Skip to main content

Minder as ‘n week voordat Suid-Afrikaners stembus toe gaan, is ‘n gevoel van onsekerheid die kenmerk van vanjaar se verkiesings.

Na raming is een derde van alle kiesers nog onseker agter watter party hulle hul kruisies wil trek.

Dit kan duidelik gesien word uit peilings waar die steun vir partye soos die ANC, die EFF, MK en die DA wipplank ry.

Oor die afgelope dae het die ANC sy stem begin dikmaak en verlore grond begin terugwen, in ‘n mate danksy hulle geoliede verkiesingsmasjienerie en die Nasionale Gesondheidswet wat verlede week deur Pres. Cyril Ramaphosa geteken is.

Die heersende party se steun is ‘n paar dae gelede op 45% geraam, maar het intussen tot sowat 43% teruggesak. Die party het in die laaste ses verkiesings geen moeite gehad om ‘n volstrekte meerderheid te verseker nie, maar dit lyk of dit vanjaar anders gaan wees.

Die geweldige druk waaronder die party verkeer, kon gister by ‘n politieke dialoog in die Johannesburgse Teater duidelik gesien word. Die party se spreker is luidkeels uitgejou en ‘n groot groep lede van die ANC-jeugliga is later per bus ingery om die gesprek te ontwrig.

Dit is veelseggend, veral omdat die party van Nelson Mandela in die negentigs nooit tot so ‘n vlak sou daal nie. Beteken dit dat die ANC voel hy is met die rug teen die muur? En voorspel dit moontlike intimidasie en dalk selfs geweld?

Oudpresident Jacob Zuma se MK-party is stert in die lug.

Volgens ‘n daaglikse peiling van die Social Research Foundation het die nuwe party se steun reeds die van die EFF verbygesteek en is die party steeds in ‘n opwaartse kurwe.

Waar daar aan die begin van die jaar verwag is dat die EFF tot soveel as 19% van die stemme kan kry, toon die SRF se navorsing steunsyfers van 10% of laer. MK het daarvolgens reeds 13% steun en dit styg by die dag.

Die stempersentasie speel ‘n groot rol en projeksies wys dat ‘n groter stempersentasie MK bo die EFF kan bevorder.

Meer kiesers wat besluit om nie van die stembus af weg te bly nie, kan egter die DA benadeel. Volgens die SRF se peilings kan ‘n 66% opkoms beteken dat sowat 23 persent van die kiesers hulle kruisie langs die DA kan trek. As die stempersentasie tot 56% daal, kan die DA meer as 25% van die stemme kry.

Wat interessant is, is dat die SRF se nuutste peilings ‘n gemaklike volstrekte sege in die Wes-Kaap vir die DA aantoon. Tot onlangs toe nog is daar bespiegel dat die DA dalk ‘n koalisievennoot nodig kan kry om die provinsie te regeer.

‘n Ander provinsie waar die SRF-syfers die wenkbroue laat lig, is KwaZulu-Natal. MK loop met sowat 33% teenoor die ANC se 26% voor. Dit beteken dat MK die provinsie na Woensdag se stemdag kan regeer in koalisie met die IVP.

Die SRF se syfers werp nie veel lig op kleiner partye wat die aandag begin trek soos Bossa, Rise Mzanzi, die Patriotic Alliance of SARA nie, maar in ‘n verkiesing soos hierdie een, waar daar geskarrel kan word om enige moontlike koalisievennoot te kry, kan hierdie partytjies in ‘n magsposisie sit as onderhandelings begin.

Veral partye soos Herman Mashaba se Action SA kan die figuurlike kingmakers wees as die groot kanonne met die hoed in die hand staan, maar as goed so naby is soos ons vermoed, kan elke setel goud werd wees.

Dit lyk nie of die SRF na onafhanklike kandidate gekyk het nie, maar die algemene gevoel is dat geen onafhanklike Woensdag op die oranje streekstembrief kan hond haaraf maak nie, met enkele uitsonderings, soos Louis Liebenberg, wat in die Vrystaat en Gauteng staan.

Die IEC se teikens vir ‘n parlementêre setel lyk byna onmoontlik hoog en die stelsel is swaar gelaai in die guns van politieke partye. Partye gaan sowat 40 000 stemme nodig hê om ‘n kandidaat in die parlement te sit, terwyl onafhanklikes minstens 70 000 stemme nodig het.

Leave a Reply

error: Content is protected !!