Ridder Donki-got, die man van Calitzdorp – Deur Koos Roets
‘n Verhaal geïnspireer deur een van die grootste helde in wêreldliteratuur.
Geraldine kom geïrriteerd die vertrek binne. “Vir wat skreeu jy so, Jan-Karel?” Sy gee ‘n teug aan ‘n lang sigaret, gooi haar kop skuins en blaas die rook driftig uit.
Hy wys na dieTV-skerm. ”Jou pa is op die fokken TV!”
Geraldine se oë rek. “Heiland! Kyk hou lyk hy! Kyk daai baadjie!”
Jan-Karel skud sy kop. “En daai das! Ek hoop nie die ou man gaan hom voor almal vergat nie!”
Riaan kyk ewe windgat na sy i-pad. “Goed professor, hier gaan ons. Vir ‘n duisend rand … Cervantes skryf in sy boek Don Quijote die Man van la Mancha, dat die Spaanse ridder Durandarte, in Montesinos se arms gesterf het.“
Hendrik knik diep, Riaan gaan voort. “Dan lees ons dat Montesinos Durandarte se hart uitsny. Vertel ons wat daarna gebeur het … dis natuurlik vir ‘n duisend rand.
Sonder aarseling antwoord Hendrik. “Nadat Durandarte gesterf het, het hy met Montesinos gepraat.”
“Dis nou oorlede Durandarte?”
Hendrik knik.
Riaan ril. ”Gepraat, sê jy?”
“Ja, gepraat. Cervantes het die gebeurtenis so beskryf – Hoe kon dit dan wees dat hy elke kort-kort steun en sug asof hy nog lewendig is?”
Riaan is uit die veld geslaan oor die akkurate antwoord. “Dis korrek …”
Die gehoor klap, die simbale trek los, die elektroniese bord flits die R 1000.
“Nou vir vyf duisend rand. Wat presies het die ridder Durandarte gesê?”
”Wil jy in Spaans of Afrikaans weet?”
”Afrikaans asseblief, my Spaans is bietjie verroes.”
Die gehoor lag.
Hendrik skuif regop. ”Durandarte het in ‘n luide stem uitgeroep: “O my …
Riaan val hom in die rede. “Dis nou die dooie ridder?”
Hendrik knik.
”Sjoe! Was darem vir jou ‘n rowwe lotjie daai!”
Die gehoor wil hulle breek.
”Okei, jammer ek’t jou in die rede geval, Hennie. Wat het hy gesê?”
Hendrik gaan dramaties voort. “O my neef Montesinos! Dit was die laaste wat ek jou gevra het, dat wanneer ek sterwe en my siel my verlaat het, jy my hart sal neem na waar Belema wag. Dat jy dit uit my bors sal sny … óf met ‘n swaard óf met ‘n dolk.”
Riaan is nou aansienlik minder windgat. “Heeltemal reg … “
Die gehoor klap, Hendrik se vyf duisend word aangedui. ‘n Foto van die standbeeld van Montesinos verskyn op die skerm.
”Die volgende vraag is vir tien duisend rand. Dwarsdeur Cervantes se boek is daar altyd die onderliggende teenwoordigheid van ‘n gees …”
Hendrik mompel. “’n Gees ja …”
”Ek praat nie van ‘n spook nie, Hennie, ‘n ‘teenwoordigheid’!”
Die gehoor lag. Riaan geniet die aandag en speel vir die gehoor. Die vraag is. “Wie’s die ‘gees’?”
”Dis Miguel de Cervantes self. Hy was natuurlik die skrywer van Don Quijote.”
”Reg. Dis Cervantes.”
Die gehoor klap, ’n skildery van die 16de eeuse Spaanse skrywer Miguel de Cervantes verskyn op die skerm. Dan word die persoon in die skildery skielik lewendig, Cervantes klim uit die skerm en wink Hendrik nader.
Hendrik staan van sy stoel af op. “Meneer … meneer Cervantes!”
Dit is duidelik dat net Hendrik van Cervantes se teenwoordigheid bewus is en net hy hom kan sien. Riaan gaap Hendrik oopmond aan, “En waar is Hennie nou op pad heen? Terug Calitzdorp toe?”
Die gehoor skuif rond. Hendrik ignoreer Riaan en stap tot voor Cervantes. Hy buig effe en spreek hom met groot eerbied aan. “U is Miguel de Cervantes.”
Cervantes knik.
Jan-Karel en Geraldine staan vasgenael voor die skerm. “En nou? Wat maak jou pa nou?”
Riaan leun vorentoe en probeer om Hendrik se aandag terug te kry. “Haai Hennie! Is jy nog met ons?”
Die gehoor lag, maar Hendrik hoor hulle nie, sy volle aandag nou slegs by Cervantes. ”Hennie, ons in nog nie klaar met jou nie! Kom sit!”
Cervantes draai na Hendrik en wys oor die gehoor wat die situasie besonder amusant vind. ”Besef jy nie hulle is besig om ‘n bespotting van jou te maak nie?”
”Ek sien ja …”
”En jy aanvaar dit maar ewe gelate?”
Hendrik antwoord nie. Cervantes skud sy kop en wys weer na die gehoor. ”Wat gee dié mense tog om vir die ideale van die ridderskap en die drome van ‘n ridder?”
Dan, in ‘n byna verblindende wit lig, kom die oorspronklike Don Quijote in volle gevegsmondering op sy perd Rocinante die paadjie tussen die rye toeskouers afgery. ‘n Paar tree agter hom volg Sancho op sy Donki. Dit is duidelik dat die gehoor hulle ook nie kan sien nie.
Cervantes wys na hulle. “Daardie twee het vir reg en geregtigheid baklei.”
Hendrik is skaam, verslae. “Ek weet …”
‘n Gefrustreerde Riaan staan ergerlik op. “Kom nou, Hennie! Kom sit hier op jou stoel, die tyd stap aan!”
Hy kry Hendrik ferm aan die skouers beet en probeer om hom terug na sy stoel forseer, maar Hendrik skop vas.
Jan-Karel en Geraldine staar oopmond na die gedoente op die TV-skerm.
Die orde in die ateljee is versteur. Die gehoor skuif rond, gesels hard ondermekaar en Riaan wend ‘n wanhopige poging aan om die situasie te red, ”Lyk my ons het ‘n effense tegniese probleempie met Hennie! Hou vas, ons is nou-nou terug!”
‘n Advertensie verskyn op die monitor. Jan-Karel verstik byna in sy wyn. ”Lyk my die ou fokker het toe wragtig uiteindelik geflip!”
Riaan wink die vloerbestuurder benoud nader. “Raak ontslae van die verdomde idioot!”
”Wat maak ek met hom?”
”Kry iemand om jou te help en sleep of trek of dra of hom vinnig hier af!”
Die vloerbestuurder draf van die verhoog af. Cervantes draai en wys na Riaan.
”Dis deur mense soos dié dat die wêreld in so ‘n ellendige toestand is. Jy moet kom help om dit reg te stel.”
”Hoe … hoe kan ek help?”
”Daar is griewe wat uit die weg geruim moet word en die kwaad en onreg wat deur die mensdom gepleeg is, moet reggestel word.”
Hendrik luister oopmond terwyl Cervantes voortborduur. “Onreg moet gewreek word, wanpraktyke moet gestaak word, en skulde moet vereffen word.”
“Wat wil jy hê moet ek doen?”
“Saal op jou perd en kom help.”
”Ek kan nie perdry nie …”
”Die perd is net by wyse van spreke, Hendrik.”
”My … my rug is nie meer wat dit moet wees nie …”
‘n Teleurgestelde Cervantes skud sy kop en kyk hom stip in die oë. “Ek sien jy’s maar nes al die ander. Net praat.”
Die vloerbestuurder is terug met ‘n reus van ‘n assistent. Hulle gryp Hendrik aan die arms en begin om hom uit sleep. ”Kom verdomp net, Meneer!” Hendrik rem verbete terug. “Asseblief, kom tog net!”
Weereens skud Cervantes skud sy kop. “Nou ja, dan gaan ek maar …”
Hendrik ruk los. “Nee! Wag!”
Maar dis te laat. Cervantes, Don Quijote op sy perd Rocinante en Sancho op sy Donki, verdwyn stadig voor sy oë. Hendrik gaan voor Riaan staan. Sy stem is angstig en dringend. “Ekskuus, maar ek móét gaan.”
“Om wat te gaan doen?”
“Ek moet ‘n perd gaan koop,” kom die antwoord ferm.
Riaan se kop skiet vorentoe. “’n Wát gaan koop?”
Riaan draai sy kop skuins om beter te kan hoor. ” ‘n Perd. En dan moet ek hulle gaan help.”
”Vir wíe? Vir wie moet jy gaan help?”
”Vir Don Quijote en Sancho … “
Riaan besef iets is verseker nie pluis met die man nie. Hy beduie vir die vloerbestuurder. “Dokter … kry ‘n dokter, gou!”
Die vloerbestuurder storm uit.
Word vervolg…