is goed, dis die konstante lê van fondasies in die onderbewuste … die setel van vooruit beur. Om aan te hou beweeg en geraas te maak.
*Loer gerus na dié mini-doccie wat Johan se broer Kobus Louw oor hom gemaak het: https://youtu.be/DRg8lRZucR8