Sonnette Lombaard
Dit klink en lyk soos iets uit die vorige eeu rondom die Tweede Wêreldoorlog-era toe Europeërs, ook vroue oral op fietse gery en so ook kos karwei het.
Ver van die Europese vasteland, trap ‘n blonde millenniumeva ook daagliks haar dikwiel-bergfiets – dis immers Afrika-kontrei én die 21ste eeu. Op haar saal swaai sy deur Johannesburg se noordelike woongebiede om self haar in-aanvraag-Poolse-lekkertes tuis by kliënte af te lewer.
Kasia Wysoczarska se blink oorleefplanne ná grendeltydperk werp aptytlike vrugte af! Sy is fiks en lyk als behalwe haar 61 jare op Aarde. En wyl haar speke sing, jubel haar hart saam. Hoe anders? Haar lewensvreugdes wentel om mense – om hulle te help en gelukkig te sien, kry haar in die hoogste geluksrat. En dis presies wat haar eg Poolse treffers uit haar tuiskombuis doen.
Kasia se kosdroom het dalk eers laat vlerke gegroei maar haar wêreldbekende, tradisionele Poolse disse vanaf die gewilde pierogi (geurig-gevulde kluitjies) tot sauerkraut en suurdeegbrood wen Suid-Afrikaanse lekkerbekke landwyd oor.
Kasia se idee om haar Poolse kos na mense te neem, het in ‘n taai tyd ná die Covid-grendeltyd gestalte gekry. Bly jy te ver vir tuisaflewering, spring sy in haar motor of nog beter, kan jy die disse op haar tuisstoep in Randpark Uitbr. 4 gaan geniet.
Kasia en manlief Edward en hul twee jong spruite het bykans drie dekades gelede “toevallig” in Suid-Afrika beland. In 1996 was Pole nog onder Kommunistiese beheer met min vooruitsigte vir ‘n jong gesin.
Met vriende se hulp, wou die Wysoczarskas na Kanada emigreer. Onderweg sou hulle eers vir ‘n ruk in Suid-Afrika vertoef. Toe raak hulle halsoorkop verlief op ons sonskynland en sy mense en wou nog nooit weer groet nie.
Die egpaar het ‘n drankwinkel in Windsor, Randburg, gekoop en vir 20 jaar bestuur. Tydens ‘n besoek aan Pole in 2016 het dinge skeefgeloop en met hulle tuiskoms verloor hulle die winkel en hul inkomste.
Edward het ‘n pos in die korporatiewe wêreld aanvaar en Kasia het in ‘n Sandtonse boetiek begin werk. Ná die pandemie was haar toekoms daar onseker en sy het gewis nuwe oorleefplanne is broodnodig.
Kasia heil uit ‘n dorpie Litzbark in die noorde van Pole. As middelste van drie dogters het haar ma hulle die kunsies van tradisionele Poolse disse geleer. Kasia moes dikwels kook. Sy het toe al daarvan gehou en geweet dat saam ‘n broodjie breek goeie tye skep én met geurige kos daarby word bande blitsig geweef.
Hier in verre Afrika het sy self ook haar opgroeijare se Poolse stapellekkertes erg gemis (voor suurdeegbrood hier ook die in-ding geword het).
Dit het haar kosdroom gestu en sy sou so ook die plaaslike Poolse gemeenskap in Johannesburg en Pretoria kon betrek en beter leer ken. “In ‘n stadium was ons 20 000 Pole in Suid-Afrika,” vertel sy.
Volgens Kasia tel haar herkoms en nasionaliteit punte, want nie skaam-vir-hard-werk en kreatief omgaan met die lewe, is onlosmaaklik deel van die meeste Pole se gene.
Kasia’s Kitchen is gebore en sy het begin deur een maal per week haar tuisstoep neffens die Randpark Gholfklub oop te gooi. Mense kan daar aansit en aan haar Poolse kosse smul. Haar ma het toe sy nog geleef het, saam met haar susters nog resepte uit Pole aangestuur en sy kon woeker
Benewens vars disse, eksperimenteer Kasia veral met gefermenteerde kosse, soos ingelegde sauerkraut. Gefermenteerde voedsel beleef tans wêreldwyd ‘n opflikkering oor die gesondheidvoordele daarvan. Dis wanneer kos of drank deur beheerde mikrobiese groei en met ensieme verwerk word, soos joghurt.
Haar gefermenteerde produkte is inderdaad al gewilder, lag Kasia. Sy pos gereeld bestellings tot sover as Kaapstad en Durban. Die Poolse ambassade in Pretoria is ook ‘n gereelde kliënt.
Toe dit duidelik word Suid-Afrikaners hou van die Poolse cuisine uit haar stal, het Kasia haar tuiskombuis vergroot om in die groter aanvraag te bly voorsien.
Terselfdertyd het die stygende petrolprys haar kop weer in die hoogste rat gesit. Sedert kleintyd ‘n fietsryer, besluit sy om haar bergfiets in te span om haar kosbesigheid te help. Maak die bestelling dit moontlik, saal sy op en laat waai na kliënte in haar omgewing.
Die vriendelike en talentvolle immigrant straal positiwiteit en is sy die toonbeeld van ‘n brugbouer in ons Suiderland. Haar Poolse familie en selfs skooltyd-vriende kom kuier so gereeld moontlik.
Met haar kinders, Patrick (35) en Anna (33), uit die huis, hoop Kasia om so te bly groei dat sy eindelik werkers in diens sal kan neem.
“Ek bly lief vir my medemens en almal groei self wanneer hulle ander ophelp.” En sy is baie trots op haarself. “Dit wys weer: ‘n mens moet nooit opgee nie – waar ‘n wil is …”
* Loer gerus op haar webwerf by https://kasiaskitchen.co.za/ of kontak Kasia by +27787473015.