Skip to main content

Jacques de Klerk

As jy in dié straat loop moet jy ál jou sintuie inspan. Dit is eers die imposante standbeelde van twee mitiese leeus wat jou oog vang. Hulle hou waak oor die poorte van dié straat met sy menige winkels, stalletjies en restaurante. Elke geboutjie versier met rooi Chinese lanterns. Dit is ’n geroesemoes in dié straat waar mense hulle inkopies kom doen of saam vriende kom sit om te smul aan egte Asiatiese disse.

Dan tref die reuke jou. Skerp, heilsame reuke wat jou laat terugverlang na ’n plek of ’n persoon wat jy nie eens ken nie. Gemmer? Anys? Brandrissie? Nee, so maklik is dit nie om die geure en smake van die Ooste te peil nie.

Maar, hokaai! Voordat jy genoop voel om ’n vliegtuigkaartjie na die Ooste te koop, klim eerder in jou kar en mik sy neus na die Ooste van Johannesburg. Meer spesifiek, Cyrildene, of soos die plaaslike mense na dit verwys: China Town.

Ja, jy hoef nie eens landsgrense te oorskry om ’n outentieke ervaring van China, Thailand of Vietnam te ervaar nie.

Die eerste ding wat jou opval in Derricklaan, waar dié dorpie in die kleine geleë is, is die padtekens wat vir die naakte Suid-Afrikaanse oog geen waarde het nie, aangesien meeste van hulle in mandaryn is, maar jy hoef jou nie hier veel aan dit te steur nie. Vind ’n parkeerplek en verken die nagenoeg drie blokke van winkeltjies waar jou uitheemse palet kan smul aan enigiets van Chinese borreltee, vars produkte soos bok choy, oestersampioene en selfs vars vis.

Hier is verskeie vis-en vleismarkte waar jy teen ’n winskopie vir jou garnale, kreef of varkpens kan koop.

Voor hierdie kommersiële straat bekend begin staan het as China Town, was dit hoofsaaklik ’n Joodse gemeenskap, waar blommewinkels, haarkapsters, kitskosrestaurante en kruidenierswinkels hulself gevestig het.

Die oorspronklike China Town was altyd aan die onderpunt van Commisionerstraat, duskant destydse John Vorster plein.

Chinese het destyds Suid-Afrika toe getrek as migrasiewerkers, maar weens die Nasionale Party se streng apartheidswette, was hulle nie toegelaat om op die myne te werk nie. Meeste van hulle het hulself hier in die stadskom gevestig.

Oor die dekades heen het groepe Chinese van regoor China en Taiwan na Suid-Afrika gemigreer. Deur die jare is hulle in drie groepe geklassifiseer; Chinese Suid-Afrikaners (plaaslike Chinese), Taiwanese en Chinese van die vasteland van China.

Derricklaan in Cyrildene bestaan hoofsaaklik uit Chinese wie oorspronklik van die vasteland afkomstig is. Meeste van hulle is van die Fujian provinsie.

Cyrildene se Chinese gemeenskap het in die laat 90’s hulself hier kom vestig nadat die Joodse, Portugese en Griekse gemeenskappe ná die val van apartheid die area verlaat het.

Aan die onderpunt van dié straat sal jy die beroemde Thaise restaurant Sai Thai, aantref. Vra jy enige smulpaap in Johannesburg oor dié baken in die kleurvolle distrik van Cyrildene, sal almal vir jou sê dat dit die nie-amptelike titel van die beste Thaise restaurant in Jozi dra. Smul hier aan egte Pad Thai of probeer hulle soet en suur seekossop, Tom Yum.

In Cyrildene kan taal egter problematies wees. Meeste van die inwoners en winkeleienaars van dié buurt verstaan weinig Engels, om nie eens te praat van Afrikaans nie.

Daar is egter een inwoner hier, wat trots Afrikaans praat.

Lawrence Law sit voor een van die kruidenierswarewinkels en rook ’n sigaret. Die rook van die sigaret dryf lui na bo op hierdie windstil middag.

“My ma was ’n boer en my pa het van China gekom. My pa se familie het ’n winkel in Pretoria oopgemaak en die twee het mekaar daar ontmoet,” verduidelik hy.

Lawrence het vir 38 jaar in die kosbedryf gewerk.

“Ek het vir verskeie restaurante gewerk. Ons Chinese is baie ingestel op ons kos. As Chinese saam om ’n tafel eet dan deel almal hulle kos. Die lewe is te kort om vervelig te eet en jy wil immers jou kos ervaar.”

Hy is vir die laaste agt jaar hier in Cyrildene en ’n bestuurder van hierdie winkel.

Oorkant Lawrence se winkel kry jy die Mangkok Chinese restaurant waar jy Chinese soppe soos hulle soet-en-suur sop en hoender en noedel sop kan bestel.

Ons sluk ’n paar dim sum bolletjies saam met ’n Tsingtao bier af. Dis China se bekendste uitvoer-bier wat van mineraalwater vanuit die Laoshan gebergtes gemaak word.

Maar, dié gemeenskap was nie altyd in vrede gelaat nie en tydens die pandemie het hulle voete verloor weens die stigma rondom die coronavirus en die feit dat die virus van China afkomstig was.

Zhang Li, een van die winkeleienaars, sê hulle steier steeds weens die gewraakte pandemie.

“Ons het veral in 2020 baie besigheid verloor omdat mense gedink het hulle gaan siek word as hulle in kontak met ons kom. Baie winkels het toegemaak en ons sukkel nou nog om te herstel.”

Verlaat jy die kenmerkende pilare met die leeus aan weerskante, is dit binne sekondes of jy besef jy is weer in die Goudstad met sy druk verkeer, spoedvarke en kitskosrestaurante, maar dan besef jy gou daar is ’n maklike ontsnappingsroete na die Ooste en vir dit het jy nie eens ’n paspoort nodig nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!