Skip to main content

Sy is ‘n veteraan oor meer as vier dekades in die breë vermaaklikheidsbedryf maar lyk g’n dag ouer as die jeugdige Het van Verlangekraal en daarna die stuitige Yollie van Ouboet in Orkney snork nie. Wat om die beurt die volk laat snik en skater het. Maar aktrise/vervaardiger Sally Campher se kreatiewe gene rank geil. Sy is ook ervare styl- en mode- en grimeerkenner en gesinskepper wat haar huwelik, ma- en oumaskap en menswees ernstig bejeën. As ‘n Bloem-boorling wat by Affies in Pretoria gematrikuleer het, behaal sy haar dramagraad aan Tukkies. Sedert die 1980s woon en werk sy vanuit Johannesburg, deesdae ook uit eie keuse meer agter as voor die kamera. Sy het aan Sonnette Lombaard vertel hoe sy al haar balle in die lug hou.

Twee van die gewildste TV-reekse nog, het jou bekend gemaak. Tog weet jou landgenote min van jou. Vertel oor jou slypjare.

Ek is ‘n private siel. Ek gesels graag oor my werk en projekte, maar oor my privaat- en gesinslewe, is ek baie beskermend. Ek het my man, Pieter Esterhuizen, mede stigter van Westel, die vervaardigingsmaarskappy van Orkney snork nie, gedurende die verfilming van die reeks ontmoet. Ons het twee wonderlike kinders.

‘n Kreatiewe mens het meer as een uitlaatklep om passies uit te leef en dis wat ek doen. Ná my Artes-toekenning in 1985 vir Het Van Verlangekraal, het ek by die tydskrif Rooi Rose ingeval. Pas in die pos van moderedaktrise aangestel, kry ek toe die rol van Yollie in Orkney en kon met die goedheid van die destydse redakteur albei passies uitleef, solank ek my sperdatums sou haal. Dit was wonderlik bevredigend om dit wat jy visualiseer, stuk-vir-stuk bymekaar te sit en die eindresultaat voor jou oë op die rak te sien. Ek het ook 26 episodes van kykNET se modetydskrifprogramn Modemallemeule vervaardig, was stylis vir BMW se persvrystellings en katalogus en mode- en skoonheidsredakteur vir De Kat.

My grootste uitdaging en hoogtepunt in die vermaaklikheidsbedryf was die vervaardiging van die vollengte speelfilm Raaiselkind in 2016, ‘n hartsprojek gegrond op Annelie Botes se gelyknamige trefboek.

Wanneer het die toneelgogga gebyt?

Ek was nie 100% seker wat ek wou studeer nie; fisioterapie of modeontwerp. My suster het my oorreed om  die dramadepartement te besoek, want sy het gemeen dit pas goed by my … ek is soontoe en nooit weer daar weg nie.

Twee uiteenlopende TV-rolle in ‘n drama en komedie het jou gevestig. Jou voorkeur?

Komedie en drama het elkeen eie uitdagings en ek geniet albei genres. Wat Het meer laat uitstaan, is omdat ek in my 20’s die rol van ‘n 14-jarige moes speel. Die storie van Het het my reeds met die eerste deurlees aangegryp. Ek het besef dis ‘n unieke draaiboek en rol – nie iets elke dag oor jou pad nie.

Jy blink ook agter die kameras. Was dit ‘n doelbewuste besluit?

Ek het reg van die begin dit geniet om agter die kameras ook te werk. Met ouerword, raak dit meer uitdagend om woorde te memoriseer. Ek is baie hard op myself en het ‘n wonderlike tyd voor die kameras gehad, dat ek gemaklik daarmee is om myself daaragter te plaas. Ek glo jy is net so goed soos jou laaste produk, al weet die kyker nie wat agter die skerms gebeur het om die storie foutloos op die kassie te vertel nie. En ek wil myself nie verwyt dat ek my mede-akteurs en span in die steek gelaat het, of die kykers met my spel teleurstel nie.

Wil jy nog toneelspeel?

Self speel, nee, maar ek wil baie graag nog films en programme vervaardig. Dis net jammer ons het ‘n klein bedryf en beperkte afsetgebiede. Wanneer jy ‘n voorstel indien en dit val nie in die besluitnemers se smaak nie, is daar nie regtig alternatiewe afsetpunte nie.

Tuis is jy ma en vrou van Pieter, een helfte van die bekende Esterhuizen-broers. Lag en/of huil julle as familie ook saam?

Omdat ons almal saam werk, spandeer ons nie baie tyd as die Esterhuizen-familie saam nie, maar Pieter en Willie praat en sien mekaar daagliks. Ons as gesin is egter baie na aan mekaar en spandeer alle moontlike tye saam. Ons gesinstyd is altyd lekker met baie lag, maar ons huil ook maklik saam. Dis lekker om te weet ons is ‘n span wat mekaar se laste help dra. Ek glo aan: “Die krag van ‘n gesin, soos die krag van ‘n weermag, lê in sy lojaliteit.”

Vertel van jou kinders – hoe soort ma is jy en wat maak dit lekker?

Soos vir elke ma, is my gesin die plek waar ek die gelukkigste is. Jano (34) is getroud en pa van twee seuns uit sy vrou se vorige huwelik en ‘n 2 1/2jarige seuntjie van sy eie. Sanchia (33) en ons beplan hard aan haar troue in Desember. Beginsels en waardes is vir my baie belangrik en ek kan met trots sê dis eienskappe wat ons kinders het. Ek is streng en probeer om konsekwent te wees, maar ook ‘n gemaklike mens, tegemoetkomend en sal altyd erken as ek verkeerd is en verskoning vra. Dis ’n voorreg en lekker om ’n ma te kan wees! En om dan met ‘n kleinkind geseën te word, is die lekkerste en die liefde is onbeskryflik.

Jy is pas tuis ná ‘n besoek aan Oz?

Ek is alleen saam met my seun en sy gesin na Australië om hulle te help vestig in die Gold Coast. Dis ‘n wondergeleentheid oor hulle pad en wat die toekoms inhou, is nie in ons hande nie. Ons is gewoond daaraan om elke dag met mekaar te praat en hopelik sal dit voortduur, maar die gemis is definitief iets om aan gewoond te raak.

Beste lewensles/raad? Waarop is jy trots en wat maak leef die moeitewerd?

Gebed en geloof bring kalmte. My ouma het nooit van reëlings gepraat sonder om DV (Deo Volente – As Die Here Wil) te sê nie. Dis iets waaraan ek nog hard werk om deel van my daaglikse lewe te maak. Ek is op soveel dinge van ons as gesin trots, soos hoe ons saamstaan en mekaar ondersteun in ‘n krisis en ons deursettingsvermoë. Alles van die lewe is die moeite werd. Die terugslae is lewenslesse en bring realiteitskontrole – oorwinning is altyd soet.

Leave a Reply

error: Content is protected !!