Ouens wat graag dobbel, sal ook ‘n geldjie op enigiets waag vir die adrenalien van ‘n weddenskap.
Selfs goed so ernstig soos beurtkrag of oormôre se verkiesing spring nie die dobbel-lus vry nie.
Dit klink baie sinies, maar beroepswedders bied selfs weddenskappe aan op hoe lank ons na stemdag sal moet wag vir beurtkrag om terug te keer.
As jy ‘n paar rand waag dat beurtkrag in minder as drie weke in die gedaante van Fase 2 of meer sal terugkeer, kan jy maar ‘n skamele 7c vir elke rand wen. Die boekies is so seker dat beurtkrag ‘n terugkeer sal maak dat hulle nie wil verloor nie.
In terme van die verkiesing self, is Cyril Ramaphosa die oorweldigende gunsteling om weer president te word (12c vir elke rand).
As jy die wedsyfers ontleed, kry jy ‘n goeie idee hoe hulle dink die partye gaan vaar:
Hulle meen Action SA sal tussen 2,5% en 5,99% van die stemme kry, die ANC tussen 40% en 45%, die DA tussen 20% en 22,45%, die EFF tussen 11% en 12,49% en MK tussen 7% en 8,99%.
Dit is aan die wedsyfers wat aangebied word egter baie duidelik dat hulle onseker is, wat nie ‘n verrassing is in hierdie onsekere verkiesing nie.
Die beroepswedders bied geen weddenskappe op onafhanklike kandidate nie. Dit verbaas niemand, want hierdie is die eerste verkiesing waarin onafhanklikes kan staan en enige voorspelling is ‘n wilde raaiskoot weens ‘n gebrek aan data.
- Die Waarheid stel vir geen oomblik voor dat lesers dobbel nie, maar enige siening oor die verkiesing is in hierdie stadium interessant.