Paul C Venter
Hulle praat onder die lamp in die slaapkamer van die Happy Valley General Dealer. Dis ook die winkel se stoorplek. Driekwartbed, tafel en hangkas word oorheers deur rakke vol blikkies kondensmelk, sakke meel, boontjies, mielies en suiker. Almal praat asof die slapende dorpie kan hoor.
“They tortured my husband,” fluister die swartoogvrou bang, “you can’t be here.”
Sakkie en Willy vermoed klaar dis moeder Maitu, die nurse van wie die man by die petrolstasie vertel het. Haar man, Happy Valley se general dealer, is eerder kwaad as bang, maar gee die polisieman en die sogenaamde reservis darem inligting. Hy vertel die gang leader Karimi slaap in sy vrou se nursing clinic. Sy moes ‘n bullet uit hom sny, daar is een murdering bastard wat hom oppas. Die ander is vort, soek al weer bloed, dammit.
“The gang trusts me.” Maitu is na aan trane. “You can’t be here, please. They tortured my husband.”
Willy belowe haar die police sal hulle beskerm. Sy en haar man kyk hom aan asof hy toegesluit moet word.
Sakkie wil weet of daar ‘n bruin man saam was.
Sy knik asof sy nee wil skree. “Some of them call him Nguchiro, some Achtung. As in German. He ran before Mutugi came back from the shop. Mutugi was going to kill him.”
Haar man verduidelik Mutugi is tydelik die gang leader. Hy het kom warm water haal vir die clinic en toe vat hy geld uit die till, seker vir nog crazy leaves, dammit. Hulle moet mos chew om brave boys te wees. Niemand het nou guns nie, net bush knives and stuff. Mutugi het gespog hulle gaan down the valley ‘n chomba chop.
“Like it’s a gift for their boss,” snork die general dealer.
Sakkie weet bush knives is kapmesse en chomba ‘n witmens.
“Do you know where Achtung went?” vra hy.
Maitu skuld ongeduldig kop. “I was working on the bullet. You must go now, please. They tortured my husband.”
Sakkie voel sy het dit al genoem.
Haar man glo Achtung kon net padlangs gevlug het, en wys wrang noord: die berg, dammit.
Niemand kan daardie kant toe nie, Achtung sou ook down the valley gegaan het. Dieselfde rigting as die bende op soek na bloed. Die rigting waaruit Sakkie en Willy gekom het.
“We came up the valley, didn’t actually see anyone,” maak Willy sy naam weer gat.
Die general dealer kyk hom moeg aan. Dammit, iemand wat run en drugged killers wat bloed soek sal nie out in the open wees nie.
“Do you know where down the valley? A farm?” vra Sakkie.
“Could be the petrol station, that Englishman tortured and killed two of their friends.”
Willy wil weet of hulle loop of ry. Die general dealer het nie ‘n motor car gehoor nie.
Sakkie beduie met die Purdey. “We should go, Constable.”
Die general dealer stamp die deur agter hulle toe, sluit dit. Maitu draai die lamp dood. Dis donker, maar met ‘n blou skynsel. Die dag kom nader.
Maitu praat Hindi, sy glo hierdie wit idiots gaan dood raak. Haar man stry nie, wonder net hoekom dit lyk of die reservis baas is.
Aggie stoei en klouter berg-af deur die sneeu, nogal rats in die blou nag. Hy het dit op los sandduine geleer. Die geweer klap teen sy skouer en Karimi se masjienpistool skuur teen die bandelier wat oor sy bors span.
Dis makliker teen die berg af as op, maar een verkeerde trap en hy breek sy nek, arms en ander beengoed. Sy bors hyg, hy kan die wolke van sy asem sien.
Die koffieplaas. Sakkie, Kleinhanna en Corrie. Hy wil nie verder dink nie.
Maar sy kop werk nie so nie, verdammt. Hy sien haar swart oë, hoe slim haar hand met die mes deur Karimi se bors sny. Sy bewe nie.
Maitu, Moeder. Hulle moes haar Engel genoem het. Wat is haar regte naam? Dit klink sweerlik so seermooi soos ‘n bekfluitjie by ‘n begrafnis.
Hulle drafstap verby die laaste hutte. Dis nog nag maar mense kan al te ver sien na Sakkie se sin. In sy ervaring is dit gewoonlik die verkeerde mense, en hier is baie hutte waar dit na aan opstaantyd raak.
Hy jaag Willy aan. “Pick up your feet.”
Willy mompel iets wat ’n vloekwoord kan wees.
‘n Reus van ‘n basterhond sluip agter ’n hut uit, sien hulle, wys geel tande, knor.
Willy raak besonder haastig. Sakkie ook. Hulle hardloop die bult af, spring oor rotse wat deur erosie oopgespoel is.
En hulle maak dit amper tot by die Landrover.
Johnny het Sersant Harry se koffie ook met ‘n eetlepel brandewyn geterg. Let’s be honest, twee lepels. Johnny glo dis soos Spitfire fuel wat jou engine in first gear skop. Hulle slaan die sterk koffie weg, staan van Johnny se kombuistafel af op. Sersant Harry wil nou by die gehuggie kom wat iemand sinies na fancy Happy Valley vernoem het, die peperduur speelplek van rykes en invloedrykes soos die Amerikaanse skrywer Ernest Hemingway en sy bioskoopvriend Gary Cooper. Twee konstabels en twee reserviste wag gewapen in Sersant Harry se Landrover.
Johnny vat sy haelgeweer; hy wil saamgaan. Hy het laasnag al sy ou army-jas, ‘n kakiehemp, ferweelbroek en stewels aangetrek. Hy is lus vir trouble.
Sersant Harry voel Johnny moet by die petrolstasie bly, net ingeval hy en sy manne nie vir Willy en Izak Vogel in Happy Valley kry nie. Miskien kom die twee weer hier verby, dan kan Johnny die bloody Boer voorkeer en gevange neem. Hy mag die bastard maar boei en met sy sterk boor ondervra, soos hy met die Mau-Mau’s gedoen het … net nie te veel gate nie, please, Vogel moet darem lewe as hy gehang word.
Johnny Spencer-Gaskill gooi sy rooi bleskop agteroor en lag oopmond.
Konstabel Willy is naby die Landrover, wil net die enjin se slinger uithaal, toe die groot basterhond teen die bult afstorm en begin blaf. As jy ‘n kort sarsie blaf kan noem.
Sakkie vlieg om en die spoed waarmee hy omvlieg en sy vry hand uitskiet, pas eerder by ‘n lenige atleet as by so ‘n groot, gespierde man. Sy hand sluit om die hond se bek voor hy ‘n tweede sarsie kan blaf.
Willy staar oopmond hoe Sakkie met dieselfde hand die reusagtige dier aan sy bek oplig en in die lug hou. Die hond is nie tevrede nie, probeer in die lug hardloop.
“Start the engine,” se Sakkie.
Die hond spartel, maak gesmoorde tjankgeluidjies. Geel kwyl loop uit sy bek en oor die hand wat sy swaar lyf in die lug hou. Sakkie se gespanne boarmspier wys hóé swaar, en hy staan wydsbeen om nie deur die gespartel omgeruk te word nie, maar verder lyk dit nie of hy hom oorwerk nie.
Willy gryp angstig die slinger, kry die Landrover in rekordtyd aan die gang, spring agter die stuurwiel in. En toe dit tref hom: Sakkie staan ‘n entjie weg met die hond, hy kan wegjaag en die Boer net hier los.
Sakkie se oë wys hy besef dit ook. Sy ander hand rig die Purdey op Willy.
“I’m waiting for you,” keer Willy hees.
“Of course,” se Sakkie wrang.
Hy loop vinnig om die Landrover. Willy leun oor en stamp die deur vir hom oop. Sakkie klim in, hou die dansende hond buite in die lug. Hy stel voor Willy ry.
Willy trek vinnig weg en Sakkie maak sy hand oop. Die hond val met ‘n tjank in die stof. Die Landrover is op die pad suid voor die hond aan die vloek gaan en die armes van Happy Valley begin wakker maak.
Kerwin eet al ontbyt toe Becky die Stanley se eetkamer inkom. Daar is nog net ‘n paar gaste en hotelpersoneel wat wag om nader gewink te word. Haar uniform lyk gewas en gestryk, sit pragtig aan haar. Hy moes sy uniform laasnag onder die matras strek, ‘n trick uit sy jong dae. Becky salueer nie, pet onder die arm, maar sy kom staan op aandag langs die tafel.
“I spoke to the General on radio, Sir. He sends his regards.” Koel en kalm, maar die geel hare krul parmantig en dit lyk of sy lipstiffie aangesit het. Net-net rooi, sy oordoen nie goed nie.
“Thank you, Lieutenant,” probeer hy ook kalm wees.
“May I join you, Sir?”
“You may indeed.”
Sy sit oorkant hom aan, die pet op haar skoot. “Ek wil net Afrikaans praat, as u nie omgee nie.”
“Asseblief, ek het nogal ‘n slag met die Boeretaal.”
Sy gee nie die glimlag waarop hy gehoop het nie. “Ek het die Generaal verwittig ons is op pad. Ons sal moet wag, hy is nog op die moordtoneel saam met sersant Harry.”
“Die polisieman wat Izak Vogel gevang het.”
Sy knik. “Ons kan uitry soontoe, maar dinge lyk glo lelik in die petrolstasie. Ek stel voor ons wag by die Generaal se tydelike basis.”
“Ek aanvaar graag jou voorstel. Bestel iets, eet. Jy lyk maer.”
Sy wil glimlag. “Dankie vir die kompliment.”
“Het jy ‘n ekstra uniform? Jy lyk so vars soos ‘n lelie.”
“Nee, die hotel was en stryk oornag. Gratis.”
Kerwin se gesig laat haar saggies lag. Sy het ‘n slaapkamerlag.
Dit gebeur so onverwags Kerwin moet sy vurk neersit.
En dis so gou weer weg hy wonder of dit regtig gebeur het.
Becky frons. “Kaptein? Moet ek die kelner roep?”
“Nee, nee, ek dink sommer net.”
“Are you sure?”
“Yes.”
Kerwin is nie van plan om haar ooit te vertel waaraan hy so skielik gedink het nie.
Hulle wag vir Kaatjie se tas en Nairobi se lughawe is vol soldate. Dit laat haar aan Kaapstadstasie in die veertigs dink, toe die Ossewabrandwag en Jan Smuts se regering oor die oorlog teen die Duitsers oorlog gemaak het. Haar familie en Sloet Steenkamp se familie was Ossewabrandwag, James Kerwin was natuurlik vir Jan Smuts. Haar ma sou Adolf Hitler bed toe vat as sy kon. Dit was nie ‘n mooi tyd nie.
“So baie uniforms … was daar weer ‘n aanval?” vra sy.
PJ Buys knik. “Dagbreek vanmôre by ‘n petrolstasie in die Happy Valley-distrik. Mau-Mau het die keer verloor. Polisie en reserviste was te gou daar. Maar twee reserviste is ook dood, een glo ‘n Boerseun. Soos altyd is die Kakies maar stil met name.”
“Pa weet nogal baie.”
“Oom James het ‘n adjudant wat hom rondry, sy bly ook in ons hotel. Daar’s ‘n radio in haar Landrover.”
“Hoe gaan dit met tant Maggie? Sy’t moeg geklink op die foon.”
“Fluit soos ‘n ketel,” antwoord haar pa.
“Wie’t haar kwaad gemaak?”
“Oom Sloet. En ek, ligweg.”
“Pa, verdammt, wat het julle gedoen?”
Hy grinnik verleë. “Onthou net sy’t heelpad lughawe toe nie met my gepraat nie. Dit vat twee om ‘n graf te grawe.”
Kaatjie se tas kom. Hy dra dit. Hulle loop die warm oggend in, stap oor ‘n stofstraat na die karstaanplek en reguit na ‘n ontsaglike, blink gedierte waarin tant Maggie agter die stuurwiel sit.
Kaatjie steek vas. “Verflucht, was fur ein wagen…?”
PJ Buys probeer onthou. “Ek vermoed iets uit die katfamilie. Tiger?”
“Jaguar.” Maggie glimlag wrang. “Ja, jy mog maar lag, ek weet hy’s net soos my skip wat by Kerwin se cottage staan en roes. Hoe was die vlieg?”
“Nie ‘n oog toegemaak nie. Waar’s oom Sloet?”
Maggie se mond raak styf. “Weet nie, ek hoop net hy bly daar.”
Sloet verwag die oproep, maar die foon lui so hard sy ore tuit. Hy draai stadig op die bed om. Hy dra die nagklere wat Maggie vir hom gekoop het; sy rug is te seer vir opstaan. Hy kom darem die foon by.
‘n Engelse vrou vra of hy die hooflynoproep aanvaar. Of course, brom hy, dis hy wat die oproep bespreek het en dit was ‘n eeu gelede.
‘n Ander vrou praat in sy oor. Sy klink nog aan die slaap. Hy herken haar strem.
“Goeie môre,” groet hy. “Kan jy my hoor, Anke?”
“Jawohl, Sloet Steenkamp,” grom Kaatjie se ma in Beaufort-wes, “ek is nog nie doof nie.”
WORD VERVOLG